Archive for Januarie, 2008

Klein jakkalsies byt vinnig

Soms dra troues net te veel emosies om vlot te verloop. Klein jakkalsies knaag aan jou tot jy ontplof in ‘n stortvloed van emosies en woorde.

Gooi weg of loop weg

 Van die eerste ontmoetinhg met hierdie paartjie, het ek gevoel iets sit nie lekker met hulle nie. Mense wat op trou staan is gewoonlik krapperig met mekaar soos die groot dag aankom, maar die twee was sommer net vies vir mekaar oor iets. Maar troue gaan voort.

Die troue self was klein en sonder fieterjasies. Die bruid was op tyd en die gompie het op sy plek gewag, maar glimlag was nie deel van die pakket nie. Almal kon sien hulle is nie lus vir mekaar nie.

Die dominees (heeltemaal onbekend aan die paartjie) het begin en gelees. Paartjie staan – nogal ingehaak – en luister. Dominee bid. Dominees begin met formulier. Alles loop soos dit moet. Toe bars die walle.

Die bruid trek haar arm uit syne en draai na die gompie toe. Sy ignoreer die dominees en praat sommer kliphard:”Ek sal nie met jou trou as jy daai pienk leerstel van jou nie wegsmyt nie.” Die hele kerk gil van die lag, maar vir die paartjie is hierdie glad geen grap nie.

Gompie pof op en byt terug “My pienk stel sal ek nie wegsmyt nie.” Hy draai om en soek sy ma in die kerk – “Ma, wil ma my stel hê ?” Ma skud kop en gompie draai terug na bruid toe. “Hy’s weg, kan ons nou klaarmaak?”

Toue is voltrek, paartjie lag die ene tanne en almal kuier lekker.

Wenk vir paartjies op pad kansel toe – Moenie ja sê voor jy weet wat jy jou voor inlaat nie.

Tande troue Video

Wie ken nie ‘n troue nie

funnyweddingpictures29.jpg

Hierdie blog is vir alle bruide (en gomme) wat op trou staan, wat lankal getroud is en diegene wat hulle afneem. 

Deur die eeue heen het mense trou aan mekaar belowe.

Die laaste 8 dekades het hulle begin om fotograwe in te span om hierdie, hul wonderlikste dag, vas te vang vir altyd. Wel voor fotograwe was daar portretskilders, maar hulle het basies een portret gedoen. Vandag kry die paartjie tot en met 1000 fotos van hul groot dag.

Ek het die afgelope tien jaar agter die lens ingeskuif en troues afgeneem. Glo my vry as ek sê – die mense het omtrent idees daar buite van hoe mens nou eintlik trou en wat alles daar afgeneem moet word.

Dan is daar die absolute rampe, wat elkeen probeer vermy. maar nooit kan afweer nie. Deel met ons jou idees, stories, fotos en/of rampe.  Ek self sal idees gee, foto idees uitruil en baie histeriese oomblikke met julle deel.

Die storie van die modder bruid.

Maart is baie gewild onder bruide wat hou van atmosfeer en warm kleuryke troues. So begin hierdie troue dan ook om 4 uur die middag op ‘n klein dorpie in die Weskaap.

Die bome is oortrek met hersfkleure en die tafels kreun onder alles wat vetmaak en sooibrand waarborg. Die paartjie sal trou beloof aan mekaar onder die bome en dan sommer omdraai en aansit vir ‘n rustige aandete. Baie mense (450 gaste) staan al orals rond en loer na die buffet tafel wat gelaai word. Alles is op die oog af heel normaal.

Ek kry die bruid elders en sy is so effe af. Mis haar pa wat twee jaar gelede weggeval het, maar tog is sy heel opgewonde oor wat nou voorlê. Ons begin met haar foto sessie.

Nou meeste bruide weet presies wat hulle wil hê en sy was geen uitsondering nie.

Ons ploeg deur lanings herfsblare en al wat ‘n mens daar is, help strooi en waai aan die blare. Herfs is oral en die fotos lyk asemrowend. Meteens kry bruid ‘n idee en daar gaat ons – begraafplaas toe. Sy wil tog by oorle pappie se steen afgeneem word. Ek ry maar geduldig saam. Daar gekom, sit sy ewe bedees op die grafsteen en ek skiet ‘n paar uiters persoonlike fotos wat ek na die tyd nogal as kunswerke kon sien.

Ek laat bruid agter om bietjie tot verhaal te kom en vertrek solank na die ‘kerk’ area. Daar gekom is almal dadelik reg vir die troue want gewoonlik volg bruid kort op fotograaf se hakke, maar daardie dag kom sy nie uit nie. Veertig lange minute staan tannies en wegsink in die grasperk in op hulle hakkies. Die geruis onder die mense raak naderhand erg en die gompie kom vra of ek weet waar sy kan wees. Ja sê ek, sy het haar pa gaan groet, dalk is sy nog daar. Saan met gom sit ons af terug na die langbome toe.

Niks kon  ons voorberei vir wat ons daar aantref nie.

‘n Arsenaal mans in blou munisipaliteit oorpakke maak ‘n kring om ‘n oop graf en uit die dieptes hoor jy net ‘n boosaardige gegil en gevloek. Kyk ons af in die oop graf en daar ‘hang’ bruid aan die reddingstoue – vuil soos ‘n vark, opgeswelde gesig van al die huil en eintlik totaal en al heel verwilderd. Daar gaan nie vandag getrou word nie, dink ek en staan maar bedeesd terug en sluk lag so goed as wat ek kan – kamera veilig weggesit.

Uiteindelik is bruid uit en in die arms van gompie wat teen die tyd al deur elke emosie is wat hy ken. Sy lyk sleg, haar rok lyk erger en meeste van haar lang aangeplakte naels lê soos konfetti onder in die vetrapte graf. Niemand sê ‘n woord nie.

Dan besluit sy om net so te gaan trou. Was die gesiggie en hande onder ‘n kraan, gooi die vermorste skoene weg en klim die bruidskar saam met haar gompie. Ek val toe maar in en skiet verder – amper van my mees alternatiewe werk tot op datum, maar vir daardie bruid wat kop omhoog kansel toe gestap het in haar modderrok, het ek soveel respek gekry.

Die troue was ‘n fees – almal het geskater deur die nag. Sy het reggekry wat meeste net van droom – sy het ‘n heeltemaal anderse troue gehad,