Hierdie storie het sommer net laas week met my gebeur.
My studente,- wat Troufotografie kursus voltooi het – skiet laas Saterdag hulle prakties. ‘Bruid’ is aangetrek en opgemaak. Studente maal om haar soos bye en skiet uit elke liewe hoek wat hulle kan inkry. So beweeg die hele arsenaal deur die tuin, stop, skiet, loop.
Bruid het ‘n korset tipe rok aan wat met pragtige goue koord vasgeryg word. Die punte hang dan los oor die agterkant van die rok met die groot uitskop onderrok. Regtig mooi. So ook mooi vir my twee katte.
Enter Batman en Friend, my twee katkinders.
Nou van kleins af, was enige tou/koord Friend se dood en word dit met groot fanfare gejaag, gekap, gekou en gepluk. Een sprong en daar sleep bruid nou vir kat se kind agterna soos blikkies agter ‘n troukar aan. En hy klou. Groot gelag en verjaag die ondier met moeite. Koord is effens verwoes, maar ons gaan aan.
Batman sit onder ‘n bos en beloer die affêre . Bruid word gevra om in die rondte te tol sodat rok effens oplig en met die, spring Batman net daar onder rok in en verdwyn in lae en lae tulle.
Chaos – bruid gil en skreeu en trap. Batman raak verlore in paniek en begin teen haar rok se binnekant opklouter. (Gelukkig nie teen haar bene op nie!) Ek vries, want ek moet daai rok betaal as hy verwoes word en veeartse is duur. Die vrou gaan my kat vertrap!
Pluk maar vir rok op en skud kat uit. Heeltyd kliek die studente. Histeriese fotos.
Maar die kwinklsag van die dekade kom so ewe droog uit my engelse bruid se mond:”Get lost Batman, there’s one down there already.”