Haastige hond

Partykeer gaan dit woes die dag van die troue. Een klein vertraging word ‘n ketting van laat wees – amper soos die verkeer op die Ben Schoeman.

My bruid was laat van die haarkapper af, duik deur die bad en daar sak die hare effens af. Haarkapper kom inderhaas oor en klits weer die spul mooi styf en regop. Sit sommer die pragtige lang sluier ook in haar hare vas. Ons wen tyd. Bruid glip in rok, glip weer uit om ander bra aan te trek en weer terug in die rok. Ons verloor weer tyd.

Grimeerkunstenaar wil nog net laaste poeier aansit om bruid se haastige sweet te dep. Bruid nies te na aan poeier en ons verloor sommer baie tyd as rok weer uitgetrek, skoongemaak en drooggeblaas word. Met minute oor, is bruid op die sypaadjie, maar troukar is nêrens te sien nie. Die videograaf wat soos ‘n hommelby om bruid draai maak haar gemoedstoestand ok nie veel beter nie.

Besluit om sommer een van die helpers se kar te gebruik om kerk toe te jaag. Die plan was om bruid net af te laai en dan vinnig weg te ry. Daar gaat ons. Videograaf spring sommer voor in die bruidskar en skiet haar frons voorkop soos sy naels kou.

By die kerk vlieg bruid uit, maar rok is bietjie moeilik. Iemand help haar uit. Videograaf is hier in haar gesig. Die deur word toegeklap en helper spoed weg – maar o fok!

Bruid se lang sluier is in die deur vasgeklap en met die wegtrek slag, ruk dit omtrent bruid se kop van haar lyf af. Hare en sluier skeur amper gelyktydig, kar spoed voort en daar lê bruid. Knop teen die voorkop waar sy die pad getref het, hare heeltemaal verwoes en heel bo op haar kop sit ‘n klein flentertjie sluier soos ‘n hoenderhaan kam.

Hoe het my ma altyd gesê: Haastige hond verbrand sy mond.

2 Comments »

  1. Bottertjie Said:

    Haai, sjym! Dat dit so sleg kan begin! Het sy darem beskaaflik gelyk toe sy moes instap? Ek sou sommer in trane uitgebars het! Maar dit klink nie of daar iemand was om haar te help nie, nie ‘n strooimeisie of ‘n pappa nie?

  2. Dellie Said:

    Ek wil vreeslik graag lag, maar dit was seker nie vir haar snaaks nie. Siestog. :mrgreen:


{ RSS feed for comments on this post} · { TrackBack URI }

Leave a reply to Dellie Cancel reply