Archive for Julie, 2008

Appelkosie

Klein dingetjies kan reuse impak hê op jou troue. Ouma se suiker appelkosies was gompie se doodsteek – hy kon ‘n sak vol opeet. Dus reel bruid dat daar ‘n sakkie by sy aantrekplek vir hom gesit word. Groot vreugde en baie liefderik eet hy terwyl hy aantrek.

Meteens kreun die ou erg. Spoeg in sy hand en staar verward na die halwe voortand wat vir hom teruggloer vanuit sy handpalm. Storm spieel toe. Daar sit die boonste helfte van sy voortand nog. Gompie slaat erge paniek – so kan hy onmoontlik gaan staan en trou.

Prakties – soos mans maar is, moet die tand nou ten alle koste reggemaak word. Hotsuff, besluit gompie en sy helpers. (Die wat nie Hotstuff ken nie, dis daai gom wat binne sekondes set en klou vir dood.) Nou staan een met ‘n haardroër en blaas in gompie se mond in om dinge droog te kry. Gompoie se oë traan, sy kleintongetjie word erg verbrand en hy kan nie eens kla nie.

Oom sit solank gom op stukkie tand. Met sy dik wortel vingers probeer oom nou tand op sy plek plak. Glip en daar sit tand nou aan sy vinger vas. Pluk af, krap skoon en probeer weer.

Ondertussen moet gompie weer geblaas word want hy kwyl nou soos ‘n klein hondjie. Tweede poging om tand terug te plak – nou sit een kant van gompie se lippe aan mekaar vas en stuk tand lê op die vloer. Duidelik gaan Hotstuff nie werk nie.

Sukkel lippe los. Nee sê oom, Vasvat is die ding. En so begin hy sommer meng ook. Druk die paste aan die stuk tand vas. Gompie kreun nou erg want die haardroër het sy tandvleise al bloedrooi gebrand. Gee, ek sal self sê gompie en vat vir Vasvat tand goed vas. Met een druk, druk hy vir tand vas en hou vir lewe en dood tot die vasvat sy ding doen.

En sowaar, daar sit tand weer. Net een probleem, gompie het tand verkeerdom geplak. Maar nou kan dit nie anders nie – hy is so met die agterstevoor tand getroud.

Gompie bars uit

Gompies is berug vir uitstel, dus word hul trouklere gewoonlik vir hulle gekoop, reggesit en soms sommer aangetrek ook. Net so was dit met hierdie gompie.

Bruid het ses maande voor die troue vir gompie gemaak pas tot hulle ‘n perfekte pak klere gekry het. Hemp, das en skoene en gompie kon relax. Soos die weke aangaan, begin gompie se senuwees knaag en hy vind sy uitkoms in bier en snacks.

Dag van die troue word pak uitgesit en alles is gereed. Halfuur voor kerk spring gompie deur die stort en in die pak in, maar o wee – hy kry nie vir broek toe nie. Te skaam om te sê, sukkel hy maar vir gulp op met behulp van ‘n draad hanger, glip vir knoop deur en sit sy gordel aan.

Toe dit by skoene kom, besef hy dat hy nie kan sit en sy skoene vasmaak nie – sy asem jaag en hy snak erg. Vra maar sy broer wat hom lag lag uithelp. Nou staan gompie kierts regop en lyk al hoe valer om die kiewe. Sy rug pyn, sy pens druk sy longe toe en hy is nog nie eens by die kerk nie.

In die motor op pad soontoe, gee broek se gatnaat die gees. Die skeur begin heel onder en loop tot amper bo by se belt. Chaos. Stop net daar en spring uit die kar uit. Nou moet almal help kyk of die baadjie die skeur toehang, maar die nuus is teleurstellend. Mens sien net rooi onderbroek.

Boer maak ‘n plan en net daar ruil hy en strooijonker onderbroeke, want sien, strooi het dieselfde kleur onderbroek as die gompie se pak aan. Nou is skeur nie so opsigtelik nie. So is gompie gekerk.

By die onthaal het strooijonker sy mikrofoon kans waargeneem om sy onderbroek terug te vra. Gaste was effens verbaas, maar toe gompie sy buiging maak om sy probleem te wys, was daar gelag en geskerts vir lank.