Gompie draai om

Tydens my tydperk as fotograaf het drie bruide en een gompie al voor die kansel omgedraai. Hierdie is die storie van gompie.

Met ons eerste ontmoeting het ek opgelet dat gompie uiters aantreklik is en daarby ‘n ongelooflike persoonlikheid het. Een van daai mans wat alle vroue begeer, wat ander mans as vriend wil hê en waaroor gay ouens heeltemaal die kluts kwyt raak. Gompie se maniere was perfek en hy het sy bruid hanteer soos ‘n prinses.

In sy oë kon almal sien hoe lief hy vir bruid was. Geen ander vrou het bestaan vir hom nie. Bruid was ‘n ander storie. Self ‘n mooi mens, het die groen monster agter haar glimlag geskuil. Ek kondadelik sien sy vertrou nie vir gompie nie. As hy opstaan en koffie gaan bestel, vergeet sy heeltemaal van my en volg sy elke beweging. Met sy terugkoms is sy effens nors tot hy haar nek soen en iets in haar oor fluister. Die speletjie word elke kort kort herhaal in die tye wat ek met hulle deel.

Troudag breek aan. Meeste pare doen hul troufotos na die seremonie, maar hierdie twee doen dit voor die tyd. Ons werk op Blouberg se strand op ‘n perfekte somersoggend. Gompie speel met sy bruid op die strand – uitgelate soos kinders hardloop hulle in die vlak water, koer saam op ‘n rots en sit styf teenmekaar op ‘n duin. Die fotos is perfek. Ek wag vir die nors soen my in die nek oomblik en sowaar, daar kom hy.

Twee meisies stap verby – hulle gee geen aandag aan ons nie, maar bruid versuur soos suurmelk as gompie na hulle kyk. Nors stoot sy hom effens weg. Getrou aan sy opleidng soen hy haar in die nek en fluister sy towerwoorde, maar bruid bly suur. Ek stap weg sodat die twee hulle sake kan uitsorteer. Van vêr af sien ek hoe hulle argument momentum begin opbou.

Meteens hou gompie sy hand uit en bruid haal haar ring af en gee vir hom. Ewe galant help hy haar op en stap hulle aan troukar toe. Mooi so, dink ek, probleem opgelos, maar toe ek by troukar kom, sien ek bruid is witter as haar rok. Gompie laai haar versigtig in die kar, maak die deur toe en klop op die kattebak. Daar gaan bruid.

Kan ek ‘n lift kry, vra gompie. Seker sê ek, kerk toe? Nee sê hy, kroeg toe. Ek wil ‘n dop gaan drink op my vryheid wat ek so amper gegee het vir ‘n jaloerse vrou.

4 Comments »

  1. meermin Said:

    Jaloesie maak van ‘n mooi mens ‘n baie baie lelike mens!!

    Gelukkig het hy sy oge betyds oopgemaak voor dit te laat was, sy sou seker elke keer wat jy wil gaan tuin nat maak, (pp) gaan loer wat hy doen!! Nee aarde mens is nie so jaloers nie!!

    Geniet jou dag.

    SHARKS!!

  2. Alta Said:

    O aarde ek kan nie glo mense kom tot by trou en vind dan eers mekaar se foute uit nie. Gelukkig het hierdie gompie die moed gehad om betyds uit te loop, ander was dit maar net nog ‘n skeisaak. jaloesie verwoes gou enige verhouding.

    Ek geniet hierdie blog vreeslik!

  3. Alta Said:

    Wat gebeur in so geval met jou betaling? Of kry jy ‘n deposito voor die tyd wat jy kan hou as dinge nie realiseer nie?

  4. Dellie Said:

    Ek het so ‘n “ag shame” gevoel gekry, maar ek dink op die ou end was dit beter vir hulle altwee. Jaloesie is darem maar ‘n lelike ding.


{ RSS feed for comments on this post} · { TrackBack URI }

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: