Ai, die romantiese aspek van ‘n buitelug troue was en sal altyd vir my wonderlik bly. Die reuk van die aarde, berge wat verkleur soos die ure aanstap, son wat stadig wegsak in die verte, die aandster wat kom loer en groot vure wat flikkers gooi oor al die mense. Pure magic.
By hierdie troue is daar ‘n reuse vuur aangesteek in ‘n sement dammetjie met so ‘n halwe meter hoë muurtjie. Die vlamme lek aan die sterre en vonke dans rooistreep salsas deur die donker. Gaste staan vêr en kuier, lag en skerts.
Soos die reuse vlamme afwaarts sak en die aandlug sy koue vingers kom streel oor die kaal skouers van veral die vroue, begin die kring nader trek om die vuur. Naderhand sit daar ‘n paar koulikes op die muurtjie van die dam. Kuier word daar gekuier en die wyne vloei.
Die eerste waarskuwing was toe een dame se fake leerbaadjie, wat eintlik een of ander plastiek nommer uit China was, skielik begin rook waar sy haar rug op die vuur hou. Jy rook sê, haar date. Sjjjh sê sy, my pa weet nie. Nee man, jy gaan aan die brand slaan, probeer hy weer. Sy wil nog reageer op sy lam ‘pick up line’, toe voel sy hoe haar baadjie spontaan begin smelt.
Met angswekkende gille en amper bomenslike moves, is sy uit die baadjie wat op ‘n hartseer hopie bly lê en rook. Gaste beweeg eerbiedig weer verder weg van die vuur af, maar kort voor lank is die insident vergete en begin mense weer op die muurtjie sit.
Na ‘n wyle kom daar weer ‘n angs kreet. My kamera gil een. Daar op die muur is haar kamera besig om soos in ‘n Dahli slikdery stadig teen die muur af te smelt. Die lang lens wat my vroër so beindruk het, hang soos ‘n olifantslurp. Baie lag en giggel.
Maar einde is het niet, terwyl kamera vrou ‘n rum en coke wegsluk vir die skok, plons die laaste staande stompe op die vuur inmekaar en stuur miljoene rooi vuurvonkies in die lug in. Hier en daar piets een ‘n gas en maak sy klein brandmerkie. Weer gille en skroue. Party ouens doof die brandende kooltjies op nul wederhelftes sommer met hulle drankies. Dit gaan nie goed af nie.
Daar waar ek in die donker klaar loop lag, kom ‘n paar vinnig en baklei baklei verby kar toe. In die verbystorm hoor ek net die man se stem: Volgende keer kan jy tot op jou hoë hakke afbrand, ek sal nie weer help nie.

Amanda Said:
on Januarie 28, 2009 at 10:07 vm
Wha ha ha ha..
boendoe Said:
on Januarie 28, 2009 at 11:28 vm
Kostelik! Afbrand tot op jou hoe hakke…Whahahaha!!
meermin Said:
on Januarie 29, 2009 at 4:43 vm
hie hie !!