Appelkosie

Klein dingetjies kan reuse impak hê op jou troue. Ouma se suiker appelkosies was gompie se doodsteek - hy kon ‘n sak vol opeet. Dus reel bruid dat daar ‘n sakkie by sy aantrekplek vir hom gesit word. Groot vreugde en baie liefderik eet hy terwyl hy aantrek.

Meteens kreun die ou erg. Spoeg in sy hand en staar verward na die halwe voortand wat vir hom teruggloer vanuit sy handpalm. Storm spieel toe. Daar sit die boonste helfte van sy voortand nog. Gompie slaat erge paniek - so kan hy onmoontlik gaan staan en trou.

Prakties - soos mans maar is, moet die tand nou ten alle koste reggemaak word. Hotsuff, besluit gompie en sy helpers. (Die wat nie Hotstuff ken nie, dis daai gom wat binne sekondes set en klou vir dood.) Nou staan een met ‘n haardroër en blaas in gompie se mond in om dinge droog te kry. Gompoie se oë traan, sy kleintongetjie word erg verbrand en hy kan nie eens kla nie.

Oom sit solank gom op stukkie tand. Met sy dik wortel vingers probeer oom nou tand op sy plek plak. Glip en daar sit tand nou aan sy vinger vas. Pluk af, krap skoon en probeer weer.

Ondertussen moet gompie weer geblaas word want hy kwyl nou soos ‘n klein hondjie. Tweede poging om tand terug te plak - nou sit een kant van gompie se lippe aan mekaar vas en stuk tand lê op die vloer. Duidelik gaan Hotstuff nie werk nie.

Sukkel lippe los. Nee sê oom, Vasvat is die ding. En so begin hy sommer meng ook. Druk die paste aan die stuk tand vas. Gompie kreun nou erg want die haardroër het sy tandvleise al bloedrooi gebrand. Gee, ek sal self sê gompie en vat vir Vasvat tand goed vas. Met een druk, druk hy vir tand vas en hou vir lewe en dood tot die vasvat sy ding doen.

En sowaar, daar sit tand weer. Net een probleem, gompie het tand verkeerdom geplak. Maar nou kan dit nie anders nie - hy is so met die agterstevoor tand getroud.

Gompie bars uit

Gompies is berug vir uitstel, dus word hul trouklere gewoonlik vir hulle gekoop, reggesit en soms sommer aangetrek ook. Net so was dit met hierdie gompie.

Bruid het ses maande voor die troue vir gompie gemaak pas tot hulle ‘n perfekte pak klere gekry het. Hemp, das en skoene en gompie kon relax. Soos die weke aangaan, begin gompie se senuwees knaag en hy vind sy uitkoms in bier en snacks.

Dag van die troue word pak uitgesit en alles is gereed. Halfuur voor kerk spring gompie deur die stort en in die pak in, maar o wee - hy kry nie vir broek toe nie. Te skaam om te sê, sukkel hy maar vir gulp op met behulp van ‘n draad hanger, glip vir knoop deur en sit sy gordel aan.

Toe dit by skoene kom, besef hy dat hy nie kan sit en sy skoene vasmaak nie - sy asem jaag en hy snak erg. Vra maar sy broer wat hom lag lag uithelp. Nou staan gompie kierts regop en lyk al hoe valer om die kiewe. Sy rug pyn, sy pens druk sy longe toe en hy is nog nie eens by die kerk nie.

In die motor op pad soontoe, gee broek se gatnaat die gees. Die skeur begin heel onder en loop tot amper bo by se belt. Chaos. Stop net daar en spring uit die kar uit. Nou moet almal help kyk of die baadjie die skeur toehang, maar die nuus is teleurstellend. Mens sien net rooi onderbroek.

Boer maak ‘n plan en net daar ruil hy en strooijonker onderbroeke, want sien, strooi het dieselfde kleur onderbroek as die gompie se pak aan. Nou is skeur nie so opsigtelik nie. So is gompie gekerk.

By die onthaal het strooijonker sy mikrofoon kans waargeneem om sy onderbroek terug te vra. Gaste was effens verbaas, maar toe gompie sy buiging maak om sy probleem te wys, was daar gelag en geskerts vir lank.

Strooimeisie strooi

Ons bly maar by die dames wat ons bruide so mooi help. Hierdie een het regtig ‘n nagmerrie dag gehad met erge gevolge.

Die troue was op ‘n vlot op ‘n dam. Bruid trek in een van die gaste rondawels aan en strooimeisie moet help. Alles is te wonderlik. Strooimeisie gaan uit haar pad om dit vir bruid lekker te maak. Trourok hang teen die kas, skoene staan gereed.

Terwyl bruid in ‘n skuimbad ronddryf, pak strooi solank ‘n lekker vuur in die kaggel aan. Sommer net vir atmosfeer, want dit is erg warm. Wat sy nie besef nie, is dat die skoorsteen se trek toegemaak is vir die somer. Binne minute is die kamer so dik van die rook dat jy niks kan sien nie.

Bruid gil uit die bad dat sy brand ruik. Onstpan jy sê strooi, dis net die kaggel. Rook borrel nou by die vensters uit en vlamme begin lek aan die kunsblomme op die kaggel rak. Strooi besluit om vensters en deure oop te gooi. Fout. Suurstof stroom in.

Kort voor lank slaan vlamme uit deur die grasdak. Mense kom aangestorm om te help. Bruid gil soos maervark innie badkamer. Strooi staan verslae en kyk hoe die hut brand. ‘n Oom met ‘n groot bakkie, hak ‘n ketting aan die badkamer se klein staalvenster en pluk ‘n gat in die muur. Bruid strompel net in haar handdoek uit.

Twintig minute later is alles verby en trek daar net bolle rook uit die gebluste hut. Verslae sit bruid en strooi op ‘n bankie en rook maar ‘n sigaret.

Later het ons troue gehou - bruid het goed gelyk in strooimeisie se rok, wat deur die genade nog in haar kar was. Almal sal hierdie troue nog lank onthou.

Strooimeisie

Bruide kies gewoonlik vrouens naby aan hulle om hul te help op hul troudag. Die engelse praat van matron of Honour - ons praat van strooimeisie. Hoe dit ookal syn, die strooimeisie het ‘n belangrike job en dit is om te sorg dat bruid kalm bly en op tyd klaar kry.

Nou is daar mos maar die uitsonderings. Met my aankoms by die aantrekplek van die bruid, vind ek die deur toe. Binne is ‘n hewige argument aan die gang, dus wag ek maar geduldig dat hulle klaarkry. Maar wie ookal so tekere gaan daar binne bou net meer spoed op.

Meteens word die argument gestaak nadat ‘n glasvoorwerp deur die venster agter my bars. ‘n Laaang stilte volg en net daarna ‘n histeriese gelag. Klop maar en die deur gaan oop. Daar staan bruid, nog in haar jeans en T hemp, nie ‘n smeersel grimering op haar gesig nie. Ek groet vriendelik, maar die twee vrouens lag nog te veel om iets uit te kry.

So lag lag, stap bruid verby my, soen my op die wang, bedank my dat ek gekom het en klim in haar kar. Weg is sy. Strooimeise begin die kamer opruim en bondel sommer trourok in ‘n swart sak. Sê nie ‘n woord nie.

Toe alles klaar opgeruim is, stap sy ook aan kar toe. Nou moet ek darem uitvind wat hier aan die gang is. Al wat strooimesie sê: Sy sou die fout van haar lewe gemaak het en ek het haar gekeer. Totsiens. Weg is sy ok.

Ek het nooit weer van bruid gehoor nie. Haar ma het gebel om te hoor of hulle my iets skuld siende dat ek nie opgedaag het by die kerk nie. Verbluf sê ek maar, nee niks nie tannie.

Tot vandag toe spook daai bruid by my - sal seker nooit weet wat agter daai toe deur gebeur het nie.

Bruids meisies hou selde hul rokke

« Older entries