Archive for September, 2008

Ek slaan my oë op

Terwyl ek my skandes oopvlek, hier is nog ‘n dag wat nou nie juis as my gunsteling sal afgaan nie. Weereens het Felicia, my blou kombi haar deel gedoen. Wel sy en die feit dat ek op daai stadium omtrent 20kg oorgewig was hehehehe.

My tweede fotograaf op die troue was my broer en hy was laat vanaf Kaapstad. Troue is op ‘n vlot, dus kan dinge erg skeef loop as ons laat is. Met sy aankoms is ek sommer ergerlik en met groot fanfare spring ek in my bus, maar ai, met die inklim slag, skeur my broek op die gatnaat oop!

Daar is geen genade nie, ek sal maar moet deurdruk. By die troue aangekom is dinge reeds aan die gebeur en begin ons sommer dadelik skiet – skeurbroek vergete. Veilig op die vlot vra iemand wat my ken wat met my broek aan die gang is. Ek wys vir haar dat die hoë trappie van my kombi die sondebok was en in die proses bars broek heeltemaal oop – uithang geleentheid.

Om die kroon te span, dra ek daai dag ‘n helder oranje onderboek (wie maak die goed). Die gaste lag hulself pap vir my maar daar kan nou niks gedoen word nie. Elke buk is ‘n meesterstuk!

Fotograaaaaaf

Ek self het al vir baie lag by troues gesorg – nie dat dit ooit my plan was nie. Maar een keer het ek myself oortref en amper uit besigheid gesit.

Die troue was vêr my huis af, dus het ek my blou kombi gepak vir uitkamp. Het beplan om sommer twee dae oor te staan op die klein dorpie na die troue. Dus behalwe vir my katte, was alles in my bus -bed tot borsels. Lekker ry ons en kom heel op tyd daar aan. Troue is langs ‘n dam en ek word aangesê om my bus tot op die oewer te ry waar daar kamp plek is.

Ek raak besig met bruid en toe sy gereed is om af te gaan walle toe, besluit ek om sommer vooruit te ry. Maar o wee, toe ek daai styl afdraend sien, weet ek sommer ek gaan sukkel.  (Die feit dat bruid in 4×4 geklim het moes my eintlik gewaarsku het.)

So kom ek briek briek teen die steilte af met groot butch 4×4 op my agter bumper. Nog net een draai en ek behoort die dam te sien. En daar besluit kombi se brieke om gees te gee. Ons gaan al hoe vinniger af en ek begin solank op my toeter te lê om gaste te waarsku.

Die mense staan verslae en kyk hoe ek sonder seremonie en onder toeter geskal reguit in die dam inry. Die koue water tref my vol in die gesig soos die totale inhoud van my kombi op my agterkop begin ophoop. Hier gaan ek versuip! Kruip uit en kry wonder bo wonder my waterdigte kamersak in die hande.

Koud, nat en erg geskok staan ek op die wal. Felicia, my blou bus, staan met haar neus onder water en haar agterwiele op die wal. Die gaste kruip rond soos hulle lag. Bruid klim ligvoets uit haar 4×4 koets en vra: Kan ons maar begin of kort jy nog ‘n oomblik!!!

Wat gaan hier aan?

Gompie gaan reguit tronk toe

Baie gompies wat reeds getroud was, sal kan vertel van hul ekse wat hulle nie kan uitlos nie (en andersom), maar hierdie gompie het sy eks heeltemaal onderskat.

Sy het sy lewe hel gemaak na hul egskeiding. Bel hom dag en nag, verpes sy familie met stories, vekla hom by sy werkgewer, sit elke tweede maand by haar prokureur om iets uit te werk om hom by te kom. Gompie speel toe so reg in haar hande deur haar voordeur te loop afskop uit woede.

Onmiddelik kry sy ‘n ‘restraining order’ om hom te verbied om met haar kontak te maak (sic!) en vir maande gaan dit baie goed. Tot sy hoor hy gaan weer trou, toe begin die verpesting weer.

Op sy troudag, bel gompie haar en vra haar mooi om hom asseblief nou uit te los sodat hy met sy lewe kan aangaan. Gompie staan voor die kansel en luister toe die polisie by die kerk inbars en sy naam uitskreeu. Net daar, voor hy nog kan ja sê vir sy nuwe bruid, arressteer hulle hom en sleep hom tronk toe.

Meneer, jy het ‘n hofbevel en ‘restraining order’ verbreek deur jou eks te bel, die magistraat sal Maandag besluit oor jou.

Gompie en die rok

Bruid het ‘n reuse uitskop rok gedra. Klein bo en dan lae en lae lap wat oopgehou word deur lae op lae net onderrokke. Lomp en swaar was die rok, maar het vir die mense veerlig gelyk soos dit swiep swiep saamstap.

Al probleem was dat dit haas onmoontlik was om teen bruid te staan, wat nog te sê haar soen. Gompie wou maar net styf by sy bruid inhaak.

Daar, voor die kansel, haak hy toe in en die twee gee die laaste tree tot voor die kansel. Met die trap hy die rok vas. Die skeurgeluide trek deur die kerk. Bruid stoot hom weg asof hy skielik gif is. Gompie gaan staan en kyk haar verslae aan. Kyk waar jy trap sis sy.

Gompie vererg hom bloedig en staan ‘n hele meter van haar af. Deur die diens probeer sy haar bes om hom nader te wink sonder dat iemand sien, maar gompie staan.  Met die teken van die register staan hy weer nader om darem sy bruid te soen, maar o wee, daar trap hy die voorkant vas en weer skeur die rok.

Dit was soveel as wat gompie kon verduur. Bruid se suur gesig oor hy haar rok skeur versus sy diepe behoefte om net sy vrou te kan vashou en soen word opgeweeg. Net daar sneuwel die huwelik.

Gompie stap daarvandaan ‘n meter agter bruid net waar hulle gaan, by die kerk uit, by die onthaal in. Niks wat sy doen of sê verander sy mind nie. Die twee is naderhand witwarm van woede, maar gompie kom nie naby bruid nie.

Wonder of hulle nog bymekaar is?

Somer modes 2008

Hier is die nuutste modes vir somer troues. Kaal skouers, definitiewe lyne en fyn detail.

 

Sandput

Ek dink dit is geneties in elke vrou ingebou om te droom oor haar troue. Oor hoe alles gaan lyk, hoe sy gaan lyk en hoe sy haar mooiste dag wil onthou. Dan volg die planne. Elkeen wil anders wees, uniek maar ook nie uitspattig nie.

Bruid het nog altyd ‘n ding vir die natuur gehad, dus was al haar drome gebou rondom ‘n troue met diere, bosse en die wildernis. Gompie was ‘n stad en streeks beplanner met ‘n glas penthouse en ‘n hewige alergie vir kathare. Kompromie moes gevind word.

Die oplossing – Pretoria se dieretuin. In hulle pragtige onthaal area sal daar getrou en sommer gekuier word. Almal is gelukkig. Bruid besluit om die saak effens verder te voer deur op die rug van ‘n kameel daar aan te kom.

Die gaste staan verslae toe sy laat middag wydsbeen op die dier se rug daar aankom. Die wat haar ken glimlag net. Kameel gaan lê en bruid klim af. Alles blyk in orde te wees. Gompie staan nader, maar verloor amper sy maag toe hy bruid ruik. Sy vrot na kameel. So ‘n reuk tussen sweet en bees urine hang om haar. Toe maak gompie die fout om te vinnig daarop te reageer.

Met gompie se terugspringslag gewaar kameel iets is fout en ruk sy kop agteroor. ‘n Lang groen geel straal spoeg hy behendig en tref bruid tussen die blaaie. Sy hardloop in gompie se arms in wat haar ewe galant troos. Nog voor hy haar uit sy arms laat gaan, begin albei sy oë toeswel van ‘n hewige allergie.

Daar was miskien ‘n verposing van ‘n uur, maar ja, daar was ‘n troue en boonop ‘n lekker een ook.

Die shocking poeding

Lekker informele troue. Gaste kuier om die groot vuur en eet braaivleis. Tafels is pragtig gedek en staan aan die voet van die Langeberge. Gasvrou hang uit en almal is gelukkig teverde.

Later die aand kom poeding uit. Vars vrugte, sjokolade fontein en die show stopper is ‘n reuse glas vaas vol elektriese kersliggies. Bo – op ‘n glas bord met die allermooiste roomyskoek op. Lyk verukklik – wel dit is net wat dit was.

Gaste draal en vat hul tyd, roomyskoek smelt. Roomys loop oor die bord en drup drup op die liggies. Eerste gas skep en laat val die lepel. Eina, gil sy, die koek het my geskok. Gasvrou trippel nader – wat kan die probleem wees? Dis jou poeding – dit skok die mense. Kan nie wees nie sê sy, almal het tog al ‘n roomyskoek gesien.

Nog ‘n paar gaste probeer skep, maar kry elkeen ‘n lekker skok. Gee daai lepel sê gasvrou en sy skep diep. Die elektriese ligte verdof sommer vir ‘n oomblik soos die gasvrou geskok word. Dan is dit nagswart. Net die fyn gilletjies van gasvrou is hoorbaar.

Plug uit daai liggies sis sy, hier skop ons vanaand nog iemand dood.

Sit sit so

Terwyl ek onder die rok is, wil ek graag weet – hoekom moet bruide gaan pie as hulle kant en klaar aangtrek is? En sommer ok, hoekom gaan almal in die kamer saam om te help?

Senuwees by vrouens sit soos ‘n klamp om die blaas, wel so dink ek. Wel, die lagspiere van vrouens sit ok daar, maar dit is ‘n ander storie.

Menige keer is ek al geroep – jy MOET dit sien! Daar gekom, sit bruid op die pot.  Dadelik wonder ek of dink bruid sy is die heel eerste een wat ek so sien. Gewoonlik neem ek ‘n foto en loop, maar een keer het selfs ek verstard bly staan en kyk.

My bruid het aangetrek in ‘n stokou gastehuis met houtvloere en stof oral. Die boonste vloer was basies een groot slaapkamer met ‘n ensuite badkamer. Maar die toilet was nie daar nie, dit was binne in ‘n ou hangkas weggesteek. So skuif bruid agteruit, rok oor die kop om binne die kas en op die regte plek te gaan sit.

Sit gekry, word ek geroep vir die foto. Lae en lae rok peul uit die kas uit en bruid is erg verleë. Maar toe sy klaar is en wil opstaan, begin die sirkus. Eers kom sy nie self regop nie, dus trek twee dames aan haar arms. Baie lag en sukkel maak bruid se bene effens lam. Met ‘n grootse pluk kry hulle vir haar op, maar bruid val reg agteroor terug in die kas in.

Kas se rug bars oop en bruid val tot teen die vuil muur agter dit. Haar rugwerwel skuif toe sy agteroor oor die pot val, die splinters krap haar arms flenters en sy gil van pyn. Lank gesukkel om haar uit die kas te kry, maar gelukkig is sy een van daai wat kan lag, selfs met haar fyn broekie op haar enkels agteroor in ‘n poefkas.

Tadaaaa

Om klein goedjies aan te trek onder hul klere is vir vrouens net so sexy as vir mans, veral as sy in sy oor fluister wat sy onder daai trourok aanhet. Party gompies is meer ervare hiermee en kan selfs oulike geskenkies gee voor die troue wat sy dan aantrek.

Gompie was ‘n ladies man – ken van opwinding en al daai goet. So gee hy vir skamerige bruid die aand voor hull troue die oulikste Franse kant stelletjie. Deel daarvan is die kous ophouers wat soos ‘n gordel om die lyf pas en die kouse met fyn knypertjies bo hou. Bruid giggel stout en belowe om hom more te wys voor die troue om is.

Op die troudag spring sy in die fyngoedjies in. Maar met die uitstapslag by haar aantrek kamer is daar probleme. Eina, die goed maak seer, kla sy. Sal beter word troos almal, maar bruid stap naderhand knyp boudjie treetjies.

Terug kamer toe om die goed te verstel – ek moet beslis buite wag. Dan bars daar ‘n lagbui in daai kamer los – histeriese gille. Lang ruk later kom bruid weer uit – word bloedrooi toe sy my sien. Ek maak asof niks fout is nie, maar nuuskierigheid vreet my op.

Sy het nie geweet die knypertjies hou kouse bo nie, fluister strooimeisie in my oor toe ek haar later openlik vra. Die res los sy vir my verbeelding.

As jou hart skeur

Gewoonlik staan fotograwe heel neutraal teenoor troues, maar daar was een troue wat my hart aan stukke geruk het. Selfs soos ek hier tik, sluk ek swaar aan die knop in my keel.

Sy was pragtig, jonk en vol lewe. Hy was sterk, stil en versot op haar. Hulle het my al ‘n jaar voor hul troue bespreek. Tyd het aangeloop. Toe lui my foon op ‘n dag. Dit was gompie.

Die reuk van hospitaal klou aan my neus en die eentonige bliep geluide van die ICU maak my kop mal. Bruid lê half skuins teen haar bed op. Pype peul oral uit haar uit. Iemand het ‘n klein sluier op haar kop vasgesteek, sommer so tussen die bloedbesmeerde hare. Haar oë vang myne en ek sien haar vrees.

Gompie hou haar styf vas terwyl ‘n predikant sag met hulle praat, hier by haar oor sodat sy kan hoor. Sy knik effens as sy moet ja sê en ek neem ‘n foto. Dan sterf sy sag. Gompie haal versigtig al die pype uit haar keel, vee oor haar hare en kyk na my. Nou kan jy haar afneem sê hy sag. Daardie foto van ‘n engel wat slaap, bekyk ek soms weer as die lewe voel hy druk.

Mense wat drink en bestuur, weet nie hoe hulle ander se lewens verwoes nie.