Daar is troues wat selfs die fotograaf en die DJ nie eens geniet nie en glo my, ons is bokke vir troues – wel wie ken jy wat omtrent elke naweek op ‘n troue is ?
Ek het die gasvrou wat die onthaal gedoen het, goed geken. ‘n Pragtige mens met ‘n baie kort humeurtjie aan haar, maar sy het geleer om binnekant toe te ontplof – seker maar ‘n karakter-trek van mense in die restaurant bedryf.
So gaan ons deur die troue, geen haakplekke nie. Bruid sê wat volgende gebeur en almal volg gedwee. Toe slaat ons die onthaal.
Buffet ete – altyd ‘n wenner, laat die tafels kreun. Kos is reg en gasvrou staan stil eenkant gereed om te help, maar bruid keer die honger gaste voor en roep my nader. “Ek soek ‘n duidelik foto van alles op die tafel asseblief.”
Ek voel half soos ‘n aap met al die honger mense wat my aanstaar terwyl ek beetslaai, frikadelle, aspersies en groenboontjies een vir een kiek. Gasvrou vra my vriendelik wat ek nou eintlik doen en in haar oë sien ek al die gevaartekens, maar ek moet klaarmaak.
Laaste foto en hekke skop oop en daai perre verorber die kos.
Later vra bruid of sy aseblief vergrotings kan kry van al die kos. Ek is sprakeloos. Nog nooit so iets gevra nie. Wat wil sy doen ?
“Tel”, sê sy, “ek wil die aspersies tel – ek het betaal vir 50 en daar beter 50 op daai bord gewees het.” Agter ons val ‘n malva poeding dat die stroop teen die muur aftraan.
So ‘n katgeveg (tussen die bruid en die gasvrou) sonder enige woorde het ek nog nooit gesien nie, maar ek is bly om te kan sê: daar was 53 aspersies – het self gaan tel van die foto af.

















