Ek word gereeld gevra of ek ‘n gunsteling troue gedoen het. My standaard antwoord van ‘na 379 troues voel almal mooi vir my’, is nie altyd wat mense wil hoor nie. Dus moet ek bieg, ja, ek het ‘n troue wat uitstaan bo die res.
Dit was ‘n perfekte lente dag met alles van skoenlappers tot voëlgesang in die majesteuse tuine van die Drostdy Museum. Blommeprag en die vars nuwe groen aan die bome. Die statige hoofgebou in die tipiese hoefyster vorm, het ‘n groot stoep area gehad met bankies en spuitfonteine. Wingerde het gerank oor die sware pilare.
En oral het groepies gaste in lieflike somersdrag rondgestaan en uit kristal martini glase slukkies geneem, gepeusel aan vingerhappies wat deur kelners in gestyfde wit hemde en swart broeke rondgegaan het.
In die middel van die reuse tuin het die strykorkes opgewekte klassieke musiek gespeel terwyl kinders oral rond hardloop en baljaar agter die wit ganse aan. Almal was tevrede en op hul gemak. Hier en daar het sigaretrook onder slaprand hoede uitgetrek en oral was daar gelag.
Die bruid en haar gompie het heel op hule eie, met net die ouers in ‘n klein romantiese kerkie daar naby getrou. Baie intiem en regtig romanties. Daarna het hulle aangestap gekom deur die nou straatjies van die klein dorpie en hul by die onthaal aangesluit.
Geen toesprake of heildronke nie, die paartjie het so van groep tot groep beweeg en almal het op hulle gedrink en saam gekuier.
Later het die gaste luilekker begin aanstap na die groot stoep met sy tafels gedek in speirwit linne en kristal waar ‘n voorslag boere ete aan hulle bedien is.
Die troue het heeldag aangehou en stadig maar seker het die tuin leeg geloop. Laaste was die egpaar wat teruggesit het in diep gemakstoele en vir mekaar geloer het oor ‘n laaste glasie sjampanje.
Ek onthou julle troue met deernis – Hermien en David.

Marina Said:
on Maart 4, 2008 at 11:59 vm
Dit klink na die perfekte troue! Gemaklik en gemoedelik!!
boendoe Said:
on Maart 5, 2008 at 7:51 vm
Ja nee, dit klink inderdaad na ‘n troue gemaak in die hemel!