Die vermiste troue

Hond se kind

Dit was ‘n baie warm dag op Worcester. Sweet tap reeds in liters van net voor sonop. Ek ry in my blou Volksie bus die dorp binne om 11 uur. Mooi betyds. Kry my bruid eers een uur so ek het tyd om in die lugverkoeling van restaurante weg te kruip.

Tien voor een stop ek – weereens van voor af natgesweet in die 39’C hitte – voor die gastehuis waar bruid aantrek. Dit is grafstil en niemand gee ag op die voordeurklokkie nie, so ek rook maar ‘n sigie en wag onder ‘n boom op die bruid.

Half twee en ek raak warm van binne af ook. Bel vir bruid – geen antwoord. Bel gastehuis waar ek wag – geen antwoord. So nog ‘n rokie. Elke kar in die hitte mirage wat uit die teerpad opslaan lyk naderhand soos ‘n troukar. Bel bruid nou elke twee minute. Niks.

Ry Kerk toe. AHA blomme en tannies = troue. Tannies is vriendelik, blomme is verwelk maar troue is nie myne nie. Ek rev die tannies in die rooi met my ongeduld, maar hulle hou voet by stuk, hulle ken nie die mense van wie ek praat nie. Kry vir Dominees in op die aksie. Dominee vererg hom bloedig vir my – hy ken sy gemeente en die mense van wie ek praat trou nie daar vandag nie.

Nou kook ek oor – bel bruid nog een keer. Geen antwoord. Tien voor drie en NIKS. My hemp klou soos kleefplastiek aan my lyf, maar ek voel dit nie – yskoud van skrik. Waar is my troue?

Bel huistoe. Kry almal daar in histerie opsoek na my dagboek. Dan kom die verdoemende waarheid. Troue se datum is reg, die tiende, maar MAAND is verkeerd. Eers volgende maand.

Ek trek sommer my hemp uit en jaag borshare in die wind uit Worcester – reguit see toe. Eers by Gansbaai stop ek en stap die see binne soos Ingrid Jonker. Maar die yskou waarheid van my fout, saam met die Kaapse yssee, laat my gil van die lag. Ek sal nie vandag sterf nie.

Miskien net van skaamte.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: