





Ek strompel gister oor die bruid. Sy het seker ‘n boks Calmettes in en drink hoesstroop net vir die wis en onwis.

Die ma van die bruid was onmoontlik. Haar neus was in alles en nog wat ingedruk. Die kleurskema is op haar aandrang verander, die tafels is van rond na viekantig verander, die onthaalsaal is twee keer geskuif.
Op die dag van die troue, was sy slaggereed om al die aandag op haar te trek. (Wees versigtig wat jy voor wens.)
Ure voor die troue sit ma van die bruid in die badkamer toegesluit – nie tevrede met haar rok nie. Sukkel haar daaruit sodat bruid kan bad. Volgende sneuwel die grimeerkunstenaar – weet nie wat sy doen nie. Bruid val al klaar uitmekaar, maar moeder stoom voort.
Op haar besliste aandrang, sit sy voor in die bruidskar op pad kerk toe. By die kerk dring sy daarop aan om reg voor die bruid en haar pa die kerk binne te stap. Almal wat weet wat aangaan gluur haar aan, maar sy sweef die kerk binne asof dit haar dag is.
Toe kom haar wens waar. ‘n Verlate by wat om die kerkblomme snuffel, besluit haar linker wang lyk smaakliker en gaan sit. Moeder klap en by laat waai. Haar gille word afgemaak as aandag trek en gompie se pa besluit om haar uit die kerk te help. Niemand anders lig ‘n vinger nie.
Sy spartel nog so teen die ‘forced removal’ toe skop anafilakse in en haar gesig swel tot twee keer sy grootte. Dramaties val sy flou en hou op asem haal. Die hele troue stop in sy spore.
Moeder het herstel in die hospitaal, troue is afgehandel in die voorportaal van die onthaalsaal en daar is partyjie gehou tot die vroeë oggend ure.
Net soos almal by die troue, wonder ek ook – wie kan dan ‘n by se dienste bestel?
Die tannie van die catering maatskappy had ‘n kort humeur, skerp tong en sterk voorarms. Personeel word in potlood in haar boeke geksryf, want hulle hou nie lank nie. Hulle sê haar aakligste gewoonte is om potte van die vuur af te klap as die gereg nie reg voorberei is nie.
Ek geniet egter die tannie. Sy stoom en blaas soos ‘n os en vloek hartelik daar waar sy in die kombuis spook met die kos wat oor twee ure moet reg wees. Ek skiet maar die tafels en ander mooi goed in die saal.
Die groenteman arriveer. Potlood uit van agter sy oor, merk hy die lysie wat sy bestel het op die sigaretboks se agterkant af. Wortels, check, beet, check, blomkool… Sy wil nie die kool hê nie want dit lyk en ruik vir haar af. Tannie en groenteman pak mekaar oor ‘n Lexinton buite die saal.
Ondertussen stoot die werkers die groente in die kombuis in en begin kook vir ‘n vale. Buite stry die twee voort oor vrot kool, sleg diens en kinders e skoolfonds wat betaal moet word. Toe tannie na twintig minute in die saal instap, kry sy so ‘n groen skynsel onder haar onderlaag.
In die kombuis kook die vrot kool laat dit klap en die walglike reuk lok brommers van so vêr as Beuafort Wes. Met een rukslag, trek die pot kool deur die lug en verpletter homself teen die muur. Vrot koolsous loop in elke skrefie en gaaitjie beskikbaar in.
Al het hulle ok wat gebruik, die reuk van vrot kool het daai onthaalsaal betrek om nie gou weer te ontsnap nie. Met elke ander tipe skoonmaakmiddel wat hulle probeer, kry die vrot reuk net meer woema en ‘n effense blomgeur by.
Toe bruid ‘n uur later by haar onthaalsaal instap, klap die vrot reuk van kool haar en haar gaste reg in die gesig. Op ‘n laat somersmiddag na ‘n warm broeiende dag, bly blomkool die toppresteerder in onaagename reuke.
Die Voortrekkers het kerke gebou op elke denkbare plek. Klein en intiem met ongelooflike houtwerk. So betree ons die klein klipkerkie met die geelhout banke wat destyds met die hand gemaak is.
Alhoewel die banke pragtig is, is hulle erg ongemaklik en kraak hulle onheilspellend as enige een net effens regskuif. Die kerkie kan twaalf mense per bank inpas, met ‘n middelpaaidjie en dan weer twaalf aan die ander kant ook. Bruid het ‘n klein troue gekies en dus word die linkerkant afgeskort sodat die mense net regs sit.
Heel voor staan die familie se bank, amper reg onder die kansel met net genoeg plek vir die egpaar en ‘n doopfont. Gou is die bank vol en is daar nog net plek vir Pa van die bruid op die punt. Kraak kraak skuif die familie rond en wag vir bruid.
Sy stap triomfanklik kansel toe, verloor haar maagdelike sluier en haak in by gompie. Pa staan bank se kant toe. Almal bly staan sodat prediker die seen op die gebeure kan vra. Amen sê hy en kyk op.
Soos een man gaan gemeente sit.
Met ‘n onheilspellende kraak breek die familie se bank op die grond af en die hele spul val reg agteroor. Pa skop bruid tussen die ruiker en die kansel in en sy pluk gompie van sy voete af. Hy val haar half katswink.
Die bank tref die ry mense agter die familie se skene en daar word kliphard gevloek en geskree. Voor lê die familie half uitasem en kyk vir die dak. Soos hulle tot verhaal kom begin hulle spartel om op te kom. Dit veroorsaak dat die skene van die tweede ry mense nog seerder kry – meer vloek en instruksies word gegil.
Dit het ‘n baie lang tyd gevat voor daar weer troue gehou is. Ma van bruid het haar rugwerwel geskuif, nefie het sy agterkop oopgekap en bloei soos ‘n vark oor almal. Bruid het ‘n nare skraap oor haar nek en gompie het sy enkel erg verstuit.
In die tweede ry is die ongevalle net so erg. Baie bloederige bene, seer enkels en rooi gesigte. ‘n Ware opskop!
Ai, die romantiese aspek van ‘n buitelug troue was en sal altyd vir my wonderlik bly. Die reuk van die aarde, berge wat verkleur soos die ure aanstap, son wat stadig wegsak in die verte, die aandster wat kom loer en groot vure wat flikkers gooi oor al die mense. Pure magic.
By hierdie troue is daar ‘n reuse vuur aangesteek in ‘n sement dammetjie met so ‘n halwe meter hoë muurtjie. Die vlamme lek aan die sterre en vonke dans rooistreep salsas deur die donker. Gaste staan vêr en kuier, lag en skerts.
Soos die reuse vlamme afwaarts sak en die aandlug sy koue vingers kom streel oor die kaal skouers van veral die vroue, begin die kring nader trek om die vuur. Naderhand sit daar ‘n paar koulikes op die muurtjie van die dam. Kuier word daar gekuier en die wyne vloei.
Die eerste waarskuwing was toe een dame se fake leerbaadjie, wat eintlik een of ander plastiek nommer uit China was, skielik begin rook waar sy haar rug op die vuur hou. Jy rook sê, haar date. Sjjjh sê sy, my pa weet nie. Nee man, jy gaan aan die brand slaan, probeer hy weer. Sy wil nog reageer op sy lam ‘pick up line’, toe voel sy hoe haar baadjie spontaan begin smelt.
Met angswekkende gille en amper bomenslike moves, is sy uit die baadjie wat op ‘n hartseer hopie bly lê en rook. Gaste beweeg eerbiedig weer verder weg van die vuur af, maar kort voor lank is die insident vergete en begin mense weer op die muurtjie sit.
Na ‘n wyle kom daar weer ‘n angs kreet. My kamera gil een. Daar op die muur is haar kamera besig om soos in ‘n Dahli slikdery stadig teen die muur af te smelt. Die lang lens wat my vroër so beindruk het, hang soos ‘n olifantslurp. Baie lag en giggel.
Maar einde is het niet, terwyl kamera vrou ‘n rum en coke wegsluk vir die skok, plons die laaste staande stompe op die vuur inmekaar en stuur miljoene rooi vuurvonkies in die lug in. Hier en daar piets een ‘n gas en maak sy klein brandmerkie. Weer gille en skroue. Party ouens doof die brandende kooltjies op nul wederhelftes sommer met hulle drankies. Dit gaan nie goed af nie.
Daar waar ek in die donker klaar loop lag, kom ‘n paar vinnig en baklei baklei verby kar toe. In die verbystorm hoor ek net die man se stem: Volgende keer kan jy tot op jou hoë hakke afbrand, ek sal nie weer help nie.
Tien nee’s vir gompie
The magic of your day, the way you did it and the magic between the two of you – all captured in black and white. Enjoy! Karl






Kom ons handel maar af met die stomme bruid. Na ‘n dag van pure loutering en foltering is sy getroud. Stralend met haar laaang shoot na die troue – almal is gelukkig en tevrede.
Anders as met gewone troues, word daar baie tyd toegelaat tussen die seremonie en die onthaal self, dus het bruid en gompie ‘n uur oor voor hul onthaal begin. Die twee weet nie juis wat om te doen nie en besluit om ‘n ent te gaan ry. Ons spreek af om by die onthaal te ontmoet.
Ses uur word die deur na die onthaalsaal oopgeswaai en die gaste stroom in. Almal kry sitplek en ons wag op die bruidspaar. Halfsewe kom die voorgereg uit en ons wag vir die bruidspaar. Kwart voor agt kom die hoofgereg en nuus vanaf die bruidspaar.
Hulle sit in ongevalle.
Die twee het besluit om in hul troupakkies te gaan melkskommels drink. Klaar daarmee is hulle weer op pad onthaal toe. By die motor gekom, help gompie haar galant in die kar in, maar sy sukkel met haar rok, besluit om weer uit te klim, sit hand op deur en gompie maak deur toe. Duim gebreek.
Nege uur is die onthaal al halfpad klaar toe bruidspaar opdaag. Haar hand in gips, haar gesig dik gehuil en gompie sluip soos ‘n hond.
Die partydjie kry spoed, mense lag en kuier en skerts oor haar ‘gelukkige’ dag. Ek begin aanstaltes maak om te gaan, wag nog net vir die kousband. En ja, bruid het van die stoel afgeval, maar gompie wat teen die tyd al baie paraat rondom sy nuwe vrou was, vang haar galant.
En daar, voor al wat ‘n borg en gas is, spreek bruid die tale en sweer enige vorm van borg af vir die res van haar lewe. My hart bloei vir haar.
Bruid van die geborgde troue het haar seuwees alles verloor by die onthaalsaal, dus kom sy uitgeput, huilerig en erg omgekrap by die haarsalon aan. Daar staan ‘n flambojante mannetjie met pers strepe in sy hare reg met sjampanje en baie opgewonde giggels.
Binne minute lag bruid weer ene tanne. Hare rys op in ‘n baie moderne kapsel. Pers kop mannetjie staan op ‘n oulike klein boksie om op haar kop te kan sien, want hy is erg kort. In sy opgewondenheid stap hy gou om nog ‘n knippie te kry en val van sy boksie af. Bruid se arm word skrams getref.
Trane en snot en nou boonop ‘n arm met ‘n pers kol wat vinnig sprei daarby. Uit by die salon huis toe.
Tuis is alles reg en rustig. Rok hang teen die kas en bad staan en skuim. Bruid kom weer tot besinning en ons ploeg voort. Grimering word netjies aangesit en nou mag bruid nie weer huil nie. Glip in rok in, alles loop volgens plan.
Nou sak drie fotograwe op haar toe. Die rokmaker, haarstilus en grimeerkunstenaar het elkeen sy eie fotograaf gereel. Ek staan maar my plek vol en kry my skote ook in. So werk ons deur die tuin oor die bruggies, deur die rose verby die fontein en ek sien hier kom moeilikheid.
Bruid is naderhand papnat gesweet en heel verward deur die baie fotograwe. Op haar pers arm, het een verskuil room aangesmeer wat nou lieflike lang beige strepe maak op haar rok. Een kyk en die maskare maak klein swart druppels op die rok se bostuk.
Nou is ek self al lekker gatvol vir al die drama. Die Januarie son bak ons amper moer toe en almal se nerwe word nou dun. Uit die rok in die badkamer in. My hart klem vas as ek dink ons is nog nie eens by die deur uit kerk toe nie. Min weet enige van ons wat nog voorlê.
Geborgde troue – baie mense met baie opinies. Bruid luister stil stil na almal em kyk hoe haar troue waaroor sy eintlik geen sê het, voor haar oë vorm kry.
Nee wat, sy kon darem beter gedoen het met daai onder borde, hoe gaan my kos daarop lyk? Die blomme lyk of iemand dit alreeds omgestamp en toe net weer regopgesukkel het. Die draperings lyk soos ‘n goedkoop bordeel – waar is sy klas? Wie het hierdie tafel op my tafel se plek kom neersit! Ek kan nie so werk nie! Die spulletjie gaan woes tekere – so in die binnensmondse wyse waarop die bedryf mekaar beledig.
Bruid gryp meteens ‘n wit tefeldoek vas en pluk hard. Blomme, borde, glase en snuisterye reen op die vloer neer. Die meeste van die mense spring van die skrik, maar die meer gesoutes stap rustig uit en steek sigarette op. Bruid het gepop, waarsku hulle mense wat vol dreef by die onthaalsaal wil ingaan. O, dan wag ons ook maar ‘n bietjie.
Minute later kom die koordineerder met ‘n sopnat gehuilde bruid aan die arm by die deur uit. Paai paai en koer koer word sy in die motor gelaai en iemand ry met haar daar weg.
Koordineerder trek haar bolla stywer vas en stryk weer aan saal toe. Ek moet regtig ‘n ander job kry, swets sy in die verygaan.
Ek het die laaste twee maande vyf troues geskiet. Een van hulle vir ‘n bekende tydskrif wat een van hul personeellede se troue geborg het. Nou moet ek versigtig vertel want ek wil weer werk vir hierdie publikasie.
Geborgde troues kan maklik ‘n nagmerrie word deurdat elkeen wat sy deeltjie geborg het, dit beskou as die belangrikste bydrae van die dag. So eindig ek op met ‘n bruid, drie art directors, twee bloemiste, ‘n cater maatskappy wat tafels dek, een wat kos maak, twee wat interiors doen en ‘n bakker wat troukoeke doen.
Al die bogenoemde ontmoet ek twee ure voor die seremonie by die onthaal saal. Bruid se senuwees is flenters. Nog nie ‘n plaksel grimering aan nie en die hare hang toutjies in die hitte. Kry haar eers daar weg om klaar te maak.
Pak die skare mense wat nou almal vir my wil verduidelik watse fotos hulle nou eintlik van hul produkte wil hê. Tydskrif tannies (twee van hulle) is in die ander oor besig om te verduidelik hoe die artikel se aanslag verander het sedert ons produksie vergadering twee maande tevore. In my agterkop wonder ek hoekom ek nie al lankal verslaafd is aan calmettes nie en oorweeg om ‘n pak te loop koop – nie vir my nie, maar vir die kwetterende warboel wat al agter my aanloop soos ek toerusting begin aflaai.
Nou, een van my nuwejaarsvernemens was om meer geduldig te wees met mense, maar na twintig minute in die shoot in, bars my nate oop soos ‘n granaat en daar peul pure gif uit. STOP! Die spulletjie doen dit. Soos ‘n koshuismoeder jaag ek hulle uiteen. Loop staan by julle produkte en bly stil!
‘n Uur later wrap ek die shoot en almal is gelukkig op die oppervlakte, maar agter hulle oë sien ek die skinder oor die bossy fotograaf. Verskonings is gevra en besigheidskaarte is uitgeruil.
Toe ek laas week die images begin uitstuur, kom daar ‘n vloedgolf van bedankings – hulle is uiters ingenome met my fotos. Maar by elke mail is daar ook ‘n klein stukkie wat sê: Ons weet nie hoe jy dit uitgehou het met die ander mense nie! Bid jou aan.
By bruid aangekom is daar egter regte drama, maar die is more se storie.
Ek het ondertussen my nuwe blog vir voornemende bruide begin.
Gaan loer gerus by: http://weddingphotographersa.wordpress.com/
Net toe julle dink ek het pad gevat!
VOORSPOED VIR 2009 VIR ALMAL.
Ek is Maandag weer op my pos met ‘n nuwe konsep vir hierdie blog, baie nuus, wenke en sommer net lekker lag vir al die trougedoentes daar buite.
Karl