Karweiers

Dink baie mooi voor jy besluit wie jou gaan aanry kerk toe op jou troudag. My niggie het nie en die prys betaal.

My oupa was ‘n stoere Hollander wat nie geduld het kinders moet hom teengaan nie. Hy had sy manier van doen en basta. Op bank drie, regs voor in die kerk het hy en ouma se kussingkies gelê. Almal het dit geweet en nooit ooit daar gaan sit nie.

Een uur voor die diens was hy en ouma op hul kussingkies, stil en stemmig, gereed vir die boodskap. Elke Sondag.

Nou Desember in die Noordkaap is nie vir sussies nie. Temperature is so hoog dat geen vogtigheid dit na 9 soggens buite waag nie, maar nig trou 18 Desember in oupa se kerk. Dus sal oupa die troukar ry.

Nig sit nog lekker en ginnegaap op haar troudag, toe stop die rooi valiant en oupa is dadelik ergerlik. Vir wat is sy nie klaar nie? Hulle moet nou ry. Maar oupa, daar is nog een en ‘n half uur voor die troue. Maak nie saak nie, hy sit een uur voor die diens en sy sal moet spring.

Chaos breek los en almal bondel haar in haar rok in. Buite bak die twee uur son hittegolwe uit die rooi kar se dak. Trane help niks, nig moet in, dus besluit haar ma om sommer haar grimering dan innie kar te doen. So storm die spul uit buitentoe waar die kar al luier. Nog ‘n verassing.

Groot en duidelik sit ouma voor in die troukar. Dit is nie betaamlik vir ‘n ou man met so ‘n jong kind alleen in ‘n kar te ry nie. Niggie val amper flou, maar klim net betyds in voor oupa wegtrek.

Tien minute later sit bruid onder die effe koelte van ‘n peperboom, reg voor die kerk op die lykswa se gewone plek. Oupa stryk aan kerk toe en ouma bly agter om oog te hou. Bruid se ma probeer vergeefs grimering aansit, want bruid sweet soos ‘n vark voor Kersdag. Maak toe daai venster sê ouma, ons gaan koue vat en nee, jy kan g’n uitklim nie, die mense moet eers almal in die kerk wees.

Maar ouma, daar is nie ‘n siel by die kerk nie. Nou sit maar my kind, hulle is nou hier.

Die gaste kom stuk stuk aan en net soos by ‘n begrafnis loer hulle versigtig verbaas in die troukar in. Binne sit bruid en haal asem in ‘n bruinpapiersak. Gesiggie vaal soos die van ‘n lyk en rok amper nat tot op die soom gesweet.

Die wat oupa ken lê soos hulle lag, maar gompie se familie is geskok en fluister agter hul hande.

Stiptelik drie uur lui die klok en stap bruid wankelrig die kerk in. Ouma en oupa glimlag trots uit hul bank.

1 Comment »

  1. Wipneus! Said:

    Die arme bruid, sy het seker soos ‘n gesmelte troukoek gevoel!


{ RSS feed for comments on this post} · { TrackBack URI }

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: