Archive for February, 2008

Aspersies – check !

Daar is troues wat selfs die fotograaf en die DJ nie eens geniet nie en glo my, ons is bokke vir troues – wel wie ken jy wat omtrent elke naweek op ‘n troue is ?

Ek het die gasvrou wat die onthaal gedoen het, goed geken. ‘n Pragtige mens met ‘n baie kort humeurtjie aan haar, maar sy het geleer om binnekant toe te ontplof – seker maar ‘n karakter-trek van mense in die restaurant bedryf.

So gaan ons deur die troue, geen haakplekke nie. Bruid sê wat volgende gebeur en almal volg gedwee. Toe slaat ons die onthaal.

Buffet ete – altyd ‘n wenner, laat die tafels kreun. Kos is reg en gasvrou staan stil eenkant gereed om te help, maar bruid keer die honger gaste voor en roep my nader. “Ek soek ‘n duidelik foto van alles op die tafel asseblief.”

Ek voel half soos ‘n aap met al die honger mense wat my aanstaar terwyl ek beetslaai, frikadelle, aspersies en groenboontjies een vir een kiek. Gasvrou vra my vriendelik wat ek nou eintlik doen en in haar oë sien ek al die gevaartekens, maar ek moet klaarmaak.

Laaste foto en hekke skop oop en daai perre verorber die kos.

Later vra bruid of sy aseblief vergrotings kan kry van al die kos. Ek is sprakeloos. Nog nooit so iets gevra nie. Wat wil sy doen ?

“Tel”, sê sy, “ek wil die aspersies tel – ek het betaal vir 50 en daar beter 50 op daai bord gewees het.” Agter ons val ‘n malva poeding dat die stroop teen die muur aftraan.

So ‘n katgeveg (tussen die bruid en die gasvrou) sonder enige woorde het ek nog nooit gesien nie, maar ek is bly om te kan sê: daar was 53 aspersies – het self gaan tel van die foto af.

Era – 90’s

Kobus en Adele Malan

Kobus & Adele Malan

15 Mei 1999

Alles wat kon, het verkeerd geloop.My hand-ruiker was alles wat ek nie wou hê nie. Ek was 45 minute laat en die weer was sleg – die wind het gewaai, dit was bewolk en koud.

By die onthaal aangekom, het die kroegman nie opgedaag nie.

Gelukkig was die mense ‘n lekker lot en het ons al die foute weggekuier tot die son opgekom het

Era – 90’s

Peiter en Natasha

Peiter en Natasha

23 September 1999

Ons wou ‘n troue hê wat vir ons spesiaal is en het dus gemaak soos ons wil. Ons troukar was soveel pret dat ons bietjie ‘pub crawling’ daarin gedoen het op pad na ons onthaal wat eers die aand was. Al ons vriende het gewag op verskeie plekke en daar is lekker gekuier. Sal more weer met my man trou.

Tarzan en sy Jane

Die troue was ok op die platteland, op een van daai dorpies waar die strate verlate word net na een uur op ‘n Saterdagmiddag. Al wat beweeg is die paar papiere wat mistroostig rondwaai. Bruidspaar kom uit die stad uit hier trou en dan wel by ‘n pragtige dam.

Gaste is beperk tot 7. Ses dames en ‘n jong seun. Nie een van die twee het meer ouers nie, so familie in totaal is weggelaat. Maar die grootte maak nie troue minder gestyleerd nie.  Alles is perfek beplan en aanmekaar gesit. Die term is Boutique troue.

Troue is op die walle van die dam en dan vertrek almal op ‘n skermerkelkie rit op ‘n vlot.

Bruid moet teen ‘n helse helling afkom walle toe. Maklik vir al die gaste gewees. So begin die stappery af. Treetjie vir treetjie stap sy. Pluk rok kort kort uit ‘n bos los, glip en gly, gil en ril. Sy suffer. Sweet naderhand al haar grimering af. En ons is nou eers halfpad af.

Van die romantiese wandeling teen die helling af is nou niks oor nie. Dit word ‘n stryd om oorlewing. Bruid bondel haar rok onder haar arms in en probeer weer. Nou kan sy nie keer en stut met haar hande nie, want hulle klou rok vas. Dan val rok as sy keer vir omval en begin die opbondel weer van voor af. Alle humor gaan verlore.

Bruid besluit om maar oor te gee en gaan sit. Gompie hoor sy naam soos ‘n Tarzan woudkreet uit die bosse opklink, gevolg deur ‘n opdrag – kom hier NOU! Rats draf hy die helling uit, laai vir bruid op sy rug en abba vir haar tot voor die dominees op die wal.

Son sak dramaties en ons ry vlot en suig behaaglik aan designer cocktails. Niemand, maar niemand, sê ‘n enkele woord oor bruid se gehawende ‘entrance’ nie. So asof dit nooit gebeur het nie.

Era – 2000’s inskrywing

liandra
Bruid : Liandra
23 Februarie 2006
My troue was baie romanties en die dag was perfek. Ons is op Swellendam getroud.
Lekker onthaal in die skousaal. My rok is vir my gemaak deur ‘n vriendin.
My fotograaf was Karl, wat hierdie blog skryf. Hello Karl!

Eerste inskrywing – Era 60’s

Cathreen Elizabeth van der Merwe
Bruid: Cathreen Elizabeth van der Merwe
11 September 1963
My rok het ek gehuur en een van my vriendinne het my hare gedoen. Die byekorf styl het ure geneem.
Ons troue was klein en almal is uit plaas toe vir ‘n klein onthaal. My ma het omtrent reggestaan met allerhande boerekos.
Kan nie glo dit is so lank terug nie.

BRUID VAN ELKE DEKADE Kompetisie

Ons kondig aan ons BRUID VAN ELKE DEKADE Kompetisie.

Stuur vir ons jou troufoto, vertel in 50 woorde van jou groot dag en jy kan ‘n splinternuwe digitale foto album van jou troue wen.

Ons soek na die bruid van die 60’s/70’s/80’s/90’s en 2000.

Om foto te stuur – maak jou foto 470×350 pixels @ 72 Dpi (as jy sukkel, vra maar en ek sal laat weet hoe.) Onthou om jou naam en kontakbesonderhede ook in te sluit.

Wenners word gekies deur ons bloggers en die kompetisie sluit 18 Desember 2008.

Stuur jou foto na: karlsteynphotography@vodamail.co.za

Ons wag in spanning

Karl

Gompie in sy swart pak

Mans is net so gesteld op wat hulle dra as vrouens – ons maak nie ‘n bohaai daaroor nie, maar druk gerus jou gompie in iets wat hom heeltemaal vreemd laat voel en kyk hoe hy sukkel om nie sy verloofde aan te vat daaroor nie.

Soos skape ter slagting staan te veel gompies voor die kansel in onderbaadjies, hempies en my gunsteling – die band om die middel. Al bg gemaak uit bruid en of bruidsmeisies se oorskietlap en perfek gepas by die tafeldoeke in die onthaalsaal. Dasse, krawatte en sakboeke – ok van dieselfde materiaal peul oral uit.

Ek doen ‘n ernstige beroep op bruide – moet asseblief nie dat jou gompie moet inpas by jou kleurskema nie. Hy wil ook sexy voel en lyk. Trek hom aan om jou knieë lam te maak en sommer daai eks van hom ok.

Die donker pak is maar die staatmaker. Bree skouers en netjiese hare en gompie sal blom. Donker pak beteken nie vervelig nie en jy kan nogsteeds elemente van jou kleurskema inbring.

Elegant en kleurvol

Vir ‘n meer formele gevoel, laat kleur op gompie tot sy knoopsgatruiker beperk bly.

Swart en wit treffer

Laat selfs die onderbaaidjie weg en kry vir hom net ‘n pragtige das. Jare na jul troue sal hy nog sy troudas en trouskoene van tyd tot tyd aantrek na spesiale geleenthede en as jy jou kaarte reg speel, kan die wittebrood weer gesig wys daarna.

Enkele das

Dink mooi oor strikdasse. Pas dit by jou troue en by die tyd. ‘n Man met ‘n strikdas aan om 4 uur die middag lyk sommer net verspot, tensy hy in die strykkwartet speel.

Volle tux vir aande

Dieselfde geld vir die swaelstert manel. Onthou, niks keer gompie om meer as een uitrusting te hê nie. Dink net hoe spesiaal jy sal voel as gompie jou na die onthaal neem in sy elegante aandpak.

Swaelstert manel

Ons kyk later na ligter en kombinasie pakke. Ook die gevierdie wit pak.

Net om my punt te maak oor gompies wat deel van die tema geword het, kyk gerus hoe hierdie arme man sy bes probeer om onherkenbaar te lyk op die foto. Hy moet weer al sy vriende in die oë kyk hierna.

Siestog

Gompie gesoek

Hierdie week begin ons kyk na gompies – goeies, mooies en wat hulle kan dra na die troue toe. Dit is ‘n algemene gevoel, let wel, gevoel en nie klagte nie – dat gompie niks met die troue uit te waai het nie en net moet opdaag. Ek dink almal is gelukkig met die gevoel.

Tot later. Geniet maar solank die gompie wat meeste vrouens so effens lam laat voel.

Brad Pitt

Boudjies en foutjies

Soms maak selfs fotograwe foute, maar net soms. Maar ek het sommer ‘n grote gemaak met ‘n elle lange reeks nagevolge. Dit was alles die koster van die Engelse kerk se skuld, maar hy sal dit nooit erken nie.

Bruid was rond. Nie vet nie, net rond. Sy trou in ‘n sjampanje kleurige styfpassende rok van rou sy wat vir haar gekoop is in Dubai deur haar tante. Sy lyk regtig goed innie rok ook. Geen blomme, sluiers of enige vreemde goed nie. Net die rok.

Haar pa was laat met haar by die aantrekplek(kan hom ok die skuld gee) en so verloor ons baie tyd om mooi fotos te neem voor die diens. Nou werk ons maar in die tuin van die Kerk terwyl die gemeente na die strykkwartet sit en luister. Bruid pose soos ‘n model en ek skiet vir ‘n vale.

Halfpad met die trap op na die deur toe, roep ek haar tot stilstand. Sit gou vir my op die trapmuurtjie en swaai jou voete af straat se kant toe. Ek was nog nie self op die trappe nie, so ek weet nie die koster polish sy trappe met rooi stoep polish nie. Bruid sit,swaai haar bene af, smile, staan op en stap innie kerk in.

Sovêr die arme vrou stap, vou almal dubbel van die lag. Nie hard nie, maar daai knyp alles vas en byt-eerder-deur-jou-tong-as-dit-moet tipe lag. Hier en daar proes een woes en die golf van histerie trek al agter die bruid aan.

Toe sy voor daai kansel stop, was daar nie ‘n kalm mens in die kerk nie. Haar ronde boudjies sit bloedrooi en volrond agter op haar sy rok. Sy lyk soos ‘n mannetjies bobbejaan in paartyd.

Nou lag die mense hardop en bruid probeer om self te sien wat op haar rok aangaan, maar ek het mos genoem sy is rond. Hoe meer sy probeer kyk, hoe meer lyk dit soos ‘n hond wat sy eie stert jaag. Gille uit die banke. Gelukkig begin bruid ook onbedaarlik lag, klap haarself op die rooi ronde boud en draai haar aandag op die dominees.

Sy het my vergewe, maar ai, daai tante praat vandag nog sleg van my. Ek weet, want my een oor sing elke keer as ek polish sien.

Sê nog net een keer weer vir my Antie

Plattelandse troues is pret. Veral as die gompie en sy familie uit die stad opdaag vir die groot dag. So was die troue op die kleine Weskaapse dorpie waar almal alles van almal se doen en late ken.

Die gompie se ma was sommer lekker sterk in haar menings en sieninge oor die troue, maar sy is met presisie en voorafbepaalde wyse geblok op elke idee wat sy gegee het. Bruid se ma het ‘haar troue’ opgepas soos ‘n leeuwyfie. Sy sal sê en die mans sal doen – so werk dit maar daar. So sê ma en almal spring met bale, lanterns, opvou tafels, geleende tuinstoele, yards en yards stink bruin hessian en boetman bring emmers vol sonneblomme uit die land. Geel bloemiste strikke word ywerig gemaak deur sussie en oral opgeplak.

Maar toe die heldergeel balonne stuk stuk begin hang aan die skuur se mure, verloor gompie se ma al haar oordentlikheid en bars die damwal. Sy pluk ‘n stuk draad wat daar teen die skuurmuur hang af, en pop pop pop begin sy balonne stukkend steek. Zorro van die platteland se missie word amper gestop deur boetman wat met brandwange kom kyk wie hel nou sy harde blaaswerk so op.

“Wat maak antie?”, maar verder kom boetman ok nie, want antie staan nou half wydsbeen op die bale en swaai haar draad swaard gevaarlik naby sy gesig rond . “En sê een van julle bliksems nou weer vir my ANTIE !!” gil sy net voor die baal finaal omval en gompie se ma in die gat teen die stoormuur inval.

Hulle het haar net daar gelos tot die ander stadsmense haar kom uithelp het.

Die troue was heerlik. Ek het gesien hoe gompie se ma kort kort ‘n paar Calmettes wegslaan met wat sy ookal voor haar gehad het.

Wie is jy en waar is my verloofde

Wanneer ‘n man vrou vat, is daar ‘n hele klomp aspekte van haar wat hom erg aanstaan. Persoonlikheid, humor, drome, ideale en hoe sy lyk. Geen redenasies daar nie.

Nou kies man sy vrou want hy hou sommer baie van hoe sy lyk en watse beeld haar voorkoms in sy verbeeldingswêreld optower. Lees gerus wat het gebeur toe bruid besluit om heeltemaal anders te lyk op haar troudag.

Dit was ‘n nat en koue winter in Kaapstad. Klein troue beplan in ‘n asemrowende kapel. Bruid is pragtig – lang blonde hare, blou oë en goed gebou. Gompie is gespierd en vrolik en met my eerste ontmoeting weke voor hul troue sien ek sommer die twee pas pragtig bymekaar.

Gompie soek ‘n brose vroutjie wat hy kan koester en beskerm en bruid lyk 100% reg vir die rol. Maar o wee, toe ek haar leer ken, besef ek die meisie het ander idees.

Gompie sou vir haar wag in sy Polisie’Step out’ uniform en sy sou soos ‘n brose stralende bruid trou beloof aan haar ridder. MAAR sy sou nie as ‘n blond by die kerk opdaag nie. Sy gaan hom verras met ‘n splinternuwe voorkoms.

Wel, my job is fotos neem en nie sielkundige speel nie, maar ek kon sien – hier kom ‘n ding. En ‘n ding is wat ek kom kry by ons troudag ontmoeting.

Lang blonde lokke is weg – op haar kop sit ‘n formele skuinsgesnyde bob – pikswart. Rooi lippe en kandelaar oorbelle. Styfpassende rok met ‘n baie lae rug en bultende borste met ‘n pragtige genotsklofie. Sy was totaal en al onherkenbaar. Selfs haar stap het verander (kon die fyn motreen op haar kale rug ook wees). Toe weet ek, hier kom beslis ‘n ding.

Kerk toe. Geen troumars of sulke goed nie. Paartjie sal saam instap, dus wag gompie op trappies. Bruidskar stop, deur gaan oop en die Beckham Spice Girl look alike klim uit. Gompie is effens ontsenu, maar uiters galant.

Hy herken duidelik nie sy bruid nie, dus stap hy oor na die drywer van die motor en fluister in sy oor terwyl hy sy beste doen om nie na die vreemde verdwaalde bruid te kyk nie. Die drywer se gelag slaan teen die hoogeregshof daarnaby vas en kom kil terug. Gompie se gesig verstar. Hy bly staan soos ‘n pop en staar na bruid wat self nou effens onseker begin lyk.

As fotograaf ontwikkel mens arendsoë. Niks ontgaan my nie en ek sien in sy oë hoe hy wil hardloop. Haar gesig vertel van diep seerkry en teleurstelling, maar mees opvallendste was hul lyftaal. Hy het van gespierde held verander in skrikkerige onseker skoolseun. Binne sekondes. Sy het net ‘n sweep gekort.

Die twee is getroud. Die twee is drie maande later geskei nog voor ek die bestelde vergotings kon aflewer.

Besluit self wat eintlik hier gebeur het.

Wit is uit

Internasionale tendense – nie dat ons ons enigsins ooit aan dit gesteur het nie – is om die wit trourok te verruil vir ‘n kleurvolle uitrusting wat later weer gedra kan word. Dit beteken egter nie dat reenboog bruide ons voorland is nie.

Net soos in musiek, is daar nou ‘n fase van oorkruising – waar meer en meer kleurvolle elemente by die tradisionele wit gevoeg word. Wie het in elke geval besluit bruide moet wit dra? Kan iemand my dalk sê. Terug na die kleur.

Kleur elemente

Klein elemente van kleur is by hierdie rok aangebring. Hierdie tendens is al jare gelde begin deur een van my persoonlike gunsteling ontwerpers – Vera Wang.

Gekleurde strik

Die meer dramatiese inbring van kleur is ook asemrowend:

Sophie

Die meer populêre kleur vir troues blyk rooi te wees. Die skakering van rooi is jou keuse, maar die rok moet ‘n baie grootse styl hê om die nodige effek te kry. ‘n Eenvoudig gesnyde rooi trourok lyk baie gou na jou matriekafskeid rok, so gooi hom suster en slaan almal se asems weg.

Diep rooi rok

Tekstuur is uiters belangrik wanneer kleur jou rok oorheers. Baie kere lyk die finale rok soos ‘n ekstreme pajama pak as jy blink helder materiaal gebruik. Kyk gerus wat ek bedoel.

Pajama rooi materiaal

Ander kleure kan ook gedra word, maar onthou altyd om weg te bly van gladde blink teksture en eenvoudige lang lyne.

Hierdie skepping is gemaak van denim:

Blou

Dra wat jy wil ,maar maak seker jy dra die rok en die rok dra jou nie.

 

Quick poll

Should this blog contain English as well ?

Yes or NO

Please indicate by sending a comment

Gompie – Hou jou in – binne in

Baie bruide en hul gompies besluit om of geen seks te hê voor hul troue nie en as hulle reeds ‘n seksuele verhouding het, om vir ‘n paar weke voor die troue te stop. Vreemde verskynsel, want niks gaan toegroei, verander of beter word nie. Sê wie.

Hierdie is nie ‘n storie wat kinders sal verstaan nie, maar darem ook nie pornografie nie.

Gompie moes sak en pak uittrek drie weke voor die troue. Haar ma sou kom intrek en alles help regkry. Geen klagtes of gedagtes geduld nie.

Ek ontmoet altyd my pare weke voor die tyd om hul fotos te bespreek – wel ek hoop elke professionele fotograaf daarbuite doen dit – so nie, kry een wat dit wel doen. Dan, tydens ons ontmoeting stap ons saam deur die areas wat ons wil gebruik vir die fotos, besoek die kerk en laastens die onthaal area. So weet ons almal wat gaan gebeur op die groot dag. Maar gompie blyk gou brompie te word.

Soos ons stap en gesels, probeer gompie om elke hoek en draai so ‘n ou vatjie in te kry aan sy aanstaande, maar sy gedra haar soos ‘n brose maagd en giggel net terwyl sy sy hand saggies wegdruk. Ek maak of ek niks sien nie.

So worstel ons deur die oggend waar bruid naderhand swaard-kyke vir vroeteljasie begin afvuur. Nou moet ek darem vir gompie hier opkom (geen pun bedoel nie) en sê dat hy hom darem ten alle tye soos ‘n gentleman gedra het, maar sy stywe lippies het naderhand half blouerig begin raak.

Drie weke later kry ek vir gompie voor die konsistorie se deur. Hy lyk goed, wakker en reg vir trou. Ek vra hom sommer so terloops of hy darem sy bruid al sedert gesien het in die weke, maar hy brom net ‘n klaerige nee. Trou, teken register en almal gaan staan buite en wag op die nuwe egpaar. Ons bly in die kerk agter waar bruid uiteindelik vir gompie ‘n stewige soen gee.

Toe gebeur die onvoorspelbare. Bruid sê kliphard – “Kyk gou hoe oulik” en met dìe trek sy ‘n lang rooi nael oor die gompie se gulp lyn. Arme man. Hy sluk, lag en ‘rise to the ocassion.’ Ek staan half verslae en verleë die spul en bekyk.

Bruid beveel vir gompie om dadelik ‘af te blaas’ want so kan hy nie by die deur uit nie en gompie kap terug dat hy nie kan nie sommer net so nie. Net voor die stryery kon lyf kry, wel die troumars op en die egpaar moet uitstap.

Wel, om ‘n lang storie weer kort te kry – gompie is by die deur uit met sy bruid onder hul eie private ‘trompetgeskal’. Kop omhoog is hy deur die confetti, in die troukar in en weg is die twee. Die gaste was half oorbluf met die spoed waarmee hierdie gebeur het en hier en daar het ‘n paar verdwaas hul ongegooide confetti onopmerlik uit hul hande laat val.

Van die kerkdeur tot in die troukar in 8.7 sekondes.

Later, by ons foto geleentheid, was gompie die ene glimlagte en bruid styf onder sy arm ingekruip. Dalk werk die onthouing idee tog vir party mense. Ons sal nooit weet nie.

« Vorige inskrywings