Dellie se troustorie

Ek het lekker gelag vir hierdie storie geplaas op Dellie se blog.

Oor voëls en vere

Gedurende Desember het ons ‘n troue bygewoon. ‘n Vreemde affêre, om die minste te sê. Dit het min of meer so verloop:

Die uitnodigings is op gewone A4 papier gedruk, wat net (skeef) dubbel gevou is. Ons name is met die hand op die voorkant aangebring. “Oom en tannie.”  (Ek moes seker toe al vermoed het dat dit nie ‘n gewone troue gaan wees nie!)

Ongeveer ‘n halfuur voor die tyd, kom ons by die saaltjie aan. Saam met die opgewonde (verskrikte?) bruidegom, staan ‘n paar mense buite rond met Black Label’s in die hande. Ons sien sommer dadelik dat ons gruwelik overdressed is. Selfs die bruidegom het nie moeite gedoen om ‘n das of onderbaadjie aan te trek nie, watwou, hy het nie eers die moeite gedoen om ‘n nuwe hemp te koop nie. Mens sien dwarsdeur die verbleikte wit hempie. Sy ken, lip, neus en voorkop is vol rowe. Hy het die vorige aand op sy rumparty bietjie sy balans verloor en kop eerste in die sand ingeploeg voordat enigiemand hom te hulp kon snel. Arme ding, dink ek, en daai gesiggie gaan op sy troufoto’s verewig word. Ek wonder hoe gelukkig sy aanstaande bruid daaroor is.

Ongeveer 10 minute voor die seremonie moet begin, (alles word sommer daar in die saaltjie gedoen), gaan ek en ‘n vriendin gou kyk hoe dit binne lyk. Glad nie sleg nie, mooi versier en so aan. My oog vang die “musiek sentrum.” CD’s en speakers skitter in hulle afwesigheid, daar is net ‘n CD speler! Vriendin se man en seun spring in die kar en jaag Welkom toe om die nodige te gaan kry. Ons neem aan die bruid sal maar bietjie moet wag vir die musiek.

Die kleedkamers is ook binne in die saaltjie, en ek en vriendin neem ons kans waar om gou-gou die nodige te gaan doen. Intussen het ons ook maar ‘n kouetjie nader getrek, dat ons nou ook in dieselfde gees as die meeste mense daar kan wees. So giggel ons en gesels maar soos wat ons ou nasietjie mos maar doen in kleedkamers, en ons doen dit nou ook nie vreeslik sag nie. Toe ons uitkom, vind ons tot ons skok uit dat al die mense al hulle plekkies ingeneem het, en ons grootoog en doodstil aanstaar. Blosend soos twee stout dogtertjies, kry ons koers na ons tafel toe, waar Liefie en die res met groot glimlagte op hulle gesigte vir ons sit en wag. Die spul het natuurlik heerlik vir ons gesit en luister sonder dat ons dit weet! Aarde, sluk my in!

Die volgende oomblik word die bruid die saal ingelei in doodse stilte… die musiek is nog nie daar nie… ek kan nie verstaan hoekom hulle nie net 15 minute kon wag nie… Die predikant is net so onkant gevang deur die dawerende stilte, en kondig dadelik aan dat hy maar sommer die preek gaan skip en dadelik met die seremonie begin… my mond hang oop…

Die bruid se rok is hopeloos te groot vir haar, en deur die hele seremonie baklei sy om die ding bo te hou. Die “blommemeisie” is geklee in ‘n demin romp, ‘n t-hemp en plakkies. Die bruidegom se pa in ‘n jean en oopknoop blokkies hemp. ‘n Eienaardige spulletjie daar voor die predikant.

Teen die tyd dat die seremonie verby is en hulle amptelik man en vrou verklaar is, arriveer die musiek. Terwyl foto’s geneem word, word die musiek opgestel in die saal. Ons verwag nou ‘n oulike song waarop die dansbaan geopen gaan word, maar helaas… wat speel eerste? “♪♫Lekker verjaar Frikkie!♪♫” Ek dog ek pp my nat soos ek lag! Maar dit sit nie bruidspaar af nie, en hulle open die dansbaan.  

Buite op die stoepie is iemand besig om vleis te braai, en hy cater vir alle smake, van houtskool tot rondspring-rou. Ons eet uit papierborde met plastiek messe en vurke. Dis te warm in die saal, en ons skop ons skoene uit en sit in ‘n kringetjie op die koel gras. Gelukkig was daar genoeg vloeibare verversings, en kort voor lank was ons ‘n heel vrolike groepie.

Hier teen 9uur se koers, is daar skielik ‘n beroering onder die mense. Iemand het Flipofkonstabelwa (lees Fokofpolisiekar) in die CD speler gedruk, en daar flipof ‘n hele paar mense toe. Basies net ons klomp en die bruidspaar bly oor. Toe gaan dans ons op die tafels. Letterlik! Iemand het rondgesluip met ‘n video kamera, ek kan nie wag om daai danspassies van nader te bekyk nie!

Ag, op die ou einde was dit een van die lekkerste troues wat ek in ‘n lang tyd bygewoon het. My maag en keel was seer gelag. En daar was ‘n afterparty… maar daaroor vertel ek ‘n volgende keer!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: