Bly stil of ek sing nie

Die Amerikaners het begin met die ‘Wedding Singer’ konsep waar ‘n sanger deel van die orkes vorm. Maar die sanger sing dan van ‘n voorafopgestelde lys liedjies af. Hy dien ook sommer as tipe van seremoniemeester.

Hier is die sangers nog nie so deel van die troues nie, maar ek het eenkeer een raakgeloop by ‘n troue.

Formidabele dame met hmmm groot inborste. Skarlaken rooi lippe pas by rooi naels pas by rooi rok pas by rooi skoene. Nie net staan sy uit nie, sy staan ook die orkes half toe. Maar haar stem was soos fluweel. En hard. Sy het nie die konsep van agtergrondsang lekker verstaan nie.

Juffrou soek al die aandag op haar. As sy sien jy luister nie, roep sy sommer so in die middel van die lied – ‘jy daar met die funny dassie, bly stil, ek sing.’ Die gaste is skoon oorbluf en klap maar gedwee hande na elke liedjie en pop ryg vir hulle uit.

Ek is nie seker of haar konsert deel van die beplanning was nie, maar niemand het haar aangepraat of stilgemaak nie. Vir ‘n volle uur het die gaste gesit en luister. Nie een het opgestaan vir niks nie. Maar toe pop afklim van haar verhogie af, kry omtrent almal koers. Die mans na die kroeg toe en die vroue in groepies na die toilet.

Die res van die onthaal was normaal. Dit was regtig vreemd, so ‘n konsert in die middel van die onthaal. Sy het tot Cd’s verkoop na die tyd en mans oortuig hulle wil haar handtekening hê.

1 Comment »

  1. Marina Said:

    Sy het die geleentheid gesien en aangegryp…….per intimidasie natuurlik!


{ RSS feed for comments on this post} · { TrackBack URI }

Leave a comment