Archive for October, 2008

Gie gie

Bruid arriveer mooi op tyd by die kerk, maar word voorgekeer. Ons wag net gou vir die orrelis. So glip sy en bruidsmeisie gou om die hoek om ‘n sigaret te rook langs die kerk. Daar vind hulle ‘n bankie teen die kerk muur en gaan sit.

Gou gou is die twee aan die skinder. Wonder wat my skoonma gaan aahnhê – seker weer een van haar broekpakke. Het sy ooit ‘n rok in haar kas. Arme skoonpa, voel seker of hy ‘n man getrou het. Gie gie giggel die twee.

Hoop nie gompie word so dik soos sy pa nie. Gie gie. Neef Gert moet tog seblief net nugter bly – vader weet wat suip hy deesdae so. Seker daai vrou van hom – het glo ses maande laas aan hom geraak en dit was ‘n verbyskuur by ‘n braai. Gie gie.

Man maar die g-string sny my vandag nog middeldeur. Trek uit, niemand sal weet nie. Nou help gou. Skuifel skuifel. Gooi sommer innie tuin. Gie gie gie.

Die laaste wat die gemeente hoor  waar hulle sprakeloos in die kerk sit en luister na die twee wat onwetend onder die oop venster sit, is: O fok! Hoe sê Ma? 

Gie gie!

Soveel bruide soveel sirkus


Rot!

Die klein kerkie was oud, klam en donker. Stil deur die week met baie gaaitjies en hoekies, so rot se kind het sy intrek geneem. Mevrou rot kort op sy hakke en die res was geskiedenis. Rotspruite loer by elke denkbare plek uit, hardloop op die plaffonne rond en gly in die orrelpype af vir pret.

Katte is snags in die kerk toegesluit voor troues, begrafinisse en regtige spesiale dienste – andersins is gemeente gewoond aan die geskarrel onder die woord. Bruid het haar voet neergesit – almal weet die kat ding werk nie regtig nie en as sy in daai kerk trou, moet rot familie uit wees voor sy instap.

So daag gompie en sy pa ‘n paar dae voor die troue op en na ‘n kort verduidelikking aan die koster, is daar konsensus bereik. Rotgif, geborg deur gompie, sal uitgesit word vandag. Stadig, soos op die maat van Wagner, beweeg die drie deur die kerk en laat klein pieringtjies vol pienk pilletjies agter.

Party van die ouer inwoners van die kerk is mense al so gewoond dat hulle sommer dadelik begin vreet as die piering grondvat. Stil stap die drie uit en trek die deur agter hulle toe op die nag van vloek wat voorlê vir al wat ‘n geborene van die rot geslagte is.

Hulle sê die koster het twee sakke vol rotte opgetel in die dae wat volg tot daar ‘n bose stilte in sy kerk neergedaal het vir die eerste keer in jare. Sela rotfamilie.

Saterdag stap bruid met blink oë in die paaidjie af, maar met elke tree verdof haar blik en pas dit aan by die half verwarde oë van die gemeente. Almal probeer hul beste om nie te kots nie, want in daai kerk hang ‘n vrot rot stank wat tot vandag toe nog deurslaan op reëndae.

Hoe salig ry ons booitjie

Soel somersdag, groen bome en ‘n kabbelende stroom. Die laatmiddag hitte gee skiet en die kalmte en rustigheid van die rivier spoel oor almal. Hierdie troue by ‘n spoghuis aan die oewers van die Vaal, is die tipe troue waaroor mens net kan droom.

Die seremonie word onder die klein dakkie langs die vasmeerplek aan die rivier gehou. Stoele is uitgepak op die lowergroen grasperk wat oploop tot by die huis. Daar staan ‘n reuse markiestent gereed met elke tafel perfek gedek met dekstokke.

Tannies kom brom brom oor die gras met hul hakkies wat heeltyd wegsink. Kinders hardloop rond en daar is ‘n gemoedelike atmosfeer. Bruid en gompie kom per motorboot aan. Albei saam. Die twee sit en wuif soos royalty.

Boot trek nader na kant toe en iemand gryp die tou wat uitgegooi word. Half verbaas oor sy nuwe taak, draai die man die tou ‘n paar keer om die ysterpen wat vir hom uitgewys word. Gompie wip ligvoets op die wal, maar bruid is nie so seker van haarself nie. Sy staan regop in die boot en probeer haar balans hou.

Gompie paai en sit sy een voet op die boot. Bruid tree tot op die rand en op daai oomblik skiet die tou wat net so efeens omgedraai was los. In ‘n verwoede bol tulle en kant tuimel bruid en gompie tussen die boot en die jetti in die water in. Doodse stilte.

Bruid se kop kom eerste op en voor sy die slyk van haar gesig afvee, het sy reeds ses paragrawe vol gebitch. Gompie kom op en lag so dat hy verstik. Bedremmeld en nat word bruid weer in die motorboot gelaai, gompie agterna en daar gaat die twee. Nogsteeds doodse stilte.

So ‘n uur later kom die twee met ‘n kar aangery. Sy het ‘n somersrokkie aan en hy sy jeans en ‘n t-hemp. Al klere wat hulle kon kry uit die honeymoon tasse. So trou die twee laggend en uiters casual terwyl die omies brom brom aan hul stywe dasse rem.

Gompie vergaap hom

Gompies is maar altyd half randeiers by hul eie troues. Solank hy daar is, verlief lyk en ja sê, is die troue ‘n sukses. Party gompies is egter nie geneë met agteros speel nie en wag gewoonlik tot op die laaste voor hulle hul ware gevoelens wys.

Troue was klein en uiters modern. Niks van troumars, onthaal of selfs troubeloftes nie. Meeste gaste volg troue dan ook op hul rekenaars via die klein webcams wat oral in die vertrek aangebring is. Ek is aangesê om glad nie my flits te gebruik nie, want dit ontstel die webcast.

So kry ek vir gompie buite voor bruid aankom. Hy teug behaaglik aan sy sigaret en mompel iets van skelm rook by sy eie troue. Hy lyk effens verskrik en skoon uit plek uit. Ek wonder of hy weet wat bruid aanhet, maar besluit om liefs my bek te hou – die ou lyk al klaar verrinneweerd.

Die fluitspeler kom die paadjie afgestap na die groot stoep waar die troue plaasvind. Hy speel Ierse musiek. Agter hom kom die bruid se hele familie hand aan hand aangestap en agter hulle gompie se mense. Dis nogal oulik dink ek. Agter die familie stap die priester in ‘n pragtige diep pers toga.

Op priester se hakke kom klein blomme meise wat blinkers strooi vir bruid wat op haar eie heel agter stap. Gompie staan voor en bekyk die aankoms. Maar toe hy vir bruid sien, kry selfs ek hom jammer.

Bruid het ‘n peppermint groen broekpak aan. Rondom haar heupe is ‘n los sleep gebind wat agter haar aansleep – ok groen. Op haar kop sit ‘n groen pluiskuil effens skuins na die kant toe en oor haar gesig is ‘n net gespan met fyn sterrietjies op.

Vir gompie maak sy mintgroen hempie nou skielik sin en al probeer hy ook hoe hard, sy gesig wys sy afkeur. Bruid kom tot stilstand langs hom. Die ou lyk maar afgehaal en sy fluister iets vir hom. Hy fluister terug. Die spiertjie wat in haar wang begin spring vertel van een wat op haar tanne kners.

Troue het goed afgeloop. Gompie het begin ontspan en alles was binne twee ure verby. Later, terwyl ek en gompie buite ‘n sigaret deel, kan ek nie meer hou nie. Wat het hy vir haar gesê wat haar so snaarstyf laat staan het? Gompie mompel iets van groente, aspersie tipe van indruk wat bruid gemaak het, sug swaar en druk sigaret dood.

Gompie draai om

Tydens my tydperk as fotograaf het drie bruide en een gompie al voor die kansel omgedraai. Hierdie is die storie van gompie.

Met ons eerste ontmoeting het ek opgelet dat gompie uiters aantreklik is en daarby ‘n ongelooflike persoonlikheid het. Een van daai mans wat alle vroue begeer, wat ander mans as vriend wil hê en waaroor gay ouens heeltemaal die kluts kwyt raak. Gompie se maniere was perfek en hy het sy bruid hanteer soos ‘n prinses.

In sy oë kon almal sien hoe lief hy vir bruid was. Geen ander vrou het bestaan vir hom nie. Bruid was ‘n ander storie. Self ‘n mooi mens, het die groen monster agter haar glimlag geskuil. Ek kondadelik sien sy vertrou nie vir gompie nie. As hy opstaan en koffie gaan bestel, vergeet sy heeltemaal van my en volg sy elke beweging. Met sy terugkoms is sy effens nors tot hy haar nek soen en iets in haar oor fluister. Die speletjie word elke kort kort herhaal in die tye wat ek met hulle deel.

Troudag breek aan. Meeste pare doen hul troufotos na die seremonie, maar hierdie twee doen dit voor die tyd. Ons werk op Blouberg se strand op ‘n perfekte somersoggend. Gompie speel met sy bruid op die strand – uitgelate soos kinders hardloop hulle in die vlak water, koer saam op ‘n rots en sit styf teenmekaar op ‘n duin. Die fotos is perfek. Ek wag vir die nors soen my in die nek oomblik en sowaar, daar kom hy.

Twee meisies stap verby – hulle gee geen aandag aan ons nie, maar bruid versuur soos suurmelk as gompie na hulle kyk. Nors stoot sy hom effens weg. Getrou aan sy opleidng soen hy haar in die nek en fluister sy towerwoorde, maar bruid bly suur. Ek stap weg sodat die twee hulle sake kan uitsorteer. Van vêr af sien ek hoe hulle argument momentum begin opbou.

Meteens hou gompie sy hand uit en bruid haal haar ring af en gee vir hom. Ewe galant help hy haar op en stap hulle aan troukar toe. Mooi so, dink ek, probleem opgelos, maar toe ek by troukar kom, sien ek bruid is witter as haar rok. Gompie laai haar versigtig in die kar, maak die deur toe en klop op die kattebak. Daar gaan bruid.

Kan ek ‘n lift kry, vra gompie. Seker sê ek, kerk toe? Nee sê hy, kroeg toe. Ek wil ‘n dop gaan drink op my vryheid wat ek so amper gegee het vir ‘n jaloerse vrou.

Wie is die gompies?

Kom ons kyk wie kan al die gompies uitken.

Bruid brein


Vertel ons bietjie wat in jou kop aangegaan het op jou troudag.

11 000

Baie dankie – 11 000 loerders!!!! My dag is gemaak.

Slaan jou gaste vir ‘n 6

Weg is die wit borde, glasies en blomme innie middel vir gaste tafels. Troues kos in elk geval soveel geld, jy kan maar net sowel dit ‘n aand maak om nooit te vergeet nie.

 

 

Poets

Jou gaste kan jou dag bepaal, veral as jy nie in beheer van die gastelys was nie. Maar die ergste is jou nabye vriende wat altyd een of ander gedagte het om pret te maak. Meestal lag almal lekker vir die poetse, maar soms ruk dit die hele troue tot in sy fondamente.

Vyf honderd gaste het almal opgedaag vir die troue. Bruid en gompie het ook soos gaste gevoel – dit gebeur as die twee ma’s kragte snoer en met die troue loop. Soos baie paartjies voor hulle, het die twee besluit om maar deur te druk en dan na die tyd met hul te vriende te kuier, maar vriende had ‘n ander plan.

In die middel van die onthaalsaal het ‘n formidabele sjampanje fontein gebruis. Werklik aanskoulik en heel funksioneel, stap gaste in, kry ‘n glas en maak dit vol by die fontein voor hulle gaan sit. So stap die ry in en laaste gompie en bruid. Met glasies in die hand, bly almal staan tot die egpaar by hul tafel kom, almal drink ‘n heildronk op ‘n heerlike aand en die partytjie begin.

Een vriend het dit egter goed gedink om liquid ecstacy, ‘n uiters potente dwelm, by die fontein te gooi. In sy verwronge gedagtes het almal lekker gechill en vol warmte en liefde troue gehou. Wat egter gebeur het was glad nie wat hy verwag het nie.

Ecstacy neem ongeveer 45 minute om in te skop en die eerste gevoel wat mens ervaar is ‘n skielike opbruising van energie, gevolg deur ‘n gevoel van warmte en welbehae. (Moenie vra hoe ek dit weet nie hehehehe). Maar dan weet jy jy het die dwelm geneem. As jy onbewus is, is die simptome uiters vreemd en meestal skrikwekkend. Paniek is nooit vêr nie.

Wat vir my baie vreemd was is die feit dat meeste mense heeltemaal ongeaffekteerd was, maar die wat wel bedwelmd was, was erg bedwelm. Dit het begin met ‘n vrou wat gedink het sy kry ‘n hartaanval. Haar kreune en angsgille het ander mense se senuwees laat ingee. Binne ‘n kort tydjie was daar chaos met mense wat opgooi, huil, uit hulle stoele val en op die vloer lê en huil. Hier en daar het ‘n paar histeries aan die giggel gegaan.

Die ongeaffekteerde gaste was erg onrustig en die woord voedselvergiftiging het begin sirkuleer. Bruid en gompie was ook sonder simptome, maar erg ontstel. Bruid se ma was gewoond aan hot flushes en het die hele tyd voor ‘n waaier loop staan. Dokters is gevra om te help, ambulanse is ontbied en binne een uur was die hele troue ‘n gesig uit ‘n Amerikaanse film.

Vriend moes maar bieg sodat dokters weet wat aan die gang was. Humor het nie gehelp nie en hy is gearresteer. Troue was verby en vir baie maande daarna het dit nie goed gegaan met vriend, gompie (wie se vriend dit was nie) mense wat klagtes ingedien het, hofsake en sommer net algehele ongelukkigheid – en dit oor ‘n poets wat regtig onvanpas was.

En nee, ek het nie sjampanje gedrink nie – fotograwe weet dit is nie hulle plek om te eet en drink nie. Damn!

Inskrywing – Bruid van alle dekades

Ons troudag was op die 27ste September 2008 gewees.  Dit was verseker ‘n dag om te onthou!

Dit was absoluut 5 jaar se wag die moeite werd!  Die dag waaroor ek solank gedroom het, het uiteindelik ‘n realiteit geword.  Ons is deur ‘n brand met ons 1ste onthaal saal, spanning van als oor koop en nog meer.
Maar ten spyte van als het ons aanhou lag en het ons ‘n nuwe lewe saam begin

Minette Engels (Voorheen Myburgh)

Stukkie troukoek?

Net wanneer mens dink jy het alles gesien, dan spring daar weer ietsie uit wat jou daaraan herinner dat daar miljoene mense op onse planeet is en dat ‘n ieder en ‘n elk sy eie idees het. Troukoeke was die laaste paar dekades tradisoneel vrugte koeke met lae en torings en ‘n bruidspaar bo-op. Lank nie meer nie.

Kyk hierdie skeppings:

Sjokolade is hoog mode.

Ander gaan weer vir maksimum impak. Let op die fonteine.

Of sommer net grotesk.

En my persoonlike gunsteling. (Wonder hoe die bruid gelyk het?)

 

Kykgeveg

Fotograwe wat troues afneem sien alles in ‘n ander lig as die gaste en egpaar by die troue. Party van ons is selfs al blaze en kyk uit vir vreemde gedrag by mense om ons self te amuseer. So bou ons ‘n kennis op van lyftaal by troues.

Hierdie troue was ‘n dolk geveg tussen oë. Kyke van verskillende intensies is heen en weer gevuur tussen heelwat van die gaste, die ouerpare en die egpaar self. Na buite was dit die ene glimlagte en ‘pose’ is gehou. Ek skiet gewoonlik daai blikke tussen mense om die magic tussen mense vas te vang, maar hier was geen romanse in die lug nie.

Bruid het gompie deurboor met elke onopgemerkte kyk. Hy het haar beantwoord met ‘n uitdagende hoon in sy kyk. Gompie se ma het bruid op haar beurt uitmekaar geskeur met haar kyke, maar het bruid se ma se oë heeltemaal ontwyk.

Bruid se ma se oë was heeltyd afgeslaan terwyl haar pa met sulke klein hondjie oë na gompie se ma gekyk het. Gompie se pa was te dronk om enigsins deel te vorm van die ooggeveg en het lustig troue gehou.

So gaan troue voort, maar hoe later hoe kwater. Later hou gompie en bruid apart troue, hy in die kroeg saam met sy pelle en sy tussen die tafels soos dit hoort by troues. Die kyke word erger en ek sien die bom gaan bars, maar niks nie. Bruid gooi ruiker, gompie kry kousband af en koek word gesny.

Dit lyk net of alles begin kalmeer, toe die bruidspaar die dansbaan open. Ouerpare staan nader om saam te dans en toe bars die damwal – gompie se aangeklamde pa laat sy vrou net daar langs die dansbaan staan en vat vir bruid se ma vir die dans.

Die gaste kom niks agter nie, maar die argumente wat daarvandaan tussen die oë ontplof het, het boekdele gespreek. Terloops, gompie se pa en bruid se ma is ‘n jaar later stil stil getroud.