Archive for Augustus, 2008

Haastige hond

Partykeer gaan dit woes die dag van die troue. Een klein vertraging word ‘n ketting van laat wees – amper soos die verkeer op die Ben Schoeman.

My bruid was laat van die haarkapper af, duik deur die bad en daar sak die hare effens af. Haarkapper kom inderhaas oor en klits weer die spul mooi styf en regop. Sit sommer die pragtige lang sluier ook in haar hare vas. Ons wen tyd. Bruid glip in rok, glip weer uit om ander bra aan te trek en weer terug in die rok. Ons verloor weer tyd.

Grimeerkunstenaar wil nog net laaste poeier aansit om bruid se haastige sweet te dep. Bruid nies te na aan poeier en ons verloor sommer baie tyd as rok weer uitgetrek, skoongemaak en drooggeblaas word. Met minute oor, is bruid op die sypaadjie, maar troukar is nêrens te sien nie. Die videograaf wat soos ‘n hommelby om bruid draai maak haar gemoedstoestand ok nie veel beter nie.

Besluit om sommer een van die helpers se kar te gebruik om kerk toe te jaag. Die plan was om bruid net af te laai en dan vinnig weg te ry. Daar gaat ons. Videograaf spring sommer voor in die bruidskar en skiet haar frons voorkop soos sy naels kou.

By die kerk vlieg bruid uit, maar rok is bietjie moeilik. Iemand help haar uit. Videograaf is hier in haar gesig. Die deur word toegeklap en helper spoed weg – maar o fok!

Bruid se lang sluier is in die deur vasgeklap en met die wegtrek slag, ruk dit omtrent bruid se kop van haar lyf af. Hare en sluier skeur amper gelyktydig, kar spoed voort en daar lê bruid. Knop teen die voorkop waar sy die pad getref het, hare heeltemaal verwoes en heel bo op haar kop sit ‘n klein flentertjie sluier soos ‘n hoenderhaan kam.

Hoe het my ma altyd gesê: Haastige hond verbrand sy mond.

Swoerd

Bruid en gompie woon saam – jare voor hulle troue al. So ook die dag van hul troue. Word saam wakker, en gompie besluit om sy bruid te trakteer met ontbyt in die bed.

Sy bestel eier, bacon en ‘n toastie.”En haal asb die swoerd af” gee bruid laaste opdrag voor sy weer behaaglik wegsak in haar kussing. Gompie is platgeslaan.

Swoerd? Watse ding is swoerd. Hy bekyk alles wat hy moet gaarmaak vir die swoert, maar niks lyk daarna nie. Boer maak ‘n plan. Bel sy ma – Ma, sy wil nie die swoerd eet nie, hoe krap ek dit af, sny ek dit weg of moet ek iets nie opsmeer nie? Ma is net so verstom:”nou maar vir wat wil sy nie?” Is ma se beste verweer teen haar onkunde.

Bel vir sussie, sy lag net en sê dat dit sy straf is vir saambly, nou is hy al reeds sy swoerd kwyt en hulle is nog nie eens getroud nie.

Toe skinkbord uiteindelik in die kamer kom, verstom bruid haar – wat op aarde het jy gedoen! Gil sy. Maar verder wil die twee nie vertel nie.

Onthou ons kompetisie

Ons bruid van alle dekades kompetisie is amper in die pylvak.

Ek wag nog vir al die beloofde inskrywings. Stuur foto en storie na karlsteynphotography@vodamail.co.za

Ons wenners gaan lekker uiteet op my rekening. Sluitingsdatum Desember 2008.

Koue voete

Al opgelet hoe die rustige atmosfeer van ‘n laatmiddag kan verander van hemelse bliss tot amper oorlewings stryd teenoor die koue sodra die son gesak het. Hierdie paartjie het dit nog nooit geleer nie en met die hulp van tegniese probleme sal hulle dit ook nooit weer vergeet nie.

Die trou seremonie is op die oewer van ‘n reuse dam gehou waarna die gaste op ‘n groot vlot geklim het vir ‘n lazy late afternoon cruise oor die waters. Baie romanties en lekker warm, sit en staan gaste in groepies en teug aan laang cocktails. Die vlot vaar glad op die spieëlgladde water en party trek selfs hul skoene uit en sleep hul voete in die water.

Ons anker in ‘n natuurlike kloof en daar met die klotsende water, die rotswande wat bo ons toring en die ongelooflike natuurskoon, beloof bruid en gompie weerneens aan mekaar dat niks hulle vrede sal versteur nie. Sjampanje, gelukwensings en musiek.

Almal is half nostalgies en teleurgesteld toe vlot sy neus weer wys in die rigting van die wal. Op ons terugvaart, speel die sonsondergang verder met ons harte en betower selfs die gehardstes met kleure. Met ‘n laaste karmosyn rooi gloed verwdyn son agter die horison en daarmee saam styg ‘n koue op uit die water wat elkeen effens laat sidder. Almal fokus nou net op die oewer wat nog so 10 meter vêr lê en wag.

Dan hoor ons ‘n harde slag, gevolg deur ‘n onheilspellende stilte. Weg is die sagte dreuning van die enjin, want die enjin het afgebreek en sink stil stil die dieptes in. Die vlot beweeg nog ‘n paar meter vorentoe en kom tot stilstand. Ons kaptein is koel en kalm terwyl hy vir homself ‘n skoon brandewyn gooi en met een sluk wegslaan. Dan sonder seremonie spring hy oorboord.

Die water is vlak en hy sleep trek die vlot so na as wat hy kan aan die wal. Op die eerste sandbank, steek vlot vas en daar sit hy. Nou moet gaste die laaste twee meter self aanstryk land toe. Die water is omtrent knie diepte en ysig koud.

Dit het geklink soos die uitmars uit Kanaan – almal mor, kla, gil vir die koue water, bitch oor die kinders, verloor skoene, gly in die slik, laat val handsakke, kameras en sleutels in die water. Bruid dog nog sy word uitgedra toe help gompie haar sommer oorboord met ‘n ligte trek.

15 Minute later staan die gaste almal aan wal, klappertand nat, vies en vol modder. Ai, wie het gesê net die gompie kry gewoonlik koue voete.

Skerp fotograwe

Ludwig kort ons liefde

Bruide en gompies, een van ons het nou ons liefde, gebede en ondersteuning nodig.

Elkeen wat rose op sy troue gehad het, kan maar weet Ludwig het iets met daai rose te doen.

Hier is ‘n briefie van sy gesin af.

 

Dear Rose Friends,

 

As many of you would have heard through the media, Ludwig was attacked and robbed at home during the early hours of yesterday morning.

 

He was shot and wounded by burglars in both his upper arms. However he is in a stable condition and is in good spirits. None of his internal organs were affected. This morning he is hungry and thirsty – which is a good sign. The doctor that is treating him is a very good, old friend of the family.

 

We have received many calls and messages of support and prayer. Thank you! We just so appreciate the support and love from everyone.

 

The media has in some instances exaggerated the situation. We have absolute confidence that my dad will be back with his roses before long.

 

It is difficult to understand why such things happen. We are simply eternally thankful that a guardian angel was watching over him.

 

Rose Greetings,

 

Pamela, Anja, Halmar and Melani, Heike, Christian and Alex

 

Stuur jou boodskappie vir beterwense na: egoli@ludwigsroses.co.za

Boemerang

Bruidsruikers word gewoonlik op een of ander stadium van die troue oor die bruid se skouer gegooi sodat die een wat dit vang geluk sal kry in haar soeke na liefde. Amper soos die Olimpiese fakkel van trou. Almal doen dit anders, maar die risiko bly maar hoog om op Amerika se snaakste videos te eindig.

Dit was ‘n spogtroue. Haarfyn beplan en perfek uitgevoer. Bruid se ruiker was ‘n A-lyn nommer wat amper op haar tone gehang het. St Josef lelies en ligpienk orgidië wat in lae fyn groen blare na onder tuimel. So in my agterkop wonder ek of bruid die ruiker gaan gooi.

Maar sy is sommer naar oor die blomme toe ek haar vra. Is jy mal snou sy my toe. Die ruiker kos my drie duisend rand. Dit is nou die soveelste keer dat ek daardie dag moet hoor wat wat gekos het en ek is redelik gatvol daarvoor.

Bruid sit vir handruiker versigtig op haar stoel neer en sweef vloer toe in haar R 20 000 rok. Daar gee bruidsmeise vir haar ‘n R3.99 klein bossie blommie om te gooi. Na vele aanslae, opruing van die meisies wat staan en wag en ander goed beplande drama vlieg die bossie deur die lug.

Troue gaan voort en na ‘n ruk sweef bruid weer terug na haar sitplek. Op haar stoel lê die hartseer behoorlik plat gesitte bos blomme. Geen tantrum wat sy gegooi het, dreigemente wat gompie gesis het of mooi praat wat Ma van die bruid gedoen het sou die skuldige laat opstaan het nie.

Troue sommer gedemp en atmsofeer verbreek. En dit oor ‘n bos blomme – wel darem duur blomme.

Wat ‘n klomp strooi

Confetti is nie meer wat dit was nie. Weg is die wolke klein ronde stukkies papier waaronder menige huwelike hul begin gesien het. Kerkrade verbied dit op hul gronde – en ek dog dit is God se huis, maar nou ja, die papier is uit.

So begin daar ‘n nuwe industrie – wat gooi mense nou by troues? En raak die spul nie absurd nie. Organies skrou een en vir jare val daar droë blomblare, grassade, vars roosblare, eetbare confetti. Rys maak weer ‘n probeerslag maar selfs die gekleurde tipe maak erg seer.

Papier linte koek en klou aan roosbome langs die kerkpaaidjie, trek helder kleur strepe oor gaste se klere by die geringste nattigheid.

Kosters vee vies vies al die ‘organiese’ goed ook op want daar is nie tyd vir die natuur om die teken van feestelikheid weg te verrot nie.

Een aap blaas op ‘n slag borrels en daar gaat hulle. Al wat ‘n gas is staan met seepvingers, brand oë en klein kindertjies (wat die goed probeer drink) by die kerkdeur en wag. Blaas to hulle blou is, maar borrels gaan orals heen behalwe na die paartjie toe. Party bring selfs masjiene wat duisende borrels produseer. Die goed laat fotograwe vloek want dit bars teen hul lense.

‘n Ander swaap besluit skoenlappers is net die ding – kyk te veel Disney movies. Lewende diertjies word in absurde papier houers vasgepen om dan in pragtige ‘wolke van kleur’ uit te vlieg. Wat egter gebeur is dat kinders en selfs siek grootmense die arme diere se vlerke afruk, dooddruk of met soveel geweld uit hul papier tronk skud dat hulle net voor hulle voete morsdood neerval. Die DBV behoort elkeen wat hierdie praktyk uitvoer sommer diep innie tronk te stop.

Maar die wenner van die idiote se confetti is die duiwe. Gewoonlik wit, verskrik en dors, sit hulle in hokke en wag om vrygelaat te word. Teken van ‘n nuwe begin, maar vir wie nou eintlik? Gelukkig kry duiwe ook hul oomblik.

Menige gas, bruid, gompie en selfs fotograaf kan getuig van die strontstreep wat hulle al getref het by duif troues.

En al die martelings en ander vreemde goeters wat deur die lug trek is net oor een ding – die koster is te sleg om confetti op te vee. Wat is in elke geval mooier as ‘n Sondag diens waar die gemeente aankom oor papier confetti wat hulle elkeen ‘n warm gevoel in hul harte gee oor die liefde?

Terloops, die strooi van confetti is heidense bygeloof, maar dit is ander dag se storie.

Sluiper

Die Kalahari is ‘n ongenaakbare wêreld met sy eie unieke skoonheid. Reuse kameeldoringbome staan statig tussen groot ooptes rooi sand. Gras en bosse klomp hier en daar saam. Meeste plante is gehard, vol dorings en aangepas by swaarkry sonder water.

Die troue was regtig spesiaal. Kaalvoet op die louwarm sand het bruid en gompie vir mekaar geloer langs die reuse hardekool kampvuur wat spesiaal aangesteek is vir die seremonie. Die son het sy deel gedoen en die hemelruim in rooi, pers, goud en pienk getooi.

Braaivleis geure het later oor die gaste getrek waar hulle gesellig sit en kuier het langs die vuur. Volmaakte aand vir ‘n troue.

Bruid was ‘n skelm roker en haar longe het behoorlik al begin kners vir ‘n sigaret, maar waarheen sluip jy nou so op die oop vlakte. Sigaret styf weggesteek in haar hand fluister sy vir gompie – ‘nou terug’. Kon nie eens vir hom sê sy gaan dampies maak nie, want hy het ok gedink sy het lankal opgehou.

Veertig minute later begin gompie agterkom bruid is soek. Vra bietjie hier, vra bietjie daar – niemand weet gn stuk nie. Meters van die vuur af is dit stikdonker – kan nie jou hand voor jou oë sien nie. Bruid word geroep, daar word gefluit – niks net stilte.

Naderhand maak gompie almal stil tot net die knetter van die vuur gehoor kan word. Iewers in die nag kom die sagte noodkreet – help! Gompie skrou kliphard ADAM en sowaar, bruid gil EVA terug. Ou speletjie, maar dit werk. Met sy gaslantern volg Adam vir Eva se stem tot hy haar kry.

Eva het, nadat sy klaar gerook het, besluit om sommer in die veld te piepie ook. Afgesak op haar hurke met rok half oor die kop. Toe sy voel haar voete word nat, het sy probeer keer en agterstevoor in ‘n haak en steek bos, waaragter sy geskuil het, ingeval. Hoe meer sy spartel, hoe stywer klou die bos.

Hulle het vir bruid uit die bos geruk, getroos en toe troosteloos dronk gemaak sodat sy net kan ophou huil.

Quick tan

Bruid het ‘n skouerlose rok gekies om haar mooi skouers en rug te wys. Met die laaste aanpas die dag voor haar troue, maak iemand ‘n opmerking – mens, jy is so wit dat ek nie kan sien waar rok ophou en vel begin nie. Bruid in ‘n toestand.

Die oggend van die troue probeer sy vergeefs by al wat ‘n apteek is om “quick tan” innie hande te kry, maar op hulle ou klein dorpie is dit amper nog nooit gesien nie. Nee, sê die tannie met die knypbrilletjie in die apteek, hoekom gebruik jy nie Connies Crystals nie? So is bruid daar weg met die piepklein botteltjie.

By die huis besluit sy en suster om sommer die hele botteltjie innie bad te gooi – hy is dan so klein. Spoedig is die bad ‘n pragtige pers kleur. Spring in sê suster en bruid gaan lê. Kort, kort kom sy op, maar nee, niks nie. Dan sak sy terug sodat net haar neus en punte van haar ore uitsteek. ‘Onthou om jou gesig ook nat te maak’, raai suster aan. Bruid vee oor haar gesig met ‘n nat pers waslap.

Die skielike gil uit daai badkamer het van die dorp se koeie tot vandag toe nog uit die melk uit!

Bruid staar verstard na haar handpalms wat meteens borrie geel word voor haar oë. Suster ruk haar uit die bad uit, maar dit is te laat. Stadig maar seker begin bruid in skakerings van geel verkleur. Haar palms en sole is naderhand amper oranje, haar blonde hare wat in die water was kry ‘n boosaardige bruin kleur. Seep en water! Bruid en suster skrop verbete, naderhand met handy Andy, maar bruid word net geler en geler.

Die ergste is haar ‘vloedlyn’. Die deel van haar gesig wat onder die water was verkleur in ‘n reguit lyn wat van haar kennebak tot by haar oorpunte opstoot. Die gesig is spookagtig wit.

Daar was nie ‘n troue daai dag nie, geen wittebrood nie, om die waarheid te sê, bruid was skoonveld tot die natuur daai geel laag vel self laat afskilfer het. In haar ma se huis staan ‘n bad – wit bo en diep pers-bruin onder. Bruid gaan blykbaar nie eens daar in om te piepie nie.

Getroue lesers en ‘n skrywer wat weggeraak het

Dagsê. Dankie vir al die navrae en belangstelling tydens my afwesigheid.

Ek was besig om die boek van hierdie blog aan mekaar te sit en wat ‘n proses was dit nie. Die boek lê nou by my uitgewer en sal seker teen Februarie 2009 op die rak wees. Ek sal persoonlik sorg dat my getroue lesers elkeen hul eie kopie ontvang. Nominate jouself met ‘n boodskap.

Ons het die boek aangepas om bruide, gompies en fotograwe met mekaar te versoen. Daar is hope raad en planne vir perfekte foto sessies, klomp histeriese stories oor troues, ‘n uiters bruikbare Troubeplanner en nog vele meer. My boek is beskikbaar in Afrikaans en Engels – oorweeg nog Afrika tale.

Ek is weer op en aan die gang en lus vir skryf. Daar is baie opwindende veranderinge op pad vir die hele trou industrie hierdie seisoen en ek sal so bietjie die sluier daaroor lig. Die trend is organiese troues waar koste besnoei word en die idee van ‘n baie lekker kuier sessie saam met vriende en familie die fokus is. Slim planne.

Dan vat ons weer die blog se leisels vas. Sien julle weer, selfde tyd, selfde plek.

Karl