Archive for Haartsyle

Van plan verander verander verander

Dit is enige mens se reg om sy planne te verander en meeste bruide is van nature goed daarmee, maar hierdie dame is die koninging van verandering gewees.

Weke voor die troue het die monster sy kop uitgesteek – ‘Ek wil dit so hê’. En nie net bruid nie, gompie verander ook daagliks hulle planne. So werk hulle deur die kleurskemas en dryf die bloemiste tot suiglekkers en sigarette. Pienk is so boring, ja maar geel is nice, wat van swart en rooi, nee silwer asseblief.

Ek loop ook deur. Fotos by die Kerk, nee by ma ma hulle, nee wat van die rivier, o nee, die dam, ok maar by die museum ook. My inbox loop oor van mails soos die twee voortborduur op nuwe planne. Die een so anders as die ander, maar saam staan hulle op hul reg om te verander. Ek steur my nie juis daaraan nie en stuur afgewaterde replies om te wys ek lees darem die snot.

Die troudag breek aan en niemand weet meer wat aangaan nie, selfs die egpaar is effens verward. Ek is deur die bruid geboek vir ‘n 11 uur troue. Dus slaat ek daar uit teen nege en begin werk met die bruid. Sy sit met haar selfoon en vee die haarkapper kort kort weg soos sy verduidelik hoe dinge nou gaan werk.

Twee keer pluk sy haar doe uit en verander haar haartsyl, dreig om haar kop onder die kraan te druk en is sommer net onmoontlik. Die arme kappertjie is naderhand na aan trane. Nou wil pop ‘n upstyle hê. Hy het niks gebring om dit te doen nie, maar spring weg.

Bruid verdwyn onder wolke haarsproei en verskyn met hare wat op haar kop gestapel is. Nog net veil insteek en sy is reg. Dit is twintig minute voor sy die paadjie moet loop. Maar bruid gee ‘n gil: Ek lyk soos my ma in die sestigs! Verander!

Net daar verloor die tingerige haarkappertjie sy cool. Met brute krag sleep hy vir bruid tot by die wasbak en druk haar kop onder die kraan. Binne sekondes hang haar hare in taai slierte en huil sy soos ‘n gekweste wolf.

Kappertjie gooi sy kamme in sy sak en slaat die deur agter hom toe.

Bruid stap veertig minute later kansel toe met selfgedoende kapsel en dik gehuilde oë. Maar dit maak nie saak dat sy laat is nie. Gompie is nog op die buurdorp. Hy het die troue vir drie uur die middag beplan!

Wie is jy en waar is my verloofde

Wanneer ‘n man vrou vat, is daar ‘n hele klomp aspekte van haar wat hom erg aanstaan. Persoonlikheid, humor, drome, ideale en hoe sy lyk. Geen redenasies daar nie.

Nou kies man sy vrou want hy hou sommer baie van hoe sy lyk en watse beeld haar voorkoms in sy verbeeldingswêreld optower. Lees gerus wat het gebeur toe bruid besluit om heeltemaal anders te lyk op haar troudag.

Dit was ‘n nat en koue winter in Kaapstad. Klein troue beplan in ‘n asemrowende kapel. Bruid is pragtig – lang blonde hare, blou oë en goed gebou. Gompie is gespierd en vrolik en met my eerste ontmoeting weke voor hul troue sien ek sommer die twee pas pragtig bymekaar.

Gompie soek ‘n brose vroutjie wat hy kan koester en beskerm en bruid lyk 100% reg vir die rol. Maar o wee, toe ek haar leer ken, besef ek die meisie het ander idees.

Gompie sou vir haar wag in sy Polisie’Step out’ uniform en sy sou soos ‘n brose stralende bruid trou beloof aan haar ridder. MAAR sy sou nie as ‘n blond by die kerk opdaag nie. Sy gaan hom verras met ‘n splinternuwe voorkoms.

Wel, my job is fotos neem en nie sielkundige speel nie, maar ek kon sien – hier kom ‘n ding. En ‘n ding is wat ek kom kry by ons troudag ontmoeting.

Lang blonde lokke is weg – op haar kop sit ‘n formele skuinsgesnyde bob – pikswart. Rooi lippe en kandelaar oorbelle. Styfpassende rok met ‘n baie lae rug en bultende borste met ‘n pragtige genotsklofie. Sy was totaal en al onherkenbaar. Selfs haar stap het verander (kon die fyn motreen op haar kale rug ook wees). Toe weet ek, hier kom beslis ‘n ding.

Kerk toe. Geen troumars of sulke goed nie. Paartjie sal saam instap, dus wag gompie op trappies. Bruidskar stop, deur gaan oop en die Beckham Spice Girl look alike klim uit. Gompie is effens ontsenu, maar uiters galant.

Hy herken duidelik nie sy bruid nie, dus stap hy oor na die drywer van die motor en fluister in sy oor terwyl hy sy beste doen om nie na die vreemde verdwaalde bruid te kyk nie. Die drywer se gelag slaan teen die hoogeregshof daarnaby vas en kom kil terug. Gompie se gesig verstar. Hy bly staan soos ‘n pop en staar na bruid wat self nou effens onseker begin lyk.

As fotograaf ontwikkel mens arendsoë. Niks ontgaan my nie en ek sien in sy oë hoe hy wil hardloop. Haar gesig vertel van diep seerkry en teleurstelling, maar mees opvallendste was hul lyftaal. Hy het van gespierde held verander in skrikkerige onseker skoolseun. Binne sekondes. Sy het net ‘n sweep gekort.

Die twee is getroud. Die twee is drie maande later geskei nog voor ek die bestelde vergotings kon aflewer.

Besluit self wat eintlik hier gebeur het.