Opskop

Die Voortrekkers het kerke gebou op elke denkbare plek. Klein en intiem met ongelooflike houtwerk. So betree ons die klein klipkerkie met die geelhout banke wat destyds met die hand gemaak is.

Alhoewel die banke pragtig is, is hulle erg ongemaklik en kraak hulle onheilspellend as enige een net effens regskuif. Die kerkie kan twaalf mense per bank inpas, met ‘n middelpaaidjie en dan weer twaalf aan die ander kant ook. Bruid het ‘n klein troue gekies en dus word die linkerkant afgeskort sodat die mense net regs sit.

Heel voor staan die familie se bank, amper reg onder die kansel met net genoeg plek vir die egpaar en ‘n doopfont. Gou is die bank vol en is daar nog net plek vir Pa van die bruid op die punt. Kraak kraak skuif die familie rond en wag vir bruid.

Sy stap triomfanklik kansel toe, verloor haar maagdelike sluier en haak in by gompie. Pa staan bank se kant toe. Almal bly staan sodat prediker die seen op die gebeure kan vra. Amen sê hy en kyk op.

Soos een man gaan gemeente sit.

Met ‘n onheilspellende kraak breek die familie se bank op die grond af en die hele spul val reg agteroor. Pa skop bruid tussen die ruiker en die kansel in en sy pluk gompie van sy voete af. Hy val haar half katswink.

Die bank tref die ry mense agter die familie se skene en daar word kliphard gevloek en geskree. Voor lê die familie half uitasem en kyk vir die dak. Soos hulle tot verhaal kom begin hulle spartel om op te kom. Dit veroorsaak dat die skene van die tweede ry mense nog seerder kry – meer vloek en instruksies word gegil.

Dit het ‘n baie lang tyd gevat voor daar weer troue gehou is. Ma van bruid het haar rugwerwel geskuif, nefie het sy agterkop oopgekap en bloei soos ‘n vark oor almal. Bruid het ‘n nare skraap oor haar nek en gompie het sy enkel erg verstuit.

In die tweede ry is die ongevalle net so erg. Baie bloederige bene, seer enkels en rooi gesigte. ‘n Ware opskop!

2 Comments »

  1. Dellie Said:

    O genade! Ek sou my lag nie kon hou as ek dit moes aanskou nie! 😆

  2. meermin Said:

    het jy dit nie vir ons afgeneem nie, sal dit nogal graag wil sien ..


{ RSS feed for comments on this post} · { TrackBack URI }

Leave a comment