Archive for Maart, 2008

Hoe mee dae hoe meer dinge

Julle is omtrent ‘n kreatiewe klomp. Baie dankie vir jul insette. Ek geniet dit terdeë.

Laat waai met daai inskrywings vir ons bruid van die dekade kompetisie.

Gebruiklik vaar ek die week in met nog fotos wat my nogal laat wonder oor troufotograwe daarbuite? Wel, elke oukie vir sy koukie. Geniet.

Oink

Ai mevrou

Oeps

Benoni

Charlene het stilletjies in Benoni getrou.

Praktiese vroue trou altyd dromers

Practical

Ek kyk altyd na egpare en probeer sien wie nou wat in wie gesien het. Dan vra ek hulle om seker te maak ek het reg gerraai. My sukses staan op so 60% sovêr.

Hier is ‘n paar kombinasies wat ek al teëgekom het:

1. Praktiese vrou – dromer man

2. Sport vrou – slim man

3. Onderwyser vrou – man wat met sy hande kan werk

4. Slim vrou – aantreklike donkerkop man

5. Dromer vrou – romantiese man

6. Beeldskone vrou – ryk man

7. Kunstenaar vrou – amptenaar man

Laat weet ons julle kombinasie laat ons sien of in die kol is hier.

Wie het gesê ?

Wie bepaal hoe jy op jou troudag handel en wandel? Wie besluit oor wat gaan gebeur en hoe gaan alles lyk?

Daar is mense wat heeltemaal wegbeweeg van die gewone en doen net wat hulle wil. Bravo vir julle. Kyk net hierdie sexy troufoto as ‘n voorbeeld:

Wel nou ja

Dan is daar die tema mense wat hul tema tot elke prys sal laat uitspeel:

Ridder

Party kere kry gompie ok sy wens:

Biertoring

En dan die vele prinsesse vir die dag. Hier is seker een van ons grootste prinsesse:

Patricia Lewis

En die dag to Heidi uiteindelik vir Peter gevat het, het die fotograaf toue en bergklimskoene nodig gehad:

Heidi en Peter

Dankie vir my Ma, Pa en Ouma……….

Deur die jare het ek geleer om ‘n paar plekke uit te kies waar ek my troufotos neem. Veral een huis met ‘n ongelooflike tuin was een van gunstelinge. So sit ons af na die troue vir ons foto sessie daar.

Ek leer altyd my bruide dat ‘n reuse gevolg wat agter jou aantou terwyl jy probeer fotos neem, net ‘n probleem is. Maar dese bruid wou daarvan niks weet nie. Bykans veertig mense maal in die tuin om ons terwyl ek probeer kalm bly.

Nou ek en my niggies voor die fontein, ons en my tannies op die gras, ek en my ouma oppie stoep – elkeen daar word op een of ander tyd nadergepluk vir ‘n foto. Absolute chaos. Na omtrent een volle uur is ons klaar en bondel die spul by die hek uit – onthaal toe.

Daar aangekom is dit weer chaos. Almal wil  eers gou gaan kamerverlaat. Dan bondel die lot kroeg toe. Na omtrent nog ‘n uur kom die spulletjie aan die gang en heildronke volg. Gompie is laaste.

“Dankie vir my Ma, Pa en Ouma……….” Hy bly doodstil en kyk vir sy bruid wat weer vir haar nuwe skoonma kyk wat op haar beurt vir haar man kyk wat maar gedwee begin rondkyk innie saal. “Fok”, sê gompie, “waar is my ouma?”

Alamal soek. Sy is skoonveld. Ek en gompie en omtrent ses ander (vir ondersteuning) sit die stuk in – terug na die foto huis toe.

Daar sit ouma op die stoep. Gin en Tonic amper klaar, kuier sy en die huiseienaar te lekker.

Nou maar toe,” se Ouma beleefd, “dankie vir die gesels, maar lyk my die kinders is nou klaar met die foto nemery.”

Nuwe tendens

Brand bruid

In ons wêreld waar niks eintlik nuut is nie, kom bruide en troufotograwe vorendag met ‘n nuwe tendens. In Amerika noem hulle dit ‘trashing your gown.’

Bruide trek na hul troues weer hul rokke aan en rol in die modder daarmee, swem in riviere, gaan speel paintball, stoei in olie. Die lys is so lank soos die mens se verbeelding. Fotograwe het ‘n baie prettige tyd en kry fotos wat nogal dramaties lyk.

Nou wil ek weet – wat sal jy met jou rok wil aanvang ?

Elke pot kry sy deksel

Of jy nou uit ‘n paleis kom of kruip uit onder ‘n bos, daar is een vir jou. So glo ek, maar ai as daai een darem so goed verskuil bly raak dit moeilik. Dan hoor jy net ‘n geklangelang soos die deksels een vir een opgepas word.

So verander jy in ‘n drukkoker wat enige tyd kan ontplof want jou deksel sit te styf, of jy brand aan want jou deksel pas glad nie. Ander potte dans rond met deksels wat los sit ander staan roerloos  – te bang hulle skewe deksels val af. Party potte het ou deksels op waarvan die knoppe afgebreek het. Nuwe potte skaam hulle vir hul ou vaal deksels. Blinkgeskuurde ou potte lyk sommer net simpel met splinternuwe deksels op.

Maar potte wat gesoek het tot hulle nommerpas gekry het, kook lekker.  Van feesmaal tot vla, alles wat daaruit voort kom is heerlik. Saam word die pot en sy deksel oud en soos die jare aangaan pas hulle net beter en beter.

Tada! Enter the frying pan met sy super ergonomiese, hitteverstelbare kleppe en temperatuur kontroles. Maar dit is ‘n ander storie.

Hoe kook jou pot? Vertel bietjie.

Elke pot kry sy deksel - bewys nommer een

Kokok en die diamant

Diamante is wel die vrou se beste vriend, maar definitief gif vir hoenders.

Die paartjie se verlowing was buite op die plaas. Baie mense, braai, kuier en dans. Lekker. Oral is mense en kinders en die werfhoenders hou hulself maar eenkant en loer grootoog na hulle broers en susters wat op die kole sis.

Die ring word onder luide gejuig vorendag gebring en met fanfare aan haar vinger gesteek. ‘n Knewel van ‘n diamant skitter in sy solitaire setting. Al die vrouens bekyk en daar word gewys vir ‘n vale. Gelukwense en heildronke.

Die werfhaan, Kokok, staan ok nader om te sien wat almal so gaande het. Meteens  val die skitterwit diamant uit sy setting op die grond. Soos blits pik Kokok hom op en sluk.

Bruid gee ‘n gil wat al die plaasdiere se bloed laat stol, duik Kokok plat en knyp hom onder haar arm vas. Die haan skrou en skop, maar sy klou. Wat toe gebeur het almal teenwoordig laat sidder van skok.

Sonder seremonie pluk bruid, wat ‘n plaasdogter is, Kokok se kop met een pluk van sy lyf af. Voor daar bloedvloei kan plaasvind is haar vinger af in die oop gat en daar kom diamant uit die krop te voorskyn. Kokok gee nog ‘n laaste skop en sterf.

Die gaste staan verstar, maar dit pla vir bruid net mooi niks nie. Later met die ete, het die gebraaide hoender sleg aftrek gekry.

Die orrel speel die orrelis

Die orrel was imposant. Pype blaas net hier onder die engele – so hoog toring hulle. Week vir week kom mense luister na die orrel. Troues is geboek van hier tot in 2010.

Vir julle wat orreliste ken, sal weet dat hulle spesiale verhoudings met hul instrument opbou. Vreemde hande vat nie sommer aan die klawers nie, maar bruid het aangedring op haar eie orrelis vir haar troue. Glo ‘n man wat kan.

Die middag daag die man ook op om voor die tyd so ‘n bietjie met die orrel te werk. Dawerend toets hy die klanke en sommer die volume ook. Pragtig. Hy is reg.

Nou vir jare en jare sit hy voor die orrel – dis nou die resident speler van die gemeente. Honderde vind hul mans, grafte en redding onder die klanke wat hy voortbring. Vandag voel hy sommer seer en vergete. So wat nou gemaak?

Sy voorspel in die kerk was rustig en gedemp, maar toeskuif die gasspeler agter die klawers in. Die troumars moet opwel deur die pype, maar daar kom ‘n skreeu geluid soos ‘n kat wat vasgeknyp word uit die orrel. En die klank boor deur elke oor wat kan hoor. Harder en skerper skrou die ‘kat’ soos die gas orrelis die mars speel.

Hy stop naderhand en die geluid ook. Bruid vat maar die laaste paar tree in stilte en almal kyk op na die gallery waar die man sit en sweet. Eerste gesang en daar skrou orrel weer kliphard. Die man gooi sy hande in die lug.

Soos ‘n superman, sweef resident orrelis agter sy instrument in. Druk hier, trek daar en speel meteens die soetste klanke. Almal ontspan. Uit met die troumars – harder en mooier as nog ooit gehoor in daai kerk.

Tot vandag toe praat die mense. Sabotasie, ingryping deur die bose, meganiese foute – die teorië is legio. Die enigste mens wat weet waarom daai orrel so aan die gil gegaan het, swyg en speel gedwee sy orrel wat hy so liefhet.

Wat dink sy ?

Vertel ons wat die bruid dink.

karate-wedding-721982.jpg

‘n Man met ‘n plan

Doodonskuldig kan jy jouself vasloop in probleme groter as wat jy jou kan voorstel.

Ontmoet vir gompie – van kleins af is hy die ‘prankster.’ Almal loop deur onder sy poetse en strikke. Tot op sy troudag toe sy plan homself vol in die gesig tref. Letterlik.

Die plan/poets was eenvoudig en onskuldig – gompie druk ‘n skrapse fyn dames broekie in sy sak en wanneer hy die kousband moes verwyder, sou hy die broekie daar uitpluk en wys. Tot sy eie voordeel vertel hy sy plan wyd en syd aan almal.

Troue loop normaal en almal is gelukkig. By die onthaal kuier ons lekker en bruid en gompie doen die magneet ding – permanent vas aan mekaar. So beweeg hulle van groep tot groep. Soentjies en drukkies en speelse vat aanmekaar.

In ‘n donkerder deel van die saal, glip bruid haar hand in gompie se broeksak .

Wel, daardie ontploffinde dwarsklap het dwarsoor die saal getrek. Bruid storm vooruit met die bewysstuk wat sy net met haar naels vasklou en rondswaai. Haar oë dolk die ander vrouens op die troue een vir een morsdood soos sy soek na ‘n rooi gesig. Gompie gryp gryp na die broekie maar lag onkeerbaar. Dit maak bruid meer woedend.

Uiteindelik kry hulle vir haar tot luister en vertel al die mans, wat geweet het van die poets, wat nou eintlik gebeur het. Arme vrou. Sy sak inmekaar van skaamte. Gompie vryf sy seer wang.

Later was alles weer terug na normaal – wel amper. Die egpaar is weer aan die heup verbind. Gompie straal, maar bruid bekyk nogsteeds elke vrou wat naderstaan vir gelukwensing.

Hoe sê die slimmes – ‘n koppie wat gekraak het, breek wel later.

Net om die week beter te begin

funny-wedding-photos-4.jpg

funny-wedding-photos-2.jpg

funny-wedding-photos-7.jpg

funny-wedding-photos-14.jpg

funny-wedding-photos-8.jpg

funny-wedding-photos-11.jpg

funny-wedding-photos-6.jpg

Ai ai Meraai

Vandag het ek ‘n kleintjie dood aan mense wat die huwelik as heilige verband verinneweer en verwoes tot blote menslike gedrag. Die media is tans vol van smerige stories oor beloftes en ander onsmaaklike detail wat elke mens eerder vir homself moes hou.

Trou jy, moet jy dit ernstig opneem met jouself en deeglik bewus wees van wat jy nou eintlik doen. Daar is nooit plek vir ander persone binne ‘n huwelik nie, al gooi jy ook watse draaie en gebruik jy watse mooi verduidelikkings.

Die antwoord – as jy nie 100% seker is van jouself binne die huwelik nie, moenie trou nie. Maklik.

Ek het te veel troues gesien waar albei partye gehoop het die huwelik sal beter word soos tyd aangaan. Ai.

Ai meneer

Raampies vol mooi prentjies?

Aan die einde van die troue as al die koek krummels is, die borde gewas en die paartjie lank reeds weg is, hang daar nog die atmosfeer van ‘n bruilof fees in die lug. Skoonmakers was die vloere en haal die laaste tooisels af van die mure. Skoon ruimte vir ‘n volgende droom.

Die fotograaf gaan huis toe en kyk foto vir foto deur die hele dag. Raampies vol onthou (vir mense wat hy skaars ken), word op sy rekenaar skerm beskou, verbeter en veilig gebêre vir later se kyk. ‘n Tydsame proses, wat as dit sonder liefde gedoen word, redelik rampspoedig kan wees, maar daaroor skryf ek later in die jaar. Nou kyk ons na die raampies.

Ek kan nooit uitwerk hoe party fotograwe se breins werk nie. Gewone alledaagse mense lyk soos karakters in drogflieks. Maer mense het skielik trippel kenne, reuse ore waardeur die son pienk en helder skyn, ander het rolle en voue op plekke waar nie eens hul mans mag vat nie. Gompies het geen boude nie – plat niks, bruid het borste uit Hefner se boek en wat doen fotograaf – hy maak seker almal let op na hierdie aspekte van die paartjie in elke foto.

Geen romantiese vonkel in die oog nie, geen vonk tussen twee mense wat sopas getroud is nie. Eerder kry hulle ‘pretty pictures’. Die atmosfeer van die dag bly hang daar in die onthaalsaal en kom nooit uit die fotos uit nie. Dus doen ek ‘n beroep op alle fotograwe daarbuite – klim onder die velle van jou paartjie in en vang die betowering tussen twee mense vas na die beste van jou vermoë.

Ek kry nou die dag hierdie juwele op die net – geniet.

Wat het die fotograaf gedink ?????? Wat op Aarde ?

Slaap

Eish

Gaap

Bly stil of ek sing nie

Die Amerikaners het begin met die ‘Wedding Singer’ konsep waar ‘n sanger deel van die orkes vorm. Maar die sanger sing dan van ‘n voorafopgestelde lys liedjies af. Hy dien ook sommer as tipe van seremoniemeester.

Hier is die sangers nog nie so deel van die troues nie, maar ek het eenkeer een raakgeloop by ‘n troue.

Formidabele dame met hmmm groot inborste. Skarlaken rooi lippe pas by rooi naels pas by rooi rok pas by rooi skoene. Nie net staan sy uit nie, sy staan ook die orkes half toe. Maar haar stem was soos fluweel. En hard. Sy het nie die konsep van agtergrondsang lekker verstaan nie.

Juffrou soek al die aandag op haar. As sy sien jy luister nie, roep sy sommer so in die middel van die lied – ‘jy daar met die funny dassie, bly stil, ek sing.’ Die gaste is skoon oorbluf en klap maar gedwee hande na elke liedjie en pop ryg vir hulle uit.

Ek is nie seker of haar konsert deel van die beplanning was nie, maar niemand het haar aangepraat of stilgemaak nie. Vir ‘n volle uur het die gaste gesit en luister. Nie een het opgestaan vir niks nie. Maar toe pop afklim van haar verhogie af, kry omtrent almal koers. Die mans na die kroeg toe en die vroue in groepies na die toilet.

Die res van die onthaal was normaal. Dit was regtig vreemd, so ‘n konsert in die middel van die onthaal. Sy het tot Cd’s verkoop na die tyd en mans oortuig hulle wil haar handtekening hê.

Kom uit onder daai rok

Hierdie storie het sommer net laas week met my gebeur.

My studente,- wat Troufotografie kursus voltooi het – skiet laas Saterdag hulle prakties. ‘Bruid’ is aangetrek en opgemaak. Studente maal om haar soos bye en skiet uit elke liewe hoek wat hulle kan inkry. So beweeg die hele arsenaal deur die tuin, stop, skiet, loop.

Bruid het ‘n korset tipe rok aan wat met pragtige goue koord vasgeryg word. Die punte hang dan los oor die agterkant van die rok met die groot uitskop onderrok. Regtig mooi. So ook mooi vir my twee katte.

Enter Batman en Friend, my twee katkinders.

Nou van kleins af, was enige tou/koord Friend se dood en word dit met groot fanfare gejaag, gekap, gekou en gepluk. Een sprong en daar sleep bruid nou vir kat se kind agterna soos blikkies agter ‘n troukar aan. En hy klou. Groot gelag en verjaag die ondier met moeite. Koord is effens verwoes, maar ons gaan aan.

Batman sit onder ‘n bos en beloer die affêre . Bruid word gevra om in die rondte te tol sodat rok effens oplig en met die, spring Batman net daar onder rok in en verdwyn in lae en lae tulle.

Chaos – bruid gil en skreeu en trap. Batman raak verlore in paniek en begin teen haar rok se binnekant opklouter. (Gelukkig nie teen haar bene op nie!) Ek vries, want ek moet daai rok betaal as hy verwoes word en veeartse is duur. Die vrou gaan my kat vertrap!

Pluk maar vir rok op en skud kat uit. Heeltyd kliek die studente. Histeriese fotos.

Maar die kwinklsag van die dekade kom so ewe droog uit my engelse bruid se mond:”Get lost Batman, there’s one down there already.”

« Vorige inskrywings