Archive for Mei, 2008
Springety
Dit was ‘n troue wat maande lank beplan is – op die rotse/ strand stukkies by Arniston.
Die dag van die troue was volmaak. Helder blou lug, warm weer en windstil. Oral op die strand is tafels neergesit met glase wat skitter in die son. Blomme in emmer staan oral en prys boontoe.
Naby die see is ‘n boog van stokke gevleg en met blomme versier. Net ‘n klein entjie daarvan lê ‘n paar walvisse luilekker in die water. Teen die horison sit die maan – groot en vol in die daglig.
Tien voor vier die middag begin bruid aanstap strand toe. Kalm en vol drome. Maar ons hoor net gille en lag van agter die rotse. Ons loer versigtig oor een om te sien wat aangaan.
Die gety het ingekom en saam met die volmaan was die branders groot en sterk. Een het sopas die hele area waar die troue moes plaasvind skoongevee. Gaste is sopnat en histeries. Oral dryf blomme op die water rond en van tafels met peuselhappies en glase is daar geen spoor nie.
Die predikant draai vies sy mantel droog en soek sy bybel. Gompie probeer sy ma kalm te kry, maar die ysige water wat onder haar rok ingeslaan het, het gompie laat besef waardeur sy pa al vir jare gaan.
Bruid lag haar amper nat en strompel aan na die area van verwoesting. Hulle moes maar onder ‘n leë strandhuis daar naby se afdak loop staan en trou.
Vinnig is daar planne gemaak en net na die baie kort seremonie is almal daar vort na ‘n restaurant daar naby. Al wat oorbly op die strand is ‘n paar seemeeue wat pik pik aan die kos wat oral rondlê.
Ek skiet tans somer rokke
Ek is tot my ore toe in kant, sy and tafsy. Ons skiet die somer reekse wat uitkom en ai, daar is ongelooflike rokke wat bruide uit kan kies.
Die trend is definitief weer skouerlose rokke wat onder vol uitklok. Kleur is ook baie gewild. Nie oorheersend nie, maar detail en aksente is kleur.
Afrika het ook ‘n reuse impak op die nuwe trou-modes. Krale beweeg weg van die diamante gevoel en word van gekleurde glas, klei en porselein verkies. Helder patrone word uitgewerk op bolyfies en ook onder aan die rokke.
Vere maak ook ‘n terugkeer en verleen uiterste drama aan enige rok hierdie somer.
Haarstyle is los en ontspanne. Moderne kapsels soos die Victoria Beckham look is uit soos gister se trash. Kort hare word getooi met parmantige kort sluiers en vere. Lang hare kry krale, krulle en sagte veils.
Wat my die meeste opval, is die nuwe soort skoene wat bruide verkies. Weg is die silwer sandale of wit gemaklike nommers. Hello aan die hake en fyn punte van die sestigs. En skoene word nogsteeds oorgetrek om by die roksoom te pas en dan met krale versier. Pragtig.
Ek brand om hierdie nuwe rokke vir julle te wys, maar dan is ek jobless. Loer maar in die tydskrifte so van Augustus af.
Klappertand
Soms draai dinge uit op die verkeerde manier en jy kan net mooi niks doen daaraan nie. So was dit met hierdie troue.
Stug familie, stug troue – geen onthaal, klein eetgoedjies in die kerksaal net na die diens. Alkohol is taboe en dans direk van die duiwel. Hulle reg om so te trou, maar soms kry hierdie stug troues ‘n lekker woema inspuiting sonder vraag.
Bruid en gompie staan voor die kansel en luister aandagtig na die woorde van die predikant. Klaar getrou en daar word nagmaal aan hulle bedien deur die tweede leeraar van die gemeente. Maar ai, die man had ‘n ernstige probleem – sy valstande pas nie lekker nie.
Sy boonste tande val en wip op en af soos hy praat. Duidelik is hy dit gewoond want hy skiet skiet hulle behendig terug met sy tong as hy ‘n woord uitspreek, maar dit lyk histeries. Sy mond het klaar gepraat dan beweeg die tande nog.
Bruid knyp en kou haar wange bloed, gompie druk haar arm blou, maar niks kan die vlaag lag in haar keer nie. Die geproes uit die gemeente help ok net mooi niks. Die arme vrou verloor stil stil beheer en piepie haarself papnat daar voor die kansel – sonder om een lag te gee.
Predikant klappertand voort en deur die liggaam tot by die bloed druk almal in die gemeente deur. Bruid huil nou, want skaam is ‘n erge ding. Gompie staan verslae na haar en staar, salig onbewus van die nat kol onder die hoepel rok.
Met die tree predikant van die kansel af om die brood en wyn aan die paartjie te bedien. Sonder dat iemand sien, moes die man sy boonste tande in sy sak geglip het. Nou praat hy soos ‘n Engelsman met so ‘n stywe bo-lip. Bruid herstel van haar skaamte en bloos nou bloedrooi.
Toe dominee die stukkie brood in haar mond sit, wurm ‘n lagbui weer deur haar lyf en sy verstik terstond aan die brood. Hoes, lag, huil, sy ryg hulle nou uit en gompie sien vir die eerste keer dat hy ‘n hoogs emosionele vrou getrou het.
Bruid weier terstond om die register te gaan teken en vra dat gemeente eers moet uit. Soos lot se vrou staan sy voor die kansel tot selfs die orrelis uit die kerk uit is. Toe draai sy die krane oop en huil haar hart uit.
Gompie gooi sy hande in die lug en teken op die regte plek.
Domino effek
Pragtige troue gewees. Blomme waar jy kyk en paartjie was omtrent verlief. Bruid se ma had ‘n slag met blomme en die kerk is omtower in ‘n prentjie.
Buite was sewe boë(arches) gelaai met bosse blomme wat dwarsoor die paadjie gespan het. Dieselfde boë is inderhaas geskuif na die onthaal saal na die troue waar dit ‘n paadjie van die deur tot by die hooftafel gevorm het. Daar het ma gesit – gelukkig en tevrede met ‘n job well done.
Met die paartjie se aankoms by die saal het hulle buite gewag sodat die gaste hul sjampanje proppe gereed kon kry vir die skietslag met hul aankoms. Die teken is gegee, die deure gaan oop en die musiek trek weg. Paartjie stap in.
Proppe skiet en een pyl reguit af op gompie se gesig. Met ‘n refleks keer hy verwoed en stamp die eerste boog om. Asof beplan val die boë in gelid. Die laaste een tref die hooftafel en blomme reen neer op die ouers wat daar sit.
Die glase, bekers sap en bottels wyn val om en sprei hulself uit oor die rokke en tafeldoek. Die kerse val om en steek die papier servette wat uitgepluis in die glase staan aan die brand.
Binne oomblikke is daar algehele chaos en gille. By die deur staan die paartjie verslae, terwyl die gaste rondval van die lag. Net gompie lag nie – hy het sy skoonma se skerp blik gekry. Shame.
Kies jou gunsteling
Blogs maak deure oop – myne het. Hierdie blog gaan verskyn in boekvorm nadat ‘n uitgewer in New York so baie daarvan gehou het, dat sy ‘n boek voorgetsel het.
Dankie vir almal wat so getrou hier lees en natuurlik vir al die comments.
Hier is jou kans om deel te wees van hierdie boek. Vertel ons van jou troue. In elke troue is daar ‘n storie en ons wil joune publiseer. Fotos is ook welkom.
Ek sien uit daarna om alles te lees. Jy kan dit hier intik, of jy kan dit direk aan my stuur by karlsteynphotography@vodamail.co.za
Groot pret op pad en ek het nog honderde stories uit my loopbaan as troufotograaf.
Met ‘n dankbare hart
karl
Gompie to the rescue
Kort storietjie met ‘n lewenslange impak.
Die kerk het ventilasie skagte in die vloer met sulke nare staal deksels vol gate. Die gemeente se vrouens kla al vir jare dat hul skoene dit nie hou nie.
Bruid trap met haar hakskoen in so ‘n gat en daar breek hak morsaf. Sy stap dapper verder en probeer om nie onstabiel te lyk nie, maar haar enkel begin sommer dadelik te swel.
Gompie sien alles en stap regop en fier na sy bruid toe, tel haar in sy arms op en dra haar tot voor die kansel. Daar sit hy haar saggies neer, gaan op sy knieg af, vewyder die gebreekte skoen en soen haar voet beter.
Bruid het kaalvoet aan sy arm gestaan en vir die hele seremonie het net hulle twee vir mekaar bestaan.
Sulke liefde hoort in elke troue.
3,2,1, PANIC
Mens kry net een Ma wat jou sal bystaan deur wat ookal gebeur. Hulle grootste hulp – moenie panic nie my kind, alles sal regkom. Soms is selfs Ma’s verkeerd.
Troue was vinnig beplan. Nie groot affere nie, maar innie kerk in wit soos dit hoort en, voor haar magie begin wys. Nice mense, opregte ou mistykie gewees, maar een ou klein probleempie – gompie was reeds verloof aan ander meisie.
Die oggend van die troue was almal half op hul senuwees, maar Ma het rondgeloop en gekloek om kalmte. Sy het dit nogal mooi reggekry ok. Bruid is deur die bad, onder die hare in en uitgekom vir geisggie opsit. Geen panic nie. Ma dra tee aan en gluur elkeen wat durf verwys na die eks verloofde se haat tot stilte.
Half uur voor ons moet afsit kerk toe, arriveer rok in sy sak. groot opgewondenheid. Ma hou almal kalm – trek nou baie versigtig aan my kind, moenie iets smeer of skeeftrek op jou kop nie.
Eerste probeerslag is ‘n flop – bruid se een been kom skoon op die verkeerde plek uit. Wat op aarde. Kalm my kind ons begin weer. Rok op en sak stadig af oor bruid wat met haar arms in die lug hensop.
Meteens breek ‘n bloedstollende gil die stilte. Dis Ma! My kind, o my kind gil sy en panic erg. Wat is dit Ma? Spieël snik ma. Bruid draai na die spieël.
Daar waar haar baba ontwikkel in haar maag, sit die gat. Groot en rond en happerig uitgesny. Die trourok lyk soos iets uit ‘n Vera Wang kolleksie wat deur ‘n student verander is om maksimum skok te gee en dit het.
Bruid staan net en staar na die rok met die reuse gat reg oor haar maag. en Ma? Ma panic so dat dokter haar later moes kom inspuit. Tot vandag toe weet geen mens gn stuk of water van die gat innie rok nie.
Om van broer te verander
Spog troue. Geen moeite of geld ontsien nie. Net die beste en mooiste. Dit gebeur as die ryk mense op die dorp troue hou en die lot was ryk. Stinkryk.
Vir die troue is ‘n SLK aangeskaf, blomme ingevoer, rokke laat ontwerp, trouringe laat maak. En dit was asemrowend. Bosse en bosse Dallas rooi rose het silwer vase (nie die geverfde tipes nie) laat bult staan. Kristal glase het geskitter in die feetjie liggies waarvan daar seker 1 000 stringe in die dak opgesit is, tussen die with organza koepeldak.
Die kos is gemaak deur hul persoonlike chef, wat sy inspirasie uit die Ooste geneem het. Eksotiese disse is opgedien op borde van deurskynende glas. Die plekmatjies was spieëls. Die eetgerei is inderhaas gaan koop in London. Fyn silwer en in rye gepak langs die borde.
Troukoek was sewe lae hoog en bo-op het perfekte beeltjies van die gompie en sy bruid gestaan. Daar is ‘n groot area van die saal omskep in ‘n kroeg, met mure van spieëls, meubels van deurskynende Perspex en reuse beelde uit ys gekerf wat oral rondstaan.
Nou, as jy nog nie by so ‘n troue was nie, mis jy uit – al is dit om net vir een dag dekante lewe te ervaar.
Maar realiteit is ‘n ander bokker.
Bruid was asemrowend mooi, gompie fier en regop. Tot by die onthaal. Daar het hy stelling ingeneem in die kroeg area en gou gou was hy weg vir die wêreld. Bruid het soos spook rondgesweef, en as sy gompie wou sien, moes sy ok maar aanstryk kroeg toe. Wel, if you can’t beat them – join them. Bruid raak ok geslinger, maar op die troue maak dit nie eintlik saak nie, almal is op een of ander plugg.
Toe draai dinge dwars. Bruid wil met mag en mening dat garter afgehaal word en gompie lag net vir haar, so koggelende laggie. Toe maak sy maar plan.
Selfs die dronkstes onder die lot het hulself half nugter geskrik. Gompie se broer is onder bruid se rok in en kom heelwat later te voorskyn met garter in sy tande. Nie ‘n enkelte hand was onder daai rok in nie.
Een jaar later, skenk bruid geboorte aan haar en broer se baba. Die twee is darem getroud, so agt maande nadat sy van broer verander het.


















