Archive for November, 2008
Gevolg
Soms kry ons fotograwe groot verassings by troues, denieteenstaande dat ons voor die tyd soveel as moontlik uitvind. So was dit met hierdie troue.
Sommer met die aankomslag by die bruid se huis, het ek besef ek het geen idee wat op my wag nie. By die voordeur, in ‘n ry, staan 18 pare swart blink nuwe mans skoene van verskillende groottes. Ek wil my nog vergaap, toe word ek binnegenooi. In die huis was dit chaos.
Die eetkamer het in ‘n haarsallon verander. Nege haardroërs loei en stoele word volgesit deur meisies van alle ouderdomme. Krullers word uitgehaal, hare word getease, haarsproei vorm ‘n wolk teen die dak en die gekwetter laat my kop draai. Die sitkamer is vol grimering, grimeerders en mense wat hulle gesigte trek op vreemde maniere. Dit verf, plak, pleister en poeier dat die stof staan.
In die een slaapkamer is ‘n ma besig om seuntjies in swart pakkies in te druk. Dit stoei en roei maar. Die kamer lamgs hulle word eur die ouer seuns gebruik en die AXE, BlueStratos, Brutt en Ego walms slaat my asem weg.
In die hoofslaapkamer is dit onheilspellend stil. Bruid sit stoksielalleen en staar in die spieel. Ek neem aan jy het gesien wat het van my troue geword sê sy droogweg. Voor ons kan gesels, bars die deur oop en ‘n klein bruidjie in ‘n rok en sluier word ingedra. Sy skrou lewe en dood. Bruid sak haar kop in haar hande. Ek werk so goed ek kan.
Dan word daar aangekondig dat bruid nou gaan vertrek. Ek beweeg na buite. By daai voordeur peul hulle uit. Strooimeisies van alle ouderdomme, jonkers meer as wat ek kan tel, klein bruid en gompie en laastens Pa en bruid.
Ek plaas ‘n foto ,maar om hulle te beskerm, het ek die gesigte verdof. Geniet.
Laaste week vir inkrywing
Ons soek nogsteeds na die bruid van elke dekade. Stuur ‘n foto en ‘n kort storie oor jou troue.
Die wenner gaan op my onkoste lekker uiteet.
Kompetisie sluit einde November. Laat waai.
Toespraak
Vir een of ander rede is gompies absolute wrakke voor hulle toespraak. Dit bewe, stotter en stammel deur die woorde wat gewoonlik van ‘n half opgefrommelde papiertjie kom. Die groep mans wat gewoonlik reg voor gompie gaan sit, maak dit egter nie makliker nie.
Hierdie gompie was die dierbaarheid self. Op sy plek en stil het hy gesorg dat bruid die dag van haar lewe kry. Hy was ‘n boereseun en sy ‘n Hollander. Stug mense die Holanders. Dit was al opmerklik in die kerk. Haar mense sit links en sy mense sit regs.
Regs in die kerk woel dit met kinders, mense wat fluister en laatkommers. Hollandse kant is stil en stemmig. Dieselfde by die onthaal. Boere kant woel weer – mans loop heen en weer kroeg toe, vrouens hop stoele om nader aan mekaar te sit en gesels. Kinders hardloop woes rond. Hollanders sit op hul plekke, praat stemmig en eet nie eens ‘n peanut nie.
So kom gompie aan die beurt. Die ou vaar heel goed met sy bedankings, noem sy bruid as die mooiste en alles wat gesê moet word. Dan praat hy direk met sy nuwe skoonpa: ” Ek is bietjie ontsteld Pa, jy het my ‘n plaas belowe as ek jou dogter trou en sovêr het ek nog net ‘n koei gekry.”
Sy poging tot ‘n grappie laat die saal in twee skeur. Die boere kant lê soos hulle lag, maar oorkant hulle kan jy ‘n speld hoor val. Gompie lag verboureerd en kyk na bruid vir hulp, maar sy byt net haar lip en kyk af.
Die res van die trou onthaal is binne een uur verby. Soos die Hollanders hulle nagereg sluk, staan hulle op en ry. Party vat selfs hul geskenke terug. Gompie voel soos ‘n boef en probeer keer vir die vale. Boere hou troue, maar selfs hulle raak nou half ergerlik vir die stug spul. ‘Afterparty’ gil een en daar mobiliseer die lot na ‘n ander plek waar hulle kan kuier.
Gompie kry ek in die portaal. Sy oë is dik gehuil. Bruid is weg saam met haar ouers. Na hel met die spul sê ek, maar dit help niks nie.
Vandag nog hanteer daai familie vir gompie soos kak. Bruid raak al hoe valer en leliker en gompie moet sy knieë deurkruip vir bietjie aandag. Sy bly by die huis, hy werk van donker tot donker.
Al die goed is waar en swaar – die gompie is na aan my.
Glip gly
Met al die wonderlike reen wat nou geval het, laat dit my terugdink aan die een trappie op na die kerk se deur wat vir my ‘n klomp pret verskaf het. Seker het ek sadistiese neigings, maar ek het my gate uitgeniet.
Die reen het gedreig om hulle troue in ‘n vloed te verander, maar omtrent ‘n uur voor die kerk, het die swaar reen in motreen verander, maar die wêreld was modder. Saam met bruid en gompie het ons besluit om ‘n paar dae later hulle fotos te neem en dus het ek skielik baie tyd om die die res van die gebeure af te neem. So eindig ek voor kerkdeur om gaste af te neem wat aankom.
Trappie se eerste victim was so ‘n ou omie wat kierts regop loop. Maer en statig met sy mollige vroutjie aan sy arm. Trappie glip – oompie gryp die reeling vas, herstel blistig en sonder enige verandering van pas, is die twee in. Volgende kom twee jong meisies. Weer net ‘n klein glippie en ‘n klein gilletjie en in is die twee.
Nou wag ek vir hulle. Party sien die probleem en klim oor, ander gly en glip vir ‘n vale, maar sovêr val niemand nie. Ek giggel soos ‘n skoolseun in my stilligheid, maar waarsku niemand nie – te veel pret jy sien. Die laatkommers, wat effens vinniger loop as die res, lewer ‘n hele paar histeriese oomblikke op en een vrou doen amper die splits.
Van almal wat oor daai trappie gegly het, was dit egter net stomme bruid wat nie kon oorkom nie. Sy val op haar knieë neer en begin sommer dadelik snik. Twee groot modderkolle sprei oor die rok. Sy huil sommer oor die reen, haar verlore vryheid en haar hondjie wat in standerd 6 weggeraak het. Ek voel soos ‘n hond dat ek heeldag staan en myself vermaak met iets so simpel en dan kom slaan bruid sowaar neer.
Party troues is maar net nie volledig sonder bietjie drama nie.
Gompie se ma
Selfs al beplan jy hoe en selfs al neem jy alles en almal in ag, het jy nooit volle kontrole oor wat gebeur op jou troue nie. Soms kom die verassing uit ‘n onvoorspelbare hoek en slaan jou skoon van jou hoë hakke af.
Ek het nog nooit gehou van Johannesburg en sy mense nie. Die wyse waarop hulle verby mekaar en selfs verby hulself leef, veroorsaak dat elkeen net om sy eie werf vee. Gompie se ma was van ou geld – Johannesburg geld. Sy word gesien by die regte plekke, doen haar charity werk in die openbare oog, sit op al wat ‘n kom met tee is en tel nooit ‘n muntstuk wat geval het op nie.
Gompie het beslis sy ma se bloed in sy are maar kort nog die fynere kunsies wat net tyd bring. Bruid pas in asof sy gompie se suster kon wees. Haar skoonma word in elke grappie ingedeel, kyke word geruil, elmboë word liggies gevat en die winkels verwelkom die twee alreeds as ‘n paar. Op die oog af lyk dit plain sailing.
Troue is klein en intiem. Gastelys is gelaai met almal wat in die stad kan wees. Bruid en skoonma deel ‘n ontwerper. Bruid is fabelagtig in haar tabberd, maar skoonma voel gebelgd. Haar uitrusting steek te veel af. Klein fyn stekies begin tussen die twee. Subtiel word die lyne getrek – bruid sal nie haar dag onder enige een staan nie en skoonma sal nie ‘verslons’ opdaag nie. Bottom line.
Nou in die fliek weergawe van hierdie scenario, val mense in mekaar se arms en gaan hulle oë oop vir hul foute. Trane vloei en troues word uitbundige vierings van familie bande. Nie hier nie. Binne ‘n paar minute het ons vir bruid aan die uittrek terwyl skoonma deur die toe deur al bruid se slegste eienskappe uitgil. Niemand kan, of wil keer nie.
Uiteindelik, gaan deur oop en bruid stap vir die voordeur. Skoonma besef sy moet nou keer, maar na haar eerste poging tot vrede verwerp word deur aaklige beledigings wat begin by haar skilpad nek en begin afdaal na die hangende borskas toe, swaai skoonma die voordeur self oop en help bruid met die skoen uit.
Gompie wag liefies op bruid, salig onbewus dat hy binne oomblikke die keuse van sy lewe moes maak…
Kanselwals
Plattelandse troues gebeur op hoorsê. Ek hoor die bruid is nou op pad, julle kan maar ingaan. Of ek hoor klein Jannie van Sus gaan trou met daai Venter meisietjie wat destyds in matriek amper swanger was. Sarie vertel my die troue Saterdag in die Skousaal was so mooi, ai ek wens ek kon sien.
Nou skiet ek egpaar op ‘n baie klein plekkie. Almal ken almal. Hoorsê hang oor die dorp soos ‘n wolk by dag en ‘n vuurkolom by nag. Die twee is kinders van daai plek. Hy boer op sy pa se plaas, sy werk innie gemeenskap. Hulle trou in ‘n goddelike mooi kerk en dan opskop ons op die skougronde waar die skaap en vark al heeldag oppie spit sis.
Ek en bruid het pret. Sy is in haar eie wêreld en ons skiet belaglike mooi fotos in die strate van die doprpie. En eindig by die plaaslike kroeg waar ons gompie kry – so afgespreek nie per ongeluk nie. Daar draf die twee deur ‘n glas sjampanje wat die kroegvlieë voorwaar voor ingeclub het. Gompie sluk sommer ‘n vinnige bier ook af en bruid help maar as hy nie alles klaar kry nie. Kerk toe.
Na ‘n stugtelike diens, waar net die gekoer van ‘n duif hoog op die dak gehoor is, begin Ds met die formulier, maar die egpaar begin redlik te wieg op hul bene en kort voor lank kan mens sien die twee knyp nou vir die vale. Die formulier verdoof enige onderbrekings.
Dan koes gompie half onder die veil in, fluister iets vir bruid en storm by ‘n sydeur uit. Bruid sak af op haar knieë in snorke van lag en kry die wonderwerk van alle tye reg deur droog tot sit te kom. Sy hou haar kop af omdat haar gesig vettrek is van lag en lippe byt om nie nou te glip nie.
Gompie kom terug, gee ‘n verleë laggie vir die gemeente en help bruid galant op. Ringe word geruil en registers geteken.
Nog voor ons van die foto nemery by die onthaal kon aankom, hang daar reeds ‘n reuse wolk oor die skougronde – swanger, suiplap, suipllappe, vallende siekte, gompie het gaan pille haal, gewas op die brein, koue voete en ‘n kwaai skoonpa buite, uitputting, ek hoor sy sê…………
Kyk deur my lens 1/5
Graag spog ek met van my werk met absoluut wonderlike mense van wie ek hul troue mee kon deel. Julle is baie diep in my hart gebêre want ek het elke fronsie, glimlag, twyfel, blydskap, liefde en geluk op julle troue dopgehou soos ‘n valk, want dit was my werk om dit te doen.
Ek was geseënd deurdat almal wat ek afgeneem het die laaste tien jaar, nice mense was wat regtig getrou het met mekaar. Hier en daar ‘n uitsondering hehehe en dit is die stories, want geen troue het nie ‘n episode in nie. Ander is totale sepies en party grens aan laatnag flieks op etv. Maar elkeen het sy storie.
Ontmoet twee baie stunning mense. Kyk net hoe verlief en klassiek. Was pure plesier om hul liefdes duet af te neem. Ons het vir ‘n lui lekker laat herfs middag wandeling in ‘n asemrowende tuin gaan stap. Ek het hulle basies gelos om self te ontdek en uitgekyk vir moments. Die son het sy deel deur en deur gedoen.
Oogomlyner
Bruid was ‘n meisie wat nooit enige grimering gebruik het nie. Sy was boonop pragtig daarsonder, maar vir haar troue kry sy toe ‘n grimeerkunstenaar om net so hier en daar bietjie in te kleur. Vroeg oggend is daar al ‘n besige atmosfeer by bruid se aantrekplek.
Sy dryf lui lekker in ‘n bad rond terwyl ander haar rok en en goed regkry. Haarkapper vat oor toe sy uitkom en doen hare. Toe staan make up nader. Sy werk vinnig en binne minute is bruid amper onherkenbaar mooi. Klein lipstiffie, bietjie blosser en ‘n oogomlyner doen die truuk. Wimpers word met maskara uitgestryk en siedaar – klaar.
Nou is bruid effens gegooi. Sy is gewoond aan haar gesig vat en skielik mag sy nie. So glip sy in rok in, maar sy begin kla dat haar oë brand. Nee wat sê ma, jy is maar net nie gewoond nie. Na twintig minute begin daai bruid se oë toeswel soos een wat deur ‘n by gesteek is. Kry vir haar uit rok uit en gaan was haar gesig. Dit maak dit net erger.
Haar trane help ok nie. Tante gee haar sommer 4 anti histamiene in om die allergie teen te werk, laat haar lê en gooi ‘n klam waslap oor haar gesig. Bruid snik soos ‘n klein dogtertjie wat raas gekry het en nie mag huil nie. Die snikke raak naderhand stiller en kort kort loer een onder die waslap in.
Dan tref dit vir Ma – word wakker my kind! Bruid snork kliphard met fyn spoegies in haar mondhoeke. Daai pille slaat haar soos ‘n hammer. Haar oë sak af en die helpers probeer haar terug kry in haar rok, maar dit is makliker om ‘n lappop aan te trek. Bruid hang soos ‘n dronkie aan alles en almal en los jy haar, sak sy stadig net daar inmekaar.
Gompie moes maar wag tot bruid haar pil-roes afgeslaap het voor hulle daai dag kon trou. Het egter goed uitgewerk deurdat ma slim planne gemaak het en gaste solank aan die kuier gekry het. Soort van eers onthaal gevolg deur ‘n troue.
Rom tom tom
Bruid en gompie se troue was eg Afrika. Van die ystervarkpenne in haar rok en hare tot sy luiperd motief hempie. Braaivleis en pap uit kleipotte. Groot vure en lapas spesiaal gebou vir die geleentheid in die ope lug. Voorwaar ‘n belewenis, veral omdat die ouerpare ok maar by die Afrika tema ingedress het, maar die gaste staan rond in hul aandrokkies en mans in pakke.
Die seremonie word in ‘n boma, so ‘n klein geboutjie waar die gaste styf moet indruk onder die lae deur in en dan so na as moontlik aan die muur hul sit op velle moet kry. Die gekreun en gesteun is kliphard soos die spulletjie begin sit kry. Na ‘n ruk sit almal en begin hulle voltyds sweet want lug is maar skaars in die vensterlose boma.
Afrika troue sal net nie dieselfde wees as bruid betyds opdaag nie, dus kom sy 35 minute laat. Aspris. Gaste is naby aan uitpass op die stadium. Voor bruid loop haar persoonlike blessing op voete. Die man gil en skreeu dat dit klap oor die goeie eienskappe van bruid. (Hy het seer sekerlik niks geskreeu oor haar bedagsaamheid teenoor haar gaste nie.)
Flink koes hy in die boma in en almal wip van die skrik as hy skielik skrou. Hy swaai sy bokstert rond en dryf eers al die bose uit die boma uit. Die gaste raak effens verwilderd, maar die ergste kom nog. Vyf tromslaners , nogal uit Ghana sou ek later hoor, maak hulle entrance en begin daai dromme slaan.
Ek sweer ek kon hoor hoe party oordromme skeur en ‘n gehoor aparaatjie skoon fuse van die geraas. Maar die lot slaat en dans. Stof begin opstyg en hulle sweet druppels spat oor die gaste. Tien minute se dromme en daar verskyn bruid en gompie uiteindelik. Gaste is nou te verlam deur doodgesitte bene en te doof om te hoor wat aangaan, dus bly hulle verslae sit en staar voor hulle uit.
Na al die Afrika, spring daar ‘n NG dominee op en doen sy preek en troubeloftes. Uiteindelik klaar, begin die tromme weer en gaste sien dit as hulle teken om die deur te bekruip. Dit lyk kompleet of een daar binne ‘n bom gelos het. Ooms en tannies kruip hande viervoet uit die deur uit en bly sommer net lê in die vars lug. Bruid straal en vertel net hoe hierdie haar droom was – om ‘n heeltemaal anderse troue te hê. Die het sy dan wel gehad.
Steve en Natasha – die einde
Nie alle troues het ‘n happy ever after einde nie. My hart is baie seer vir julle albei.
Ek sien gewoonlik net die paartjies as hulle met sterre in hul oë trou aan mekaar belowe. Daarna is hulle weer weg uit my lewe en doen hulle hul eie ding.
Dink vir ‘n oomblik hoe naar dit sal wees as elke ding wat jy binne jou huwelik doen of oorkom op die koerant en tydskrif voorblaaie uitgebassuin word. Sou jy dit kon verdra?
Sterkte vir julle.



















