Archive for April, 2008

Zzzzzzzoem

Dit was ‘n warm droë somer. Lente al vergete. Die onthaal was in die dorp se skousaal en daar is blomme uit die Kaap aangery. Van vroegdag af is die VLV tannies aan die rangskik. Bosse vol geurige blomme op elke tafel. Te pragtig.

Teen laatmiddag word die saal se deur opgemaak vir die trougaste wat enige tyd sal opdaag. Hier en daar zoem ‘n by teen die binnekant van die vensters, maar niemand steur hulle daaraan nie.

Nou oom Gappie was die dorp se byeyboer en sy korwe het gestaan onder die laning bome agter die skougronde se paviljoen. Almal het dit geweet en nooit die bye gepla nie. Hulle het maar aangegaan met hul dagtaak – opsoek na nektar. Enetjie het seker uit die saal ontvlug en in ‘n klein histerietjie gaan vertel van die blommefees wat op almal wag.

Binne twintig minute was al wat ‘n by op die dorp is doenig met die trousaal se blomme. In die stil saal was hul gezoem amper oorweldigend. VLV tannies kry ‘n blik Doom innie hande en spuit wolke gif in die saal, maar dit help net die bye se steeklus aan.

Nog voor die eerste gaste kon aansit, was daar al twee steekpasiënte. Met die samekoms van mense en bye was dit chaos. Mense waai en koes, gil en jil. Die geraas word net erger en die steeklys groei vinnig.

VLV tannies hardloop nou met bottel asyn en vee steekplekke. Rook die spul uit skreeu een omie. So gemaak so gedaan en koerante word in bondels gemaak en aangesteek. Oral waai swart stukkies roet en gou gou ruik die saal soos stroois. Bye ignoreer alles wat aangaan en maak nektar bymekaar.

Teen die tyd dat gompie en bruid aankom, is die saal sonder ‘n enkelte blom. Alles staan netjies op die paviljoen in rye en die bye zoem gelukkig en ongesteurd daar voort.

Tot laat innie nag het hulle gekuier by daai troue sonder ‘n enkele blom in sig.

Trou? Nie vandag nie.

Daar is baie bruide en gompies wat wel trou al weet hulle in hul hart dit is ‘n fout. Die skande is vir hulle erger as hulle die troue kanselleer as die seer wat ‘n ongelukkige huwelik bring, maar dit vind hulle eers later uit.

In my jare as fotograaf het drie bruide kop uitgetrek, een gompie en is daar ‘n troue wat hulle saam besluit het – trou?  Nie vandag nie. Hierdie is hulle storie. Sal die ander so met verloop van tyd vertel.

Nou as jy besluit om nie voort te gaan met jou seremonie nie, is daar maniere om jouself te beskerm teen allerhande skandes en skades. Hierdie paartjie wou van die begin af nie die troue wat rondom hulle begin sneeubal het, gehad het nie. Klein en intiem wou hulle sommer net ‘n paar vriende oorvra die dag nadat hulle voor ‘n landdros die register geteken het.

Maar soos die dinge maar loop, eindig sy in ‘n wit rok met 250 gaste en ‘n kerk en ‘n onthaal by ‘n spog hotel. Gompie se ouers het die ‘troukar’ gevat en daarmee gehardloop – betaal vir alles van die servette met die paartjie se name op in goud, tot die sjampanje fontein in die voorportaal. Kerk is toeggeooi onder massas blomme, ten spyte van die bruid se hewige allergie vir blomme. Alles tot in detail beplan – die paartjie moes net opdaag en trou.

Na ‘n hele paar probeerslae van albei se kant af om die monster te stop, het daar niks gekom nie en voor hulle hul oë kon uitvee, was die troudag daar. Alles het verloop soos dit moet. Ek het bruid afgeneem en sy was redelik kalm, maar nie juis stralend nie.

Gompie was ‘n heel ander storie. Kry hom by die kerk in ‘n hewige argument met sy pa. Hard en verbaal probeer hulle vir oulaas mekaar se wil knak. Bruid sit al voor die kerk in die motor, toe praat die twee nog hard. Pa draai weg en stap in die kerk in. Ha, nou gaan die troue voort. Nee.

Gompie haal sy das af en stryk aan troukar toe. Stil klim hy by bruid in. Tien minute sit die twee en praat. Geen groot handegebare, skril stemme of enige aanduidings van baklei nie. Net rustige gesprek tuseen twee mense.

Dan skakel die troukar se motor aan en die paar gly stil stil uit die kerkgronde. Ek neem maar ‘n laaste foto van die agterligte en begin solank oppak. Daar gaan nie vandag ‘n troue wees nie en ek is ook nie lus vir die vulkaniese ontploffing wat gaan volg nie. Maar dit bly onheilspellend stil innie kerk.

Gaan loer maar in – ok maar nuuskierig. Daar staan pa en huil lang trane. Gaste is welkom om te kom eet en kuier, maar daar gaan nie vandag ‘n troue wees nie.

Karweiers

Dink baie mooi voor jy besluit wie jou gaan aanry kerk toe op jou troudag. My niggie het nie en die prys betaal.

My oupa was ‘n stoere Hollander wat nie geduld het kinders moet hom teengaan nie. Hy had sy manier van doen en basta. Op bank drie, regs voor in die kerk het hy en ouma se kussingkies gelê. Almal het dit geweet en nooit ooit daar gaan sit nie.

Een uur voor die diens was hy en ouma op hul kussingkies, stil en stemmig, gereed vir die boodskap. Elke Sondag.

Nou Desember in die Noordkaap is nie vir sussies nie. Temperature is so hoog dat geen vogtigheid dit na 9 soggens buite waag nie, maar nig trou 18 Desember in oupa se kerk. Dus sal oupa die troukar ry.

Nig sit nog lekker en ginnegaap op haar troudag, toe stop die rooi valiant en oupa is dadelik ergerlik. Vir wat is sy nie klaar nie? Hulle moet nou ry. Maar oupa, daar is nog een en ‘n half uur voor die troue. Maak nie saak nie, hy sit een uur voor die diens en sy sal moet spring.

Chaos breek los en almal bondel haar in haar rok in. Buite bak die twee uur son hittegolwe uit die rooi kar se dak. Trane help niks, nig moet in, dus besluit haar ma om sommer haar grimering dan innie kar te doen. So storm die spul uit buitentoe waar die kar al luier. Nog ‘n verassing.

Groot en duidelik sit ouma voor in die troukar. Dit is nie betaamlik vir ‘n ou man met so ‘n jong kind alleen in ‘n kar te ry nie. Niggie val amper flou, maar klim net betyds in voor oupa wegtrek.

Tien minute later sit bruid onder die effe koelte van ‘n peperboom, reg voor die kerk op die lykswa se gewone plek. Oupa stryk aan kerk toe en ouma bly agter om oog te hou. Bruid se ma probeer vergeefs grimering aansit, want bruid sweet soos ‘n vark voor Kersdag. Maak toe daai venster sê ouma, ons gaan koue vat en nee, jy kan g’n uitklim nie, die mense moet eers almal in die kerk wees.

Maar ouma, daar is nie ‘n siel by die kerk nie. Nou sit maar my kind, hulle is nou hier.

Die gaste kom stuk stuk aan en net soos by ‘n begrafnis loer hulle versigtig verbaas in die troukar in. Binne sit bruid en haal asem in ‘n bruinpapiersak. Gesiggie vaal soos die van ‘n lyk en rok amper nat tot op die soom gesweet.

Die wat oupa ken lê soos hulle lag, maar gompie se familie is geskok en fluister agter hul hande.

Stiptelik drie uur lui die klok en stap bruid wankelrig die kerk in. Ouma en oupa glimlag trots uit hul bank.

Reënweer

Baie troues loop deur onder reënbuie. Dit word gesien as ‘n blessing op jou dag, maar vir jou fotograaf kan dit ‘n nagmerrie wees, veral as hy nie sy job ken nie.

Plan B is noodsaaklik vir enige troue, so as dit reen het jy reeds ‘n ander shoot in gedagte. Bring uit die sambrele en geniet die reen. Laat bruid en gompie in die water speel, onder hul sambreel skuil, loer deur ‘n vesnter na die reen buite – geniet die weer eerder as om dit as ‘n probleem te sien.

Lekker romantiese fotos is moontlik en jou egpaar sal dit nog lank onthou.

Bruide, moenie nou priss wees met daai rok nie. Dit gaan vuil en nat word, so ook jou hare. Geniet dit. Dit beteken egter nie jy moet in ‘n tropiese storm in die reen rondstaan nie.

Stuur vir ons bietjie julle reenweer stories.

Nog ‘n week, nog vreemde mense

Ons begin die week met vreemde mense, dan voel ons beter oor ons self.

As jy een van die vreemde mense is, dankie dat jy in jouself glo en jou unieke jy met ons deel.


Bruid se gompie bou goeters wat werk, maar sy bioniese slang wat die ringe inbring is nogal heel uniek.

Dink op jou voete

Dit was ‘n klein troue in die tuin van die restaurant. 24 Gaste. Daarna sou hulle aansit vir ‘n heerlike middagete. Die spyskaart was eenvoudig, maar die groot ding wat almal gaande had, was die klein speenvarkie.

Perfek heel gaar gemaak, geglasuur en op sy silwer opdienbord wag hy in die kombuis vir die uitdra slag. Die hele kombuis personeel vorm ‘n ry agter die sjef aan en met groot fanfare word die vark na die tafel gedra waar die gaste reeds sit en wag.

Almal klap beleefd hande, maar die sjef struikel oor ‘n los mat en daar trek vark. Een hop en hy gly tot tussen ‘n tannie se skoene op die vloer. Jy kan ‘n vurk hoor val, maar niemand beweeg nie.

Toemaar sê sjef, gelukkig het ek nog een in die kombuis, en met die duik hy onder die tafel in en gryp vir vark.

Tiem minute later kom die optog weer deur die deure, maar niemand kyk die gaste in die oë nie.

Vark was in elke geval heerlik.

Wie is jy nou weer ?

Senuwees is ‘n erge ding en mans loop meer deur as vrouens. Sielkundiges het al bevind dat mense op hul senuwees vergeetagtig, gespanne, sweterig en effens bewerig is. Maar party gompies slaat papnat uit by hul troues.

Interessant genoeg laat alkohol iname, stress vererger en gespanne mense ontspan eers regtig effens as hulle redelik dronk is. Dus is die senuwee dop voor die tyd dodelik vir jou senuwees.

Gompie was ‘n wrak. Ek plaas die probleem reg voor die bruid se voete. Sy het gereël aan die troue dat dit klap. Gompie is nooit ingesluit nie, maar by elke geleentheid is daar vir hom gesê- Jy steek my nie in die skande nie, ek werk hard aan my troue.

Die troue self was ‘n ramp. Gompie het gestotter deur sy beloftes, styf soos ‘n paal gepose vir die fotos en geheel en al beheer verloor met sy toespraak. Die are op bruid se nek het kort kort uitgebult soos sy haar vererg, maar daar was heeltyd ‘n reuse glimlag op haar gesig.

Net toe gompie begin relax, gebeur die ersgste met hom. By die onthaal is een van sy vriende van jare gelede. Die twee pare ontmoet mekaar: Hallo, ek is johan en dis my vrou Bets, sê vriend. Hallo sê gompie, die my vrou ………………… Wie is jy nou weer? Sy gesig was bleek soos dood, hare rooi soos beet.

Vandag lag hulle lekker daaroor, maar bruid het daai dag al besluit – ‘loser’. En gompie gaan maar net aan met sy moeilike vrou.

Kolle en gate

Meeste bruide ken die senario: Tien minute voor jy die kerk moet in, verskyn daar ‘n vuil kol op jou rok, of jy hoor ‘n skeurgeluid. Groot drama al gewees.

Van die gunsteling sondebokke vir vlekke is: nat naelpolitoer, lipstiffie, koffie, kinderhandjies, gretige honde, skuur teen vuil muur. Die vlek is gewoonlik klein en amper onopsigtelik, maar teen die tyd dat histeriese hulp daarmee klaar is, sit daar ‘n sopbord grote kol.

Wat gemaak?

  1. Enige naellak moet eers goed droog gemaak word. Dan krap jy dit baie versigtig met n mes sodat die dikste dele afspring. Druk ‘n wit lap agter die rok en met ‘n oorlpluisie, vee die area met assetoon. Net ‘n paar keer anders sprei die kol. Gryp nou jou wit toiletseep en herhaal die proses met die oorpluisie. Nie ‘n nat spul nie, net op die kolletjie. Bly net op die kol werk deur nooit die area af te vee of te vryf met ‘n lap nie.
  2. Grimering is gewoonlik ‘n olie basis en water sal dit net help om verder te sprei. Moet nooit enige middel wat bleikmiddel inhet gebruik nie – dit los die grimering op en laat dit dieper insink. Druk weereens ‘n wit lap van agter en gebruik jou oorpluisie met wit toiletseep om net die area te vee. Onthou – jy gaan nie die vlek uitkry nie, maar jy kan dit sekerlik ligter maak.
  3. Vuil hande, honde en ander modder kan groot kolle maak. Waar meeste mense verkeerd gaan is om ‘n waslap te gryp en te begin vryf. Nat materiaal versprei vuil maklik, so om die area wat vuil is droog te hou is krities. Gebruik handdoekpapier, sommer ‘n dik rol en druk dit van agter terwyl jy met ‘n wit lap die kol net dep. Moenie vee nie. Maak jou lap nou klam met wit toiletseep en dep verder. Spoel jou lap na elke tweede dep uit en begin weer. Sorg dat die papierhanddoek droog bly. Blaas kort kort droog met ‘n haardroer en begin weer. Onthou, moenie vee of vryf nie – los die vlek op in die papier in.

Skeure is effens makliker om reg te sien, maar dit vat tyd. Sorg altyd dat jy maar die regte kleur gare en ‘n naald het wat by jou rok pas.

Gaan so te werk:

  1. Moenie dat bruid uittrek nie, tensy sy soos ‘n granaat oopgebars het op ‘n naat.
  2. Doen herstelwerk van die agterkant van die rok. Werk fyn stekies wat sal hou.
  3. Werk klein deeltjies op ‘n slag aanmekaar en let op dat dit onopsigtelik aan die buitekant is.
  4. In die geval waar jy ‘n pleat moet inwerk om die skeur toe te kry, werk dieselfde ‘pleat’ op die anderkant van die rok ook, dan lyk dit of dit daar hoort.
  5. Groot skeure en nate wat oopbars verg ‘n ervare hand en ‘n naaimasjien. Dit hou nie as dit met die hand gedoen is nie. Kry bruid versigtig uit rok en hou haar kalm terwyl die rok herstel word.
  6. Skeure in kant en voile moet eerder net so gelaat word.

Die geheim is kalmte en logiese denke. En natuurlik wit toiletseep. probeer dit sommer vandag op ‘n vlek en jy sal sien hoe maklik dit werk.

Deel jou rate met ons of vertel ons van jou vuil kolle.

Werner wou niks weet nie

Ai, ek verknies my altyd aan mense wat diere by hul troues betrek. Hulle moet goed doen wat hulle nooit uit hul eie sou doen nie en dit lei gewoonlik tot sukkel.

Werner was ‘n snorbaard met bietjie hond aan. Regte straatbrak met oulike stout ogies, maar daai dag was Werner se ogies dof en verwilderd. Ek is seker die klein tuxedo wat hy skielik moes dra het nie lekker gesit nie, of die honderde voete innie kerk was bietjie oorweldigend. Werner was op sy senuwees.

Agter op sy baadjie was die trouringe vasgestrik. Al wat hy moes doen was vorentoe stap en stilstaan sodat hulle dit kon afhaal.

Hy wag buite met iemand wat hom oppas. Die vrou klou hom vas en Werner spook vir sy lewe. Meteens gaan hy aan die skreeu dat hoor en sien vergaan. Klink of een hom aanrand.

Niks wat die vrou doen maak dit beter nie. Toe hap hy maar haar hand. Daar trek Werner – huistoe, waar dit ookal is. Vrou storm kerk binne: “Werner is weg, fluister sy saggies vir die eerste oom wat sy herken.” Wie is Werner en wat maak dit saak, vra die ou. Werner het die ringe sê sy. O, sê die man.

Laaang tyd gebeur daar niks. Vrou is uit om haar wonde te ontsmet en alles verloop rustig. Gompie draai om vir die ringe  en sien niemand in die deur nie. Oom probeer aan hom verduidelik dat Werner weg is, maar gompie verstaan nie gebare taal so lekker nie. “Hy is weg,” sê die oom ergerlik en kliphard.

Gompie kry byna ‘n oorval en storm uit buitentoe. Al wat hy kry is die vrou se agterligte – sy is op pad dokter toe – en ‘n leë kerk werf.

Werner is nooit weer gekry nie, so iewers loop ‘n klein straatbrak in sy tuxedo rond met ‘n karaat op sy rug. Wonder of hy weer ‘n huis gekry het.

Rooi kolletjies op my skerm

Ek sien waar almal woon deur die rooi kolletjies op my tracking system, maar wie is julle?

Gooi ons jou naam en waar jy woon asseblief. Sê ok sommer of jy getroud, enkelopend of geskei is?

Ons wag in spanning.

Lekker naweek almal en vir die wat hierdie naweek trou: God bless en geniet elke oomblik daarvan.

Karl

Klaar gepraat

Van plan verander verander verander

Dit is enige mens se reg om sy planne te verander en meeste bruide is van nature goed daarmee, maar hierdie dame is die koninging van verandering gewees.

Weke voor die troue het die monster sy kop uitgesteek – ‘Ek wil dit so hê’. En nie net bruid nie, gompie verander ook daagliks hulle planne. So werk hulle deur die kleurskemas en dryf die bloemiste tot suiglekkers en sigarette. Pienk is so boring, ja maar geel is nice, wat van swart en rooi, nee silwer asseblief.

Ek loop ook deur. Fotos by die Kerk, nee by ma ma hulle, nee wat van die rivier, o nee, die dam, ok maar by die museum ook. My inbox loop oor van mails soos die twee voortborduur op nuwe planne. Die een so anders as die ander, maar saam staan hulle op hul reg om te verander. Ek steur my nie juis daaraan nie en stuur afgewaterde replies om te wys ek lees darem die snot.

Die troudag breek aan en niemand weet meer wat aangaan nie, selfs die egpaar is effens verward. Ek is deur die bruid geboek vir ‘n 11 uur troue. Dus slaat ek daar uit teen nege en begin werk met die bruid. Sy sit met haar selfoon en vee die haarkapper kort kort weg soos sy verduidelik hoe dinge nou gaan werk.

Twee keer pluk sy haar doe uit en verander haar haartsyl, dreig om haar kop onder die kraan te druk en is sommer net onmoontlik. Die arme kappertjie is naderhand na aan trane. Nou wil pop ‘n upstyle hê. Hy het niks gebring om dit te doen nie, maar spring weg.

Bruid verdwyn onder wolke haarsproei en verskyn met hare wat op haar kop gestapel is. Nog net veil insteek en sy is reg. Dit is twintig minute voor sy die paadjie moet loop. Maar bruid gee ‘n gil: Ek lyk soos my ma in die sestigs! Verander!

Net daar verloor die tingerige haarkappertjie sy cool. Met brute krag sleep hy vir bruid tot by die wasbak en druk haar kop onder die kraan. Binne sekondes hang haar hare in taai slierte en huil sy soos ‘n gekweste wolf.

Kappertjie gooi sy kamme in sy sak en slaat die deur agter hom toe.

Bruid stap veertig minute later kansel toe met selfgedoende kapsel en dik gehuilde oë. Maar dit maak nie saak dat sy laat is nie. Gompie is nog op die buurdorp. Hy het die troue vir drie uur die middag beplan!

Wedding Myths

The Meaning Behind the Myths

There are many wedding myths and superstitions most are based on events or omens that are said to foretell either good luck or bad luck. Ironically, some myths have both positive and negative connotations. Like all superstitions wedding myths have no scientific basis however, it never hurts to keep them in mind just in case!

Wearing pearls: this is one of those wedding myths with both bad luck and good luck meanings. The ominous version of this myth holds that pearls represent future tears; thus wearing them will bring many tears and heartache in the marriage. The luckier version of this implies that the pearls take the place of the bride’s real tears, thus she’ll have a happy, tear-free wedding.

Tears on the wedding day: it is considered good luck for the bride to cry during her wedding. She will have cried all her tears away leaving none for the marriage. Another theory holds that a bride’s tears are good luck as they bring rain for the crops.

Rain on the wedding day: this is another good luck – bad luck wedding myth. In the good luck version, rain is said to foretell the coming of children just as rain promotes growth in the farmer’s fields. In the unlucky version, rain drops represent the many tears a bride will cry throughout her marriage.

Sign your married name before the wedding: it is considered bad luck for the bride to sign her married name before the wedding as it tempts fate. For the same reason, the bride should avoid wearing her entire bridal outfit prior to her wedding day.

Dropping the wedding ring: this is another contradictory wedding myth. On the one hand, dropping the wedding ring during the wedding ceremony was seen as lucky as it would shake out evil spirits hiding in the ring. On the other hand, dropping the ring was considered the most ominous of events; whoever dropped the ring was said to be the first to die.

The bride shouldn’t make her own dress: this wedding myth states that for every stitch of the wedding dress the bride sews herself she’ll shed one tear during her marriage.

Time of day to get married: the couple should exchange their vows as the clock’s minute hand is moving upwards, therefore any time half past the hour, for example 2:30 or 4:45. The upward movement is said to bring blessings upon the couple as the minute hand is “ascending towards heaven.”

Surname of the same first letter: it is considered unlucky for the bride to marry a man with a surname that begins with the same first letter as hers. This wedding myth is summarized in the following Victorian rhyme: “To change the name and not the letter; is to change for the worst and not the better.”

Wat dink die bruid

Weer tyd vir julle skerp captions – wat dink die bruid hier?

Breasted

Og poe

Troukarre het nog altyd deurgeloop, dus sluit menigte gompie maar sy motor diep weg. In die ou dae is shoeshine gebruik om oor die motor te skryf. Dan maande daarna sit die wit skrif nog op die bakwerk vas.

Hedendaags behandel manne darem die nuwe motors met meer respek, maar nie minder gemors nie. Skeerroom is ‘n gunsteling, gevolg deur taai goed soos stroop. Vaseline woorde tel stof op en wys eers bietjie later. Om die spulletjie af te was is nie grappies nie.

Maar ek wil vertel van ‘n R 17 800 grappie. Splinternuwe motor. Een van die ‘weldoeners’ onthou ‘n storie uit sy kinderjare toe sy pa stukke vis in die troukar se wieldoppe gesit het. Maar motor het nie wieldoppe nie, net mags.

Dus moet vis elders ingedruk word. Hy besluit toe om die lugpyp van die lugversorger los te skroef en ‘n blik sardiens daar in te gooi. Fout. Daardie vis is deur die komplekse stel waaiers, verkoelers en netwerk van lugpype wat oral in die motor uitmond.

Dit het begin as ‘n sterk visreuk in die kar, maar later ‘n erge vrotspul. Jy kon nie in daai kar asemhaal nie. Na 24 uur het die waaiers begin vasbrand en uiteindelik het die hele verkoelingstelsel verstop en gees gegee.

Vlieglarwes, maggots en ander kruipgoed het uit die paneelwerk begin kruip. Die bekleedsel het al die reuke geabsorbeer.

Die kenners het dit prontuit getsel – jy sal nooit die reuk uit die verkoelingsisteem gewas kry nie, ook nie uit die bekleedsel nie. Die verkoeleingstelsel moes vervang word. Groot uitgawe vir pasgetroudes.

Moenie mors nie

Krapogies

Baie bruide maak ‘n foutjie as dit by Herfs troues kom. Koud in die oggend, warm middae en ysige aande – wat trek sy nou aan?

Om veilig te speel, het hierdie bruid besluit om 11 uur die oggend te trou op 2 April. Dan sal dit mos warm wees, maar daardie more besluit Winter om ‘n advertensie te stuur van wat voorlê.

In haar spaghetti bandjie rok, klap bruid se tanne so dat dit effens steurend raak. Haar ma gooi haar skouers toe met ‘n baadjie en sy voel effens beter. In die troukar in en troue toe – knus in die motor onder die baadjie.

By die kerk klim sy uit en trek baadjie uit. O wee. Binne minute raak sy ‘n blou kleur en elke aar op haar wit vel begin bloupers wys. En sy bewe soos ‘n riet. Maar sy stap voort, die groot koue kerk binne.

Gompie sien wat aangaan en nadat almal tot ruste gekom het, trek hy galant sy baaidjie uit en gooi dit oor bruid se skouers voor die kansel. So romanties. Wel, vir ‘n paar oomblike.

Sag soos die reënfee vou bruid inmekaar daar langs gompie en pass stil stil uit.

Die term is hipotermiese skok. Al wat help is hospitalisasie waar haar liggaam behandel word teen skok en stelselmatig opgewarm word.

Die twee is in Sepie styl in die hospitaal getroud. Sy is ‘n paar ure later onstlaan en kon haar uitgestelde onthaal bywoon – toegewikkel in ‘n warm uitrusting.

« Vorige inskrywings